Kaartjies vlieg vir Bok-toets in Bloem

Die Springbokke (Foto: Twitter)

Kaartjies vir die rugbywedstryd wat op 9 Julie tussen die Springbokke en Wallis in die Toyota-stadion in Bloemfontein plaasvind, verkoop tans soos soetkoek.

Ross van Reenen, uitvoerende hoof van Vrystaat Cheetahs, sê hulle hoop om ’n volgepakte stadion te sien noudat gesondheidsregulasies wat toeskouergetalle beperk het, opgehef is.

“Niks sal ons groter bevrediging verskaf as om ʼn volgepakte Toyota-stadion te sien nie. Ná twee maer jare wat meegebring is deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande beperkings het die Toyota Cheetahs die inkomste uit die toets bitter nodig,” het Van Reenen in ’n verklaring gesê.

“Stel jou die atmosfeer en die opwinding voor van 46 000 toeskouers wat hul onderskeie spanne aanmoedig in ʼn toets wat die reekswenner gaan bepaal of die reeks gelykop gaan laat trek. Dit gaan ’n riller wees!”

Van Reenen sê hoewel die kaartjies vinnig verkoop, is daar nog baie kaartjies beskikbaar. Ondersteuners word egter gewaarsku om waaksaam te wees teen swendelaars, insluitend ongemagtigde webwerwe soos Viagogo, wat dié kaartjies teen belaglike pryse probeer smous.

“Sulke kaartjies wat in die sluikhandel verkoop word, benadeel nie alleen die rugby-unies wat nog herstel van die impak van Covid-19 nie, maar ook goedgelowige rugbyondersteuners.”

Dit sal die eerste keer sedert 16 Junie 2018 wees dat die Toyota-stadion weer ’n toets aanbied. Die laaste wedstryd was ’n kragmeting tussen die Springbokke en Engeland, toe die Bokke die Engelse met 23-12 geklop het.

Toe die Springbokke en Wallis laas op 6 November 2021 in die Millennium-stadion in Cardiff met mekaar kragte gemeet het, het die Bokke met 23-18 geseëvier.

Kaartjies vir die toets in Bloemfontein wat van R150 tot R750 kos, kan van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 18:00 by die Toyota-stadion se kaartjieskantoor (die Kingsweg-ingang) of hekke 6 en 8 gekoop word. Saterdag 2 Julie kan kaartjies ook van 08:00 tot 12:00 in die stadion gekoop word.

Kaartjies is verder by enige Spar-winkel te koop, asook aanlyn by www.ticketpro.co.za.

’n Gedrukte PDF-weergawe van kaartjies is nodig om toegang tot die stadion te verkry. Kaartjies sal nie op die dag beskikbaar wees of by Spar afgehaal kan word nie. Toeskouers moet kaartjies dus vooraf reeds afhaal. ʼn Bewys van inenting of ʼn negatiewe Covid-19-toets word nie meer vereis nie.

Die hekke vir die toets, wat om 17:00 begin, sal om 12:00 oopmaak. Kunstenaars soos Ricus Nel, Bernice West, Francois Bouwer, Franja du Plessis en Zak Steyn sal van 13:00 by die Castle Deck en die Castle Gig Rig agter die hoofpaviljoen optree.

Daar sal ook verskeie kosstalletjies en braaigeriewe wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Dit is net ‘n mors van geld as jy betaal om te gaan kyk. Ek wed jou jy gaan die wedstryd op die tv kyk en die bokke ondersteun.Jy hoef nie daar te sit nie Harley Davidson

Philip ·

Bol/Bol het vir my n verleentheid geword met n politiese korrektheid wat in optredes en uitsprake in die gewone publiek se kele afgedruk word ek mors nie my geld op so n klomp twak nie

Madelein ·

Was nog altyd ‘n droom van my om die Springbokke teen Wallis te sien speel. Ek dink die gees gaan uit die boonste rakke wees

Leon ·

Stel geensins belang. In elk geval n span vol regstellende aksie en geen meriete. En dan n speler kies wat SA in verleentheid stel terwyl dronk op n internasionale vlug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.