Kaapstad wil vraghawe na Saldanha verskuif

Die Kaapstadse vraghawe. (Foto: Google maps)

Die stad Kaapstad wil hê die regering moet ʼn versoek oorweeg om die Kaapstadse vraghawe, waar skeepsvraghouers tans aan die hang van Tafelberg gestoor word, na Saldanha te skuif. Laasgenoemde is sowat 134 kilometer noord van die Kaapstadse hawe.

Die stad voer aan dat die woeste Kaapse winde dit soms moeilik maak om vrag by die Kaapstadse hawe te skuif en belemmer só die groei van die plaaslike ekonomie.

“Kaapstad is sinoniem met die Suidooster wat soms vir dae aaneen stormsterk waai. Wat baie mense egter nie besef nie is dat dié winde ʼn aansienlike impak of Kaapstad se kommersiële lewe het,” lui ʼn verklaring deur die stad. “In die afgelope maande het sterk winde skepe verhoed om in die vraghawe vas te meer. Dié skepe het Kaapstad toe sommer heeltemal vermy, wat ʼn vertraging in die invoer en uitvoer van produkte van en na die Wes-Kaap tot gevolg gehad het.” Luidens die verklaring het verskepingsondernemings wat afhanklik is van die skeepvaartbedryf vir hul inkomste, gevolglik aansienlike finansiële verliese gelei.

Die stad Kaapstad wil die vraghawe na Saldanha skuif. (Foto: Google maps)

Die Stad sê weens klimaatverandering kan Kaapstad boonop binnekort meer gereeld en sterker suidooste winde ervaar. “Die oorspronklike hawe is gebou in die deel van Tafelbaai wat die meeste beskut is teen stormwinde. Die vraghawe is egter later as ʼn verlenging van die hawe gebou en dié deel van die hawe is erg blootgestel aan die Suidooster.”

Daarom het die stad ʼn vergadering met die nasionale haweowerheid aangevra om ʼn voorstel van die stad Kaapstad te oorweeg om die vraghawe te skuif,” lui ʼn verklaring deur die stad Kaapstad.

Luidens dié verklaring het Saldanha reeds ʼn nywerheidontwikkelingsone, en is daar nóg so ʼn sone om die draai by Atlantis. “Só ʼn skuif sal aansienlike voordele inhou vir plaaslike gemeenskappe, sakeondernemings en werkskepping in dié gebied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Neelsie ·

Wat van ‘n impakstudie? Of maak die besoedeling wat deur die ysterertshawe
aan die omgewing veroorsaak is dit onnodig. Die ekologie is in ieder geval verwoes!

Willie ·

Dit was al verskeie kere in die verlede oorweeg deur sommiges in die skeepsbedryf. Een van die grootste ekonomiese drywers in die Wes Kaap tov uitvoere is die vrugte bedryf. Elke keer was die besoedeling in en rondom Saldanha soveel so dat verkoelingshouers moeilik hanteer sal kan word daar. Nie net sal die skoonmaak van houers om by standaarde te bly moeilik wees nie, maardie fyn rooi stof pak rondom die verkoelingmasjinerie en verstop lugvloei. In die verkede was dit adgeskiet tov ‘n hawe vir vrugteuitvoere.
As mens verder die impak moet gaan kyk rondom bestaande gevestigde bedrywe wat ondersteuning bied en die miloene ter sprake om te herinvesteer terwyl hullesteeds huidige ontwikkelingskostes moet verwerk, voorsien ek dat menige rolspelers nie ten gunste daarvan kan wees nie. Die skeepsbedryf bestasn nie net uit die skeepseienaaar en die hawe nie. Daar us’n magdom van diensleweraars in die logistieke ketting wat almal in ‘n mindere of meerdere mate raak.

Keelvol ·

Dit moet wees die stadraads van Kappstad, nie stad Kaapstad nie.

Johnny ·

Daar bestaan nie ‘n woord soos “beskud” nie. Dis “beskut”
Kom, MM – julle is ‘n Afrikaanse blad. Let asseblief op na julle taalversorging.

Jacobus ·

Kyk na Google Maps en bereken koste om omte skep in vraghawe – Nie met ANC aan die stuur van sake!

Menan ·

Wat van die arme werkers? As hulle nie afbetaal gaan word nie, gaan hulle hervestig word???? Het die Stad Kaapstad al hieraan gedink? Sal graag wil weet wat hulle bespreek het rondom die werkers. Wonder ook hoeveel werkers (plus hulle afhanklikes) geraak sal word ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.