Kaapstad wil ook aandklokreël opgeskort hê

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Djim Loic/Unsplash)

Die Stad Kaapstad wil nou ook die regering onder druk plaas om die aandklokreël finaal op te skort.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, het Dinsdag gesê dat dié reël nog voor Oujaarsaand geskrap moet word sodat Suid-Afrikaners die nuwe jaar op ʼn positiewe noot kan begin.

James Vos, die stad se burgemeesterskomiteelid van ekonomiese geleenthede en batebestuur, sê die regering kan nie toelaat dat die ekonomie, die gasvryheid- en toerismesektor, kleinsakeondernemings en informele handelaars verdere verliese weens beperkte handelsure ly nie.

“Die werkloosheidsyfer is tans reeds op 46,6% en as land weet ons watter katastrofiese sosio-ekonomiese uitwerking ʼn hoë werkloosheidsyfer het.”

Vos meen met die miljoene Covid-19-inentings wat toegedien is, en almal wat hul deel doen om veilig te bly, is dit hoog tyd dat die regering saam met bedryfsleiers werk om die ekonomie aan die gang te kry deur elke moontlike handelsuur te benut.

“Ek sal voortgaan om met leiers in verskeie sektore en organisasies soos die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Informele Handelaars (Saita) en verenigings soos die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) te skakel sodat hulle aansluit by ons oproep om die aandklokreël te beëindig.”

Volgens Vos sal sy departement ook voorleggings aan die minister van toerisme, kleinsakeondernemings, handel en nywerheid doen om enige probleme vir handelsaktiwiteite proaktief op te los.

“In Kaapstad werk ons hard om die ekonomiese enjin ten volle aan die gang te kry. Ons kyk onder meer weer na die Night Time Economic Study om te sien hoe ons 24 uur lange ekonomiese aktiwiteit in die stad aan die gang kan kry.

“Een ding is verseker en dit is dat ons doodeenvoudig nie langer kan wag nie. Dit is tyd om alle aandklokreëls finaal te beëindig sodat ons ondernemings en ons ekonomie weer kan floreer,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.