Kaapstadse fotograaf plaas stropery in kollig met sege

Justin Sullivan se foto “Disconnection”.

Die Kaapstadse fotograaf Justin Sullivan is aangewys as die wenner in die kategorie vir enkelfoto’s in die Andrei Stenin- internasionale persfotokompetisie. Internetgebruikers kry die geleentheid om te stem vir die wenfoto’s.

Sullivan se foto “Disconnection” is ʼn lugfoto van ʼn Afrika-olifant wat in die noorde van Botswana vir sy ivoor gestroop is.

Sullivan het gesê hy is tegelykertyd bly én hartseer dat die foto dit tot in die eindronde gemaak het.

“Dit is opwindend om te sien dat so ʼn belangrike kwessie soos olifantstropery wêreldwyd hoofopskrifte gaan haal en nuwe belangstelling in die gesprek oor olifantstropery gaan aanwakker.”

“Dit is egter ook hartverskeurend omdat dit ʼn herinnering is van die ekologiese verlies wat ons tans in die gesig staar. Die spesifieke olifant is op ʼn geweldig onmenslike manier geslag en die foto verteenwoordig nie net hoe eensaam en afgesonder die olifant in daardie oomblik was nie, maar ook hoe afgesny ons van die situasie is.

“Ek is regtig trots op die foto en is vol vertroue dat dit pro-aktiewe gesprekke oor olifantbewaring gaan teweeg bring.”

Meer as ʼn kwart van die aanlynstemme was vir Sullivan se foto.

ʼn Formele prysgeleentheid word op 10 September in Moskou gehou. Die wenners word dan aangekondig.

Die hoofdoel van die kompetisie is om jong fotograwe te ondersteun en die aandag te vestig op die uitdagings van moderne fotojoernalistiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.