Kaapstad wil miljarde in water, sanitasie belê

‘n Wateraanleg op die Kaapse Vlakte. (Foto: CoCT)

Die Stad Kaapstad het inwoners gevra om kommentaar te lewer op sy voorgestelde begroting vir die nuwe boekjaar, ʼn begroting wat miljarde rand in besteding aan water- en sanitasiedienste insluit.

Die algehele begroting vir water en sanitasie in die 2024-’25-boekjaar beloop R18,4 miljard. Hiervan is R5,3 miljard die voorgestelde kapitaalbegroting en R13,1 miljard vir die bedryfsbegroting.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die voorgestelde begroting getuig van die stad se erns en toegewydheid om die basiese dinge beter te doen, veral wat betref die lewering en belegging in water- en sanitasiedienste.

Die bou van ʼn veilige watertoekoms, die betroubare lewering van skoon water, waardige sanitasiegeriewe, die vermindering van rioolstortings en die verbetering van afvalwaterbehandeling om die omgewing en binnelandse watergehalte te help beskerm, bly die stad se sleutelprioriteite.

Informele nedersettings

Die plan is om R38,25 miljoen te bestee aan nuwe krane en toilette in informele nedersettings. Dit is bykomend tot die dienste wat reeds gelewer word.

Nuwe waterprogramme

Oppervlakwater is verantwoordelik vir ongeveer 98% van Kaapstad se drinkwater, maar teen 2040 verwag die stad dat grondwater, ontsouting en die hergebruik van water tot 25% van die aanbod sal uitmaak. Dit is bykomend tot die verwydering van uitheemse indringerplantspesies in opvangsgebiede.

Alternatiewe waterbronne sal ingestel word om Kaapstad se groeiende bevolking te akkommodeer. Dit sluit in ontsouting, onttrekking van water uit akwifere en die stad se Faure Nuwe Water-program. Kaapstad is ook op koers om teen 2030 elke dag watertoevoer met ʼn bykomende 300 miljoen liter water uit nuwe waterbronne te verhoog.

Die stad beplan om R460,1 miljoen in groot infrastruktuurprojekte te belê, waarvan die grootste gedeelte vir akwifeer-projekte is.

Sommige van die opknappingswerk wat in Kaapstad aan die stelsels gedoen word. (Foto: CoCT)

Afvalwaterbehandelingsaanlegte

R2,58 miljard sal na raming bestee word aan uitbreidings en opgraderings by sleutelfasiliteite oor die volgende finansiële jaar. Die stad beoog om die bedrag dan tot R2,96 miljard in die 2025-’26-boekjaar te verhoog.

Die uitbreidings sal die kapasiteit van aanlegte soos Potsdam, Athlone, Bellville en Macassar verhoog.

Rioolstorting

R1,07 miljard word begroot vir verskeie projekte wat proaktief moet help om enige rioolstortings te voorkom:

  • R154,37 miljoen vir die opknapping van rioolpompstasies
  • R315,1 miljoen vir die vervanging van 100 km se rioolpype
  • R597,5 miljoen om rioolstortings te pak deur grootmaatrioolpype op die Kaapse Vlakte, in Philippi, Milnerton en Gordonsbaai op te gradeer.

Betroubare waterlewering aan eiendom

Altesame R83,3 miljoen word begroot vir die vervanging van 50 km se waterpype.

Gemeenskappe wat by hierdie opknappings gaan baat, sluit in Houtbaai, Simonstad, Vishoek, Glencairn, Tokai, Ottery, Somerset-Wes, Kuilsrivier, Strand, Bloubergstrand, Flamingo-vlei, Atlantis, Summer Greens, Kraaifontein, Bellville, Brackenfell, Durbanville, Loevenstein, Ravensmead, Churchill, Tygerdal, Parowvallei, Seepunt, Athlone, Claremont en Fairfield-landgoed.

Bou veerkragtigheid tydens beurtkrag

Die plan is om R127,7 miljoen aan kragopwekkers en ononderbroke kragtoevoer-installasies (UPS) by riool- en waterpompstasies asook afvalwatersuiweringsaanlegte te bestee.

Verbeter waterweë

Die stad het ook heelwat planne om waterweë te verbeter om die risiko vir oorstromings en besoedeling te verminder. Altesame R137,86 miljoen word vir verskeie projekte beoog:

  • Vloedverligting in die Lourensrivier
  • Macassar-vloedverligting
  • Opknappingswerk aan Sir Lowryspas
  • Opgradering van die Zandvlei-kanaal
  • Opgraderingswerk aan die Bayside-kanaal

Inwoners het tot 30 April om kommentaar op die begroting te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.