Kaapstad-waterkrisis: Waterdraers kan verligting bring

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, tydens die nuuskonferensie. Foto: Tamaryn Africa/ANA

ʼn Grondwateropname wat in opdrag van die Stad Kaapstad uitgevoer is, het vasgestel die waterdraers wat gevind is, kan meer water lewer as wat aanvanklik verwag is.

“Vandag wil ons die nuus deel dat ons 150 miljoen liter water ʼn dag kan kry,” het Patricia de Lille, die stad se burgemeester, Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie by die Burgersentrum gesê.

Volgens De Lille is sleutelpunte vir boorwerk geïdentifiseer, groot boormaatskappye van oor die land gemobiliseer en sal sy teen die einde van die week die media op ʼn toer deur die Kaapse Vlakte se waterdraer neem om te wys waar die boorwerk gaan plaasvind.

“Ons het planne gereed oor hoe ons die water gaan aanvul nadat dit uit die waterdraers gehaal is. Ons moet meer geld gebruik om vir die projekte te betaal en daarom het ons die droogtewaterheffing bekend gestel, waarop ons 45 000 kommentare van die publiek ontvang het.”

De Lille het gesê dit wil voorkom of daar ʼn gebrek aan behoorlike inligting aan die publiek is en het herhaal dat nie almal deur die waterheffings geraak gaan word nie, maar slegs 464 216 uit die 700 000 huishoudings. Uit die 464 216 huishoudings gaan slegs 52 510 meer as R150 ʼn maand betaal, terwyl die meerderheid minder as R47 ʼn maand sal moet opdok.

“Ons bly daartoe verbind om die las op inwoners te verminder en seker te maak hulle ontvang gehaltedienste,” het sy gesê.

De Lille het bygevoeg vooruitskattings dui daarop dat “dag zero” vervroeg is na 22 April, waar dit in Desember op drie weke vervroeg is na 29 April 2018, weens hoë waterverbruik tydens die feestyd. “Dag zero” is die dag wat alle krane in die stad toegedraai sal word en mense by ongeveer 200 persele oor die skiereiland heen sal moet toustaan vir water.

Sy het gesê voorlopige bepalings wys dat die Kaapse Vlakte-waterdraer 80 miljoen liter water ʼn dag kan lewer, die Tafelberg-waterdraer 40 miljoen liter ʼn dag en die Atlantis-waterdraer 30 miljoen liter ʼn dag.

De Lille het gesê sulke omvattende maatreëls is nog nooit voorheen ingestel nie en het beklemtoon dat die prosesse die verantwoordelike gebruik van grondwater sal verseker.

“Dié stappe is nodig om Kaapstad deur die droogte te dra en word op ʼn omgewingsensitiewe benadering gegrond om volhoubare wateronttrekking te verseker. Dit sal verseker dat generasies Kapenaars nog voordeel uit grondwater sal trek,” het sy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Dit verstom my net dat die mense tot op nr 99 gewag het voordat hulle met planne vorendag kom. Hoe lank al het hulle geweet dat ons damme loop droog. Ek spaar water sover as moontlik en moet nou deel van die heffing betaal, maar diegene wat op ander plekke bly wie se eiendomme nie waardevol genoeg is nie, mag motors was, water loop in die strate af, en hulle deel nie in die heffing nie. Dit is mos onregverdig, of hoe het ek dit?

Sak

Hoeveel kos n boorgat sink en toerus dan? Hoeveel boorgate wil julle boor?

Julle heffings gaan die verbruikers n total van +/- R325 miljoen rand n jaar uit die sak jaag. Klink vir my so bietjie baie. Is dit nie maar n geldmaak storie vir die Stad Kaapstad nie?

E.K. die eerste

Mense moet tog nou nie weer kla oor die waterheffings nie. Dis per MAAND – wat kos een 500ml botteltjie water jou? En mense koop dit sonder kla selfs al was daar volop kraanwater want dis mos nou mode! So ja, dis nou op die tippie en al daai dinge, maar hopelik sal mense nou begin besef SA is basies ‘n land wat in elk geval nie oorloop van water (in vergelyke met party ander lande), dis hoe dit is en waardeer dat julle wel water het en bespaar.

Helene

Ek bly liewers stil, en gaan blaas stoom af op ‘n ander manier!

jaco

en wat gebeur as daardie ondergrondse waterdraers eendag leeg is? daar was klaar n ontsoutingsplan aan die kaapse stadsraad voorgelê. dit sou die kaapse waterprobleem vinnig so te sê oplos en so ook nie baie duur gewees het nie. hierdie plan is egter summier afgeskiet omdat die maatskappy wat die voorlegging gemaak het, nie behoorlik “BEE-compliant” is nie en ook nie regstellende aksie reg toepas nie. So mense kan eerder maar aansukkel met waterprobleme en leë krane, totdat daar nou eendag ‘n tender toegeken word aan ‘n besigheid waar al die “regte” velkleur-dinge bestaan. Miljoene rande meer moet ook nou… Lees meer »