Kaapstad wil ‘fietsrykultuur’ bou

Argieffoto (Foto: CorteseEugenio, Pixabay)

Argieffoto (Foto: CorteseEugenio, Pixabay)

Die Stad Kaapstad is van voornemens om pendelaars aan te moedig om meer met fietse in dié stad te ry.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van vervoer, het gesê die stad se vervoerowerheid beplan om die persentasie pendelaars wat van fietse gebruik maak, van die huidige 1% tot 8% te verhoog teen 2032.

“Fietsry is ʼn lewensvatbare en veilige manier van vervoer in Kaapstad,” het Herron gesê. “Dit is een van die sleutelgesprekke tydens die vyf dag lange Mobiliteitsindaba wat vanaf Donderdag by die Kenilworth-renbaan plaasvind.”

Die Mobiliteitsindaba vind tydens Vervoermaand plaas en word gereël deur die konsulaat-generaal van Nederland in samewerking met die vervoerowerheid in Kaapstad, Wesgro en Accelerate Cape Town. Verskeie afgevaardigdes van die sakewêreld en die regering, aktiviste en nie-gemotoriseerde vervoerbelanghebbendes sal, in samewerking met die Nederlandse kenners, ʼn volhoubare mobiliteitsaksieplan vir die stad saamstel.

“Ons is baie opgewonde om deel te wees van die indaba. Ek is vol vertroue dat ons goeie insig sal bekom van die Nederlanders, wat wêreldleiers is wanneer dit kom by volhoubare stede binne ʼn geografies beperkte omgewing,” het Herron bygevoeg.

“Alhoewel die Stad Kaapstad beduidende hulpbronne die afgelope dekade toegewy het om ʼn fietsryvriendelike stad te skep, het ons nog nie meer inwoners oortuig om van fietsry gebruik te maak as ʼn werklike vervoermetode nie. Die stad se bestaande fietsrynetwerk beslaan minstens 450 km fietsrybane. Fietsrybane en wandelpaaie word ook opgerig indien daar plek is om dit te doen wanneer die stad nuwe paaie bou, of bestaande paaie opgradeer. Alhoewel sommige van dié bane veral gewild is onder persone wat vir hul ontspanning fietsry, sien ons nog nie die toename onder pendelaars wat ons in gedagte het nie.”

Hy het bygevoeg die eerste twee dae van die Mobiliteitsindaba sal fokus op die manier hoe inwoners in die stad rondbeweeg en watter bydrae gelewer kan word tot Kaapstad se langtermynvolhoubaarheid deur eerder van nie-gemotoriseerde vervoer gebruik te maak, eerder as om privaat voertuie te gebruik om werk toe, skool toe of winkel toe te gaan.

“Een van die grootste uitdagings wat ons beleef is verkeersopeenhopings. Sommige persone verwag van die stad om eenvoudig nuwe padinfrastruktuur te bly bou om die verkeer te verlig, maar nuwe paaie alleen is nie die oplossing nie. Inwoners moet ook hul deel doen en die manier verander hoe ons reis. Openbare vervoer, saamrygeleenthede of om fleksietye te werk is van die opsies wat voorgestel word,” het Herron bygevoeg.

Die stad sal sy konsep fietsrybeleid binne die volgende agt weke beskikbaar maak vir publieke kommentaar.

“Fietsry het talle voordele: dit is goedkoop, omgewingsvriendelik en ʼn gesonde alternatief vir afstande korter as 10 km. Inwoners moet van fietse gebruik maak vir korter afstande en motoriste moet fietsry aanvaar as ʼn regmatige vervoermetode – fietsryers is dus ook geregtig om van die stad se paaie gebruik te maak. Ons moedig ook fietsrytoerisme aan sodat besoekers ons stad op fietse kan ontdek.”

Toegang tot fietse, veilige roetes en integrasie met ander vervoermetodes is van die punte wat by die indaba bespreek sal word.

Die publiek is welkom om die indaba op 8 en 9 Oktober 2016 by te woon tussen 09:30 en 16:30. Daar is ʼn Monster MBX en skaatsplankvertoning, ʼn fietsryveiligheidskool waar kinders hul weg moet vind deur hindernisse en ʼn Repair-my-Bike-werkswinkel waar besoekers sal leer hoe om ʼn pap band te ruil of die ketting weer op te sit.

Die publiek kan ook hul fietse skenk indien hulle dit nie meer gebruik nie.

Besoek die Mobility Indaba se webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarah ·

As ek veilig met ‘n fiets van Claremont tot in die middestad kan kom sal ek definitief fiets-pendel. Die fietspad deur Woodstock/Soutrivier is net te gevaarlik en voertuie respekteer dit nie.

Reinhardt ·

Sarah, ek ry amper elkedag fiets vanaf Rondebosch tot in die stad. Dit is baie veilig, jy is meer as welkom om my te vergesel.

Lance ·

Dis n droom want SA is net te onveilig en wetteloos met die taxi’s wat geen reels kan of wil nakom nie !

Chris ·

Stem saam met hierbo. Voed eers die voertuie bestuurders op vernaamlik taxis en aflewering voertuie dan sal dit dalk werk. my persoonlikke opinie vermeeder eers die noodgevalle voertuie met beter opgeleide personeel

Jean ·

Oh my goodness, hoeveel fietse gaan gesteel word? Hoeveel mense gaan met hulle lewens boet vir ‘n fiets? Gaan hulle in die strate ry? Want daar is geen rybane vir fietse nie. Gaan die regering die fietse ook koop en onderhou? Alles moet mos VERNIET wees onthou. Daar is belangriker goed om aandag aan te skenk, gaan blus liewer die vure by die universiteite as wat julle nou op fietse wil rondkerjakker.

John ·

“Dream, dream, dream.” Ongelukkig sal ander vervoer steeds nodig wees om die massas gegriefdes wie se fietse gesteel is na ‘n rit, weer huistoe te vervoer, of gaan ‘n nuwe bedryf die lig sien… fietsoppassers?

Uvonka ·

Met ons ander wonderlike padverbruikers gaan dit net ‘n geval van “Cyclists will Fall” wees.

jaco ·

So terwyl die DA in Johannesburg die mors van geld op onnodige fietsrybane stop, gaan die DA in Kaapstad geld mors op onnodige fietsrybane…

pieter ·

Vind eers uit waarom die bestaande fietsbane nie gebruik word nie. Ek ry gereeld in Soutrivier en het nog nooit gesien dat dit gebruik word nie. Dit het net parkeerplekke verminder. Bestudeer eers mense se behoeftes aan vervoer voordat beplanners oplossings uitdink wat geld mors en nie werk nie.

Poot ·

In Dallas, Texas is daar fiets depots. Jy betaal $1 om die fiets te gebruik en “parkeer” hom by n ander depot naby jou bestemming. Maar nou ja………..dis in Dallas, Texas.

Annie ·

Dit sal wonderlik wees as ons almal (wat natuurlik kan) van die middel gebruik kan maak… dink net…. goeie oefening, minder voertuie op die pad, meer beweeg ruimtes, motordiefstalle wat afneem, SKONER ASEM, verseker meer energie, minder padvarke (jammer) maar dis ongelukkig so. Net jammer ons bly in Suid Afrika waar geweld, roof, moord ens koning kraai!

Reinhardt ·

Ek ry amper elkedag fiets vanaf Rondebosch tot in die stad. Die wat dink dis so gevaarlik nooi ek gerus om saam my te kom ry. Julle oë sal oopgaan, dit is die maklikste en vinnigste manier stad toe. As dit van die publiek afhang gaan ons net nog paaie en nog karre moet gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.