Kaapstad-waterkrisis: Waterdraers kan verligting bring

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, tydens die nuuskonferensie. Foto: Tamaryn Africa/ANA

ʼn Grondwateropname wat in opdrag van die Stad Kaapstad uitgevoer is, het vasgestel die waterdraers wat gevind is, kan meer water lewer as wat aanvanklik verwag is.

“Vandag wil ons die nuus deel dat ons 150 miljoen liter water ʼn dag kan kry,” het Patricia de Lille, die stad se burgemeester, Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie by die Burgersentrum gesê.

Volgens De Lille is sleutelpunte vir boorwerk geïdentifiseer, groot boormaatskappye van oor die land gemobiliseer en sal sy teen die einde van die week die media op ʼn toer deur die Kaapse Vlakte se waterdraer neem om te wys waar die boorwerk gaan plaasvind.

“Ons het planne gereed oor hoe ons die water gaan aanvul nadat dit uit die waterdraers gehaal is. Ons moet meer geld gebruik om vir die projekte te betaal en daarom het ons die droogtewaterheffing bekend gestel, waarop ons 45 000 kommentare van die publiek ontvang het.”

De Lille het gesê dit wil voorkom of daar ʼn gebrek aan behoorlike inligting aan die publiek is en het herhaal dat nie almal deur die waterheffings geraak gaan word nie, maar slegs 464 216 uit die 700 000 huishoudings. Uit die 464 216 huishoudings gaan slegs 52 510 meer as R150 ʼn maand betaal, terwyl die meerderheid minder as R47 ʼn maand sal moet opdok.

“Ons bly daartoe verbind om die las op inwoners te verminder en seker te maak hulle ontvang gehaltedienste,” het sy gesê.

De Lille het bygevoeg vooruitskattings dui daarop dat “dag zero” vervroeg is na 22 April, waar dit in Desember op drie weke vervroeg is na 29 April 2018, weens hoë waterverbruik tydens die feestyd. “Dag zero” is die dag wat alle krane in die stad toegedraai sal word en mense by ongeveer 200 persele oor die skiereiland heen sal moet toustaan vir water.

Sy het gesê voorlopige bepalings wys dat die Kaapse Vlakte-waterdraer 80 miljoen liter water ʼn dag kan lewer, die Tafelberg-waterdraer 40 miljoen liter ʼn dag en die Atlantis-waterdraer 30 miljoen liter ʼn dag.

De Lille het gesê sulke omvattende maatreëls is nog nooit voorheen ingestel nie en het beklemtoon dat die prosesse die verantwoordelike gebruik van grondwater sal verseker.

“Dié stappe is nodig om Kaapstad deur die droogte te dra en word op ʼn omgewingsensitiewe benadering gegrond om volhoubare wateronttrekking te verseker. Dit sal verseker dat generasies Kapenaars nog voordeel uit grondwater sal trek,” het sy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sandra ·

Dit verstom my net dat die mense tot op nr 99 gewag het voordat hulle met planne vorendag kom. Hoe lank al het hulle geweet dat ons damme loop droog. Ek spaar water sover as moontlik en moet nou deel van die heffing betaal, maar diegene wat op ander plekke bly wie se eiendomme nie waardevol genoeg is nie, mag motors was, water loop in die strate af, en hulle deel nie in die heffing nie. Dit is mos onregverdig, of hoe het ek dit?

Antoinette ·

Hulle het dit al 20 jaar terug geweet. Nou is dit opskudding en ons vrek van die dors.

Sak ·

Hoeveel kos n boorgat sink en toerus dan? Hoeveel boorgate wil julle boor?

Julle heffings gaan die verbruikers n total van +/- R325 miljoen rand n jaar uit die sak jaag. Klink vir my so bietjie baie. Is dit nie maar n geldmaak storie vir die Stad Kaapstad nie?

E.K. die eerste ·

Mense moet tog nou nie weer kla oor die waterheffings nie. Dis per MAAND – wat kos een 500ml botteltjie water jou? En mense koop dit sonder kla selfs al was daar volop kraanwater want dis mos nou mode! So ja, dis nou op die tippie en al daai dinge, maar hopelik sal mense nou begin besef SA is basies ‘n land wat in elk geval nie oorloop van water (in vergelyke met party ander lande), dis hoe dit is en waardeer dat julle wel water het en bespaar.

DC ·

Jou bankrekening loop seker oor ne. Praat vir jouself, nie vir ander wat dit nie kan bekostig nie. Selfsugtige hoender !

Helene ·

Ek bly liewers stil, en gaan blaas stoom af op ‘n ander manier!

jaco ·

en wat gebeur as daardie ondergrondse waterdraers eendag leeg is?
daar was klaar n ontsoutingsplan aan die kaapse stadsraad voorgelê. dit sou die kaapse waterprobleem vinnig so te sê oplos en so ook nie baie duur gewees het nie. hierdie plan is egter summier afgeskiet omdat die maatskappy wat die voorlegging gemaak het, nie behoorlik “BEE-compliant” is nie en ook nie regstellende aksie reg toepas nie. So mense kan eerder maar aansukkel met waterprobleme en leë krane, totdat daar nou eendag ‘n tender toegeken word aan ‘n besigheid waar al die “regte” velkleur-dinge bestaan. Miljoene rande meer moet ook nou aan ontginning van skaars groundwater bestee word, net sodat tenderaars met die “regte” velkleur darem die werk kry.
As dit is hoe rigied die DA regstellende aksie en BEE toepas, dan sidder ek vir hoe die Kaap onder ANC beheer sou sukkel…

Wonder ·

Ek wonder of al die besluitnemers oor verhoogde tariewe ook die verhoogde tarief gaan betaal. Dit is belaglik en maak die mens wat die erns van die situasie besef net nog meer negatief oor die nuwe politieke speelbal genaamd water. Daar was besighede wat betrokke wou raak en geen winsbejag maar kostes moet gedek word. Hierdie besigheid se aanbod is verwerp. Hulle voldoen nie aan BEE. Was ‘n hele gesprek oor hierdie aanbod op Bokradio 2017. Wil hulle die inwoners help of is dit net nog ‘n metode van geldmaak. Hierdie komitee hulle skaam en hulle foute erken.

CY ·

Ons kan maar weet daardie heffing gaan gebeur, maak nie saak hoeveel teenkanting hulle kry nie. Ten minste is die ANC openlik korrup…….
So what dat nie die hele 700 000 huishoudings geraak gaan word nie, dis eintlik nog erger, maw ons klein handjie vol wat weereens als moet betaal

Hans ·

Ja hul wil die minderheid uit die land hê, tog is dit nou weer die minderheid wat die meerderheid dra of hul nou wil of nie. E.K die eerste gaan betaal jy dan vir die gepupel en los die ander uit. Dit is nou ook weer die wat die water beperkings na gekom het en spaarsamig was ens wat moet opdok vir die wat nie n duit om gee nie. Mens raak maar baie mismoedig met die trant van sake tog tel ons net ons koppe op en gaan voort.

Carina ·

Ek sal graag wil weet hoe hulle besluit het watter 700000 huishoudings nou juis hiervoor gaan moet betaal. Daar is definitief miljoene meer huishoudings in die Weskaap/Boland omgewing waar die waterskaarste is. As een moet betaal, moet almal, of niemand.
En dan ook, as hulle dan nou ons kosbare grondwater gaan trek om ‘n ekstra 150miljoen liter per dag te kan lewer, beteken dit nog steeds dat ons teen April gaan droog loop? Iets maak nie sin nie.
En dis definitief nie nou die tyd om te dink aan BEE snert nie. Hier moet nou so gou moontlik opgetree word om water in die hande te kry, maak nie saak hoe of deur wie nie. As daar iemand is wat die see kan ontsout en dit vinnig en goedkoop doen, laat hy dit doen. Daar is nie tyd vir baklei oor nonsens nie.
En ek stel voor hulle draai eerste die plakkerskampe se water toe – daar word daagliks derduisende liters gemors maar niemand gee om nie. Kyk dan hoe vinnig verlaag daardie 500mil liter per dag se water gebruik!!

John ·

En as De Lille nie haar sin kry nie, sal sy by die ANC aansluit. Kyk maar. Sy het te veel mag en te min goeie oordeel aan die dag gele. Zille is ook te blameer wat die provinsie betref. Boere wou glo die damme skoon sleep en die slik as betaling he. Dit is hulle geweier en sou dit weer baie reen dan is daar bloot panne wat gou leeg raak… en daar gaan ons alweer…. watersnood, visvrektes, swak oeste, preke, ordonnansies… en geen planne vir ‘n langtermyn oplossing nie.

Sarie ·

Is daar nie ‘n beter woord vir ‘aquifer’ as ‘waterdraer’ nie …?

E.K. die eerste ·

Jis jul kan kerm en dit oor relatief klein bedrag per maand. Hoeveel kos sigarette? Of ‘n sespak? Of die botteljies water? PER MAAND. Ja dis nie lekker om te moet betaal en vir al die ou vingerwysers hier ek rol nie in die geld maar dis nou ‘n noodgeval en dis nou dit. Kom oor dit en bespaar waar jul kan.

Therese van Schalkwyk ·

E.K. die eerste

Lees gerus in die finansiële afdeling van News24 die stuk getiteld: “Take Cape Town water crisis to public protector- “.
Adv. Paul Hoffman SC se ingeligte mening oor hierdie kwessie oortuig jou moontlik om van wysie te verander.

Boerseun ·

Hoekom gebruik julle nie die water uit golfbane en sport gronde se boorgate nie. Wat is belangrikker, golf en krieket of mense se lewens. Julle weet boorgate en aquifers droog ook op ne?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.