Kabeldiefstal deel van groter probleem

JP Smith (Foto: ANA)

Die Stad Kaapstad se wetstoepassingsagentskappe het die afgelope naweek drie kabeldiewe op heterdaad betrap waar hulle besig was om kabels by die Nyanga-treinstasie te steel. Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid in die Kaapstad-metro, is hierdie klein oorwinning slegs ʼn druppel aan die emmer van ʼn baie groter probleem.

In ʼn verklaring sê Smith hierdie kabeldiewe is drie van 64 verdagtes wat die afgelope week deur die Stad se metropolisie en verkeersdiens vasgetrek is.

“Hulle planne is gefnuik toe metropolisiebeamptes Sondag op klagtes van kabeldiefstal by die Nyanga-treinstasie gereageer het,” sê Smith.

Die beamptes het gou genoeg op die toneel gekom en die verdagtes in die besit van kabels gevang. Die verdagtes, tussen die ouderdom van 30 en 33, is na die Manenberg-polisiestasie geneem.

Smith het die vinnige reaksie van die metropolisiebeamptes geloof.

Smith sê verder die aanval op infrastruktuur, veral op die spoornetwerk, is genadeloos.

“Dit is noodsaaklik dat die strafregstelsel skuldigbevindings en lang gevangenisstraf vir kabeldiewe verseker,” sê hy. “Die inhegtenisneming van hierdie drie kabeldiewe sal ʼn boodskap stuur dat kabeldiefstal en die beskadiging van infrastruktuur nie geduld word nie.”

Smith sê behalwe vir die geweldige impak wat kabeldiefstal op gemeenskappe het, knou dit ook verder die ekonomie in ʼn tyd waarin almal onder finansiële druk gebuk gaan.

In ʼn afsonderlike voorval het metropolisiebeamptes 13 verdagtes in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van drank, roekelose en nalatige bestuur asook die besit van dwelms.

Smith sê beamptes het ook die polisie gehelp met die uitvoering van ʼn deursoekingsbevel in die informele nedersetting in Table View. Daar is op altesaam 113 sakke dagga, twee plastieksakkies vol dagga en R168 kontant beslag gelê. ʼn 31-jarige verdagte is in hegtenis geneem en na die Milnerton-polisiestasie geneem.

Verkeersbeamptes het die afgelope week ook altesaam 48 mense in hegtenis geneem, 83 voertuie geskut, 95 selfone gekonfiskeer en 52 064 boetes uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Skrootwerwe moet verbied word om enige vorm van kabel aan te koop.

Ferryman ·

Koper moet tot edelmetaal verklaar word en beter rekord moet gehou word oor wie dit koop en verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.