Kaapstad wil spoordiens by Prasa oorneem

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Kaapstad beplan om sy spoorpassasiersdienste by die nasionale regering oor te neem en dié diens self aan te bied. Die Stad het nou ʼn lewensvatbaarheidstudie van stapel gestuur om te bepaal of dié planne inderdaad uitvoerbaar is.

Dié voorneme word boonop deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gesteun.

“Kaapstad se pendelaars het ʼn betroubare, veilige, bekostigbare en geïntegreerde openbare vervoerstelsel met die spoordiens as sy ruggraat nodig. Mense moet betyds en met gemak by die werk kan kom,” sê Rob Quintas, die stad se raadslid vir stedelike mobiliteit.

Volgens Quintas word die stad se spoordiens nou al dekades lank deur die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) afgeskeep en is dit nou nodig vir verandering.

“ʼn Gebrek aan belegging en instandhouding, sowel as vandalisme en misdaad, het gelei tot ʼn verlies aan bates, onwettige besetting van spoorreserwes en ʼn ineenstorting van die meeste dienste,” sê hy.

“In 1995 was die netwerk van 270 km deur 95 treinstelle bedien, maar teen Desember 2019 was daar maar net 44 stelle in werking. Die sentrale lyn, wat die gewildste en mees benodigde lyn is, is nie eens tans in werking nie.”

Die lewensvatbaarheidstudie sal op 1 Julie begin met vasgestelde sperdatums, aflewerings, gereelde terugvoer en verslagdoening aan die Stad oor die vordering van die werk.

Die hoop is dat dié ondersoek die stad sal inlig oor die gepaardgaande finansiële koste en risiko’s hieraan verbonde, watter funksies van die spoordiens hy sal moet oorneem, indien enige en hoe om hierdie oorname te benader.

“Om die spoordiens by die regering oor te neem is ʼn groot onderneming. Ons moet ten volle verstaan wat dit behels, veral wat die finansiële implikasies betref, aangesien die spoordiens in Kaapstad tans skaars funksioneer,” sê die Stad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis.

“Die hele stelsel – van die beplanning tot die bedryf en die bestuur daarvan – sal opgeknap moet word sodat dit die ruggraat van openbare vervoer kan wees. Hierdie navorsing sal ons help bepaal hoe om hierdie oorname te benader.”

Die Covid-19-pandemie, tesame met die ineenstorting van Kaapstad se spoordiens, het tot gevolg dat 570 000 pendelaars nou daagliks van die pad, eerder as die spoorlyn, gebruik maak.

Godongwana het in ʼn brief aan Quintas sy steun aan die Stad se planne, tesame met die lewensvatbaarheidstudie wat gevolglik van stapel gestuur is, toegesê.

“ʼn Studie van hierdie soort is noodsaaklik, aangesien die opdrag- en delegeringsraamwerk vereis dat die regering die huidige kapasiteitsbeperkings wat baie munisipaliteite in die gesig staar, erken. Ek wens julle alles van die beste toe met jul pogings.”

Hill-Lewis sê die minister se reaksie [op hierdie planne] bevestig uitdruklik dat die nodige wetgewing wel die afwenteling van die spoordiens na metro’s ondersteun. “Dit is baie bemoedigend. Die minister se ondersteuning van ons lewensvatbaarheidstudie is ook welkome nuus,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Ek dink nie dit gaan lewensvatbaar wees nie.Kostes gaan deur die dak gaan.Alles sal hersien en herstel moet word en ALLES sal 24/7 bewaak en opgepas moet word.Die kostes om die vervoer in werking te stel en te hou gaan nie goedkoop wees nie.

Lourens CFG ·

Ek dink nie die taxi bedryf gaan tevrede wees daarmee nie, en gaan weer staak, afbrand en pendelaars dreig en intimmedeer.

Papsak ·

Sit taxis op hulle plek of vat hulle geheel en al weg hulle nie genoeg trips kry word alles gebrand en verwoes dit werk nieso nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.