Kaapstad wil appèlhof toe oor grondbesettings

‘n Sinkhuisie wat deur grondbesetters opgerig is. (Argieffoto)

Die Stad Kaapstad oorweeg dit om die appèlhof te nader nadat regters Shehnaz Meer en Rosheni Allie die stad se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn vroeëre hofbeslissing oor grondbesettings van die hand gewys het.

Die Menseregtekommissie (MRK) en die EFF het die stad hof toe gesleep oor die kwessie waarna die hof die metro verbied het om enige nedersettings te verwoes of mense van grond af te sit terwyl die land in ʼn nasionale ramptoestand is – tensy hy ʼn hofbevel bekom.

Indien sodanige uitsetting wel ingevolge ʼn hofbevel gedoen word, moet dit só gedoen word dat die waardigheid van die geraakte mense gerespekteer en hul besittings beskerm word. Die hof het die stad voorts beveel om boumateriaal terug te lewer, asook om R2 000 aan elke geraakte persoon te betaal.

Die stad se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak is Donderdag van die hand gewys.

“Ons kan bloot nie duld dat onregmatige grondbesettings die stad oorneem ná die hooggeregshof se bevel wat die stad dwing om ʼn hofbevel om onbewoonde strukture, met ander woorde strukture wat nie as huise beskou word nie, af te breek nie,” het Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, gesê.

Plato sê die reg tot teen-spoliasie is belangrik vir die stad se pogings om sy grond te beskerm. Tyd speel ʼn groot rol wanneer onbewoonde strukture sonder ʼn hofbevel en ingevolge gemenereg tydens grondbesettings verwyder word, veral wanneer die georganiseerde aard van grondbesettings in ag geneem word.

Vir uitsettings en die afbreek van bewoonde strukture word hofbevele ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (PIE) bekom.

Die MRK se hoofaansoek word aanstaande week aangehoor en vra die hof om teen-spoliasie onregmatig te laat verklaar, asook dat die gemenereg daaroor gewysig moet word.

“Dié gevaarlike presedent gaan nie net ʼn ernstige uitwerking op die stad se vermoë hê om openbare grond te beskerm nie, maar ook op die regte van enige grondeienaar om dit te doen,” het Plato gesê.

Hy het gesê die stad gaan nou begin voorberei om die appèlhof te petisioneer.

Hy sê nes alle ander stede in die land het Kaapstad ʼn teen-grondbesettingseenheid wat in die stad se geval jaarliks 15 000 onwettig geboude strukture moet hanteer.

Plato sê weens die onhoudbare wetgewing oor die ramptoestand wat steeds geld en ook ʼn uitwerking op onwettige besettings het, asook weens die uitspraak in die saak, is duisende strukture reeds opgerig waaraan die stad tot dusver niks kon doen nie.

“Die ekonomiese uitwerking gaan die verwoestendste vir die armstes wees wat nie net die kans op regmatige behuisingsgeleenthede gaan verloor nie, maar ook op die stad se dienste wat hy weens die onwettige grondbesettings verhoed word om te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Laat hulle by die regering se huise gaan plak en werk bietjie vir iets man soos ons! Natuurlik gaan rooi petters en MRK aan hulle kant wees en ons weet ook hoekom ne. As jy die regte kleur het is dit mos wiele met die res

koos10 ·

Daar is in Pretoria ‘n groot area by die uniegebou waar mense kan gaan plak. Sal die regering dit toelaat?

Tanja ·

Kan jy jouself nou indink as ons almal net kan maak wa ons wil? Sjoe man… ek sou darem maar ń lekker huisie op Clifton strand kon bou

Annettest ·

Hierdie is alles politiekgedrewe deur die ANC en EFF. Hulle het die regte kaders in die howe om saam met hulle te werk. Hulle uitsluitlike doel is om stemme in die Wes Kaap te werf vir die volgende verkiesing. Hierdie onwettige grondbesetters word deur hulle aangery van die Oos Kaap af. Die uiteinde gaan wees dat Kaapstad en die hele Wes Kaap ook in ‘n vullishoop en vrot rioolnes gaan verander soos die ander agt provinsies wat deur die ANC en sy EFF-kader verwoes is. Die DA en die inwoners van die Wes Kaap moet asseblief alles in die stryd werp om dit te verhoed. Dit sal ‘n erge tragedie wees as dit gebeur!

Jakes ·

Daar is reeds mense wat by die uniegebou plak, al vir maande. Daar is n n video daarvan. Die gehuggies sal orals opduik. Gaan kyk maar hoeveel van hierdie mense ry motors en het Dstv. Vind ook sommer uit hoeveel van hulle kom uit ons buurlande uit. Dis mos n lekker land hierdie.

Ria ·

Waardigheid se gat. Wat sal oorbly van ons Moederstad as elke idioot sy kaia opslaan waat hy wil. Daar gaan niks oorbly van Kaapstad se aantrekkingskrag vir die buiteland nie. Hulle ontsier net elke ordentlike area.

Cornelius ·

Hulle besit grond onwettig en as hulle van die grond verwyder word moet hulle met R2000 vergoed word. Genade wat n sirkus. Daar is geen toekoms vir die land onder hierdie kriminele ANC regering nie.

AlWeerSo ·

Hoog tyd dat daar ondersoek ingestel word aan “wie” strukture behoort. Hier in Mosselbaai het ek gesien hoe splinternuwe motors langsaan staan terwyl die sink strukture opgerig word. Lekker maklike manier om eiendom vir niks te bekom en jouself ten koste van ander met bedrog te verryk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.