Kaapstad-waterkrisis: Waterverbruik bereik rekord-laagtepunt

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Dag Zero, die dag waarop die Stad Kaapstad se krane leegloop en inwoners tou sal moet staan vir water, se datum is weereens aangeskuif.

Ian Neilson, die adjunkburgemeester van Kaapstad, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê Dag Zero is na 4 Junie aangeskuif te danke aan die volgehoue afname van water in die landbouverbruik en ook Kapenaars se pogings om waterverbruik te verminder.

“Ons is amper daar. Ons moet nou kyk hoe laag ons kan gaan om te verseker dat ons watervoorraad so ver moontlik in die wintermaande in strek. Dit beteken waterverbruik moet tot 450 miljoen liter water ʼn dag beperk word wat 50 liter ʼn dag per persoon is,” het Neilson gesê.

Hy het gesê waterverbruik is die afgelope week tot 526 miljoen liter water ʼn dag verlaag. “Dit is die eerste keer dat die weeklikse gemiddelde waterverbruik onder 550 miljoen liter ʼn dag was.”

Volgens Neilson staan die streek se damvlakke op 24,9% in vergelyking met die 36,1% waarop dit verlede jaar dié tyd gestaan het. In 2016 was damvlakke op 43,3%.

Neilson het gesê ʼn jaar gelede was die gemiddelde aanvraag vir water 830 miljoen liter ʼn dag terwyl damvlakke weekliks met 1,9% afgeneem het. In 2016 was die aanvraag meer as een miljard liter ʼn dag met ʼn weeklikse vermindering van 2,1% in damvlakke.

“As ons damvlakke nou teen die tempo van vorige jare gedaal het, sou Dag Zero ons voor die einde van Maart getref het. Ons damvlakke het met 0,6% oor die afgelope week gedaal,” het hy gesê.

“Dit is duidelik dat ons dit kan doen as ons almal in die stad saamstaan. As ons aanhou om as ʼn span saam te werk en waterverbruik tot 450 miljoen liter ʼn dag verminder, sal ons bekend word as een van die sterkste stede in die wêreld.”

Die stad het sedert 1 Februarie vlak 6B-waterbeperkings en -tariewe ingestel in ʼn poging om selfs meer water te bespaar. “Dié tariewe bly gekoppel aan verbruik: Hoe meer water jy verbruik, hoe meer gaan jy betaal. Die stad maak nie ʼn wins op die verkoop van water nie. Die nuwe tariewe is bloot deel van die stad se pogings om Dag Zero vry te spring en om finansiële stabiliteit te vestig om water tydens só ʼn tydperk te voorsien,” het hy gesê.

Vir ʼn volledige uiteensetting oor die nuwe waterbeperkings en -tariewe, besoek die stad se amptelike webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.