Kabeldiefstal veroorsaak kragonderbreking in Centurion

Argieffoto (Foto:
Unsplash)

Vandalisme en kabeldiefstal het Vrydag ʼn kragonderbreking in Wierdapark en Eldoraigne in Centurion veroorsaak.

“Ons is in die vroeë oggendure in kennis gestel van ʼn kragonderbreking in dié woonbuurte,” sê Selby Bokaba, woordvoerder van Stad Tshwane. “Dit is veroorsaak deur kabeldiefstal en vandalisme by ʼn substasie.”

Die munisipaliteit het omstreeks 01:00 die oggend verskeie oproepe ontvang van inwoners wat gekla het dat hulle ʼn kragonderbreking beleef. “Die span het ondersoek ingestel en bevind dat 10 panele by die substasie in Springbokstraat gesteel is.”

Die substasie word getoets terwyl tegnici die kabels herstel. Dit is nog nie bekend wanneer die kragtoevoer herstel sal word nie.

“Stad Tshwane versoek sy inwoners om ons in kennis te stel wanneer hulle enige verdagte aktiwiteit by ons substasies opmerk. Vandalisme van ons infrastruktuur en kabeldiefstal beloop miljoene rand se skade en lei tot onderbreking in dienslewering van elektrisiteit en water.”

Verdagte aktiwiteit kan aangemeld word by die Tshwane-metropolisie by 012 358 7095/96.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.