Kaapstad wil onwettige byeenkomste vasvat

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Stad Kaapstad sal oor die volgende paar weke sy bedrywighede verskerp om in te gryp by onwettige byeenkomste. Die byeenkomste-departement het die afgelope vyf maande 49 ongemagtigde byeenkomste geïdentifiseer deur sosiale media en wenke aan die kantoor.

Die kantoor, wat permitte vir byeenkomste uitreik, het ʼn waarskuwingsbrief aan alle organiseerders gestuur. Agt van dié organiseerders het later aansoek gedoen om ʼn permit te bekom, terwyl vyf besluit het om eerder die onwettige geleentheid te kanselleer.

Tydens ʼn perseel-inspeksie in Junie by ʼn venue in Soutrivier het ʼn organiseerder ʼn byeenkoms gehou sonder ʼn permit. Hy is aangehou en met R3 500 beboet vir oortreding van die Rampbestuurwet en verkope van alkohol sonder ʼn dranklisensie.

Nóg ʼn organiseerder is in Maart met R4 000 beboet toe ʼn ongemagtigde geleentheid in die middestad gehou is.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die byeenkomste-kantoor ontvang deurlopend klagtes oor onwettige byeenkomste. “Dit is belangrik dat ons ons wetstoepassingsbedrywighede moet opskerp teen hierdie onwettige byeenkomste. Dit is veral nou belangrik waar ons van die pandemie probeer herstel om dié superverspreider-byeenkomste hok te slaan.”

Smith sê nóg ʼn probleem met die onwettige byeenkomste is dat dit ʼn teelaarde is vir ander onwettige aktiwiteit soos dwelmmisbruik, geweld en seksuele aanranding. “Ons wil nie die ondernemings sluit nie, maar ons wil hê mense moet aan die reëls en regulasies voldoen en die stad se inwoners moet weet dat hulle veilig sal wees as hulle ʼn geleentheid bywoon.”

Cape Town Etc. het die afgelope week berig van ʼn vrou wat haar storie in ʼn anonieme plasing op Instagram gedeel het. Die vrou beskryf ʼn aand by ʼn onwettige partytjie in Woodstock wat plaasgevind het ondanks Covid-19-regulasies. Die vrou is na bewering verlede Saterdag by die byeenkoms, wat tussen 22:00 en 04:00 gehou is, verkrag.

“Onwettige partytjies sal nie die polisie bel as iets gebeur nie. Onwettige partytjies sal nie [kringtelevisie beeldmateriaal] hê van dit wat gebeur nie om hulleself te beskerm,” het die vrou gesê.

Smith sê die byeenkomste-departement het protokol ontwikkel om veilige geleenthede te hou tydens Covid-19. Dit bied riglyne aan organiseerders oor die protokol wat gevolg moet word om byeenkomste tydens die pandemie te hou en ʼn permit te bekom. Die protokoldokument is op die stad se webwerf beskikbaar. Die protokol geld tydens alle vlakke van die ramptoestand.

As jy bewus is van ʼn onwettige byeenkoms, op ʼn advertensie afkom van ʼn onwettige byeenkoms of enigiets van ʼn onwettige byeenkoms te hore kom, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of skakel die departement se kantoor by 021 417 4035.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Porseleintjie ·

Laat my nou wonder wat word van die onwettige optogte van die EFF en ANC. Kry die idee hul is gevrywaar van vervolging terwyl jan en alleman maar moet boet vir hul oortredinge.

Winnie ·

Natuurlik is hulle vrygestel Malema is dan “‘n seun van die grond” volgens die verkiesing plakkate

Jaco ·

Ek het al daardie op daardie epos adres en telefoonnommer die Stad Kaapstad TALLE KERE van onwettige byeenkomste by dieselfde adres laat weet. Daars GEEN reaksie nie. Elke naweek kom vet meer as 50 mense daar byeen. Raas en skree tot die vroeë oggendure. Deur die week bedryf dieselfde huis ‘n onwettige karwassery en take aways. Weereens doen Stad Kaapstad NIKS aan my en ander mense se klagtes nie.
MAAR die hoogheilige DA wat Stad Kaapstad beheer, is VINNIG om te spog met “the DA delivers”…

Francois ·

Ek stem. Die wat hier negatief reageer is seker van die partytjiegangers. Ek voel ook DA is net n blikkie wat geraasmaak sodra dit by verkiesings kom

Karina ·

Kla die mense by die polisie aan, rapporteer aan plaaslike koerante is al raad wat ek kan gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.