Kabeldiewe laat Vanderbijlpark dae sonder krag

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Kabeldiefstal by ʼn substasie in Vanderbijlpark in die suide van Gauteng het tot ʼn reusebrand gelei wat talle inwoners sedert die Paasnaweek in donkerte gedompel het.

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit het Vrydag op Twitter bevestig dat twee kVa-stroombrekers en ʼn transformator in die brand beskadig is.

Hoewel kragtoevoer reeds gedurende Paasnaweek na groot gedeeltes van Vanderbijlpark herstel is, sit byna die helfte van die gebied steeds sonder krag. Die munisipaliteit is boonop nie seker wanneer die krag ten volle herstel sal wees nie.

Bonanne, Stephanopark, Bophelong, Bophelong‑uitbreidings, dele van NW 7, asook CW 1, 2, 3, 5 en 6 is steeds sonder krag.

Volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid, is dié gebied deel van Vanderbijlpark se eerste uitbreidings, dus woon mense met ʼn laer inkomste asook afgetredenes hier.

Senekal sê beeldmateriaal wat van oorkant die sogenaamde Town-substasie bekom is, wys glo hoe die hele voorval afspeel. Die VF Plus is in besit van die beeldmateriaal, maar wou dit weens veiligheidsredes nie met Maroela Media deel nie.

Volgens Senekal het ʼn groep mans hulle op die dag as werkers van die munisipaliteit voorgedoen. Hulle het aan ʼn enkele veiligheidswag by die substasie gesê dat hulle onderhoudswerk aan die substasie moet doen. Die veiligheidswag het hulle toe ingelaat.

Van die substasie se kabels is glo geknip, waarna ʼn gedeelte van die substasie aan die brand geraak het.

“Die verdagtes het skaars weggery toe die substasie ontplof het,” sê Senekal.

Makhosonke Sangweni, woordvoerder van die munisipaliteit, het die voorval bevestig en gesê die wagte is deur rowers oorval. Die wagte was nie gewapen nie.

Hy sê die munisipaliteit sal nou, na afloop van ’n interne ondersoek na die voorval, oorweeg om wagte wel te bewapen.

Groot skade vir inwoners

Senekal sê die kragonderbreking hou groot nagevolge vir inwoners in. “Hierdie mense het reeds ʼn groot verlies aan hul voedselvoorrade gely en kry nou baie swaar,” sê sy.

“Behoeftige inwoners en kleinsakeondernemings kan nie kragopwekkers bekostig nie en ly nou onder die weeklange kragonderbreking.”

Koue en nat weerstoestande het boonop temperature in die gebied laat tuimel en talle mense bibber nou sonder die nodige kragtoevoer.

Volgens Senekal is die plaaslike VF Plus-kantore ook in die gebiede wat sonder krag sit en was hulle genoop om ʼn kragopwekker aan te koop sodat hulle steeds die gemeenskap kan bedien.

“Ons probeer vanuit die kantoor help en deur kospakkies uit te deel,” sê sy.

“Ek sien nie dat hierdie situasie ooit gaan verbeter nie want ons infrastruktuur is gedaan en dit is nie eers die eerste keer wat die infrastruktuur onder diefstal deurloop nie.”

Groot nywerhede het Emfuleni reeds verlaat weens gebrekkige dienslewering en vervalle infrastruktuur.

Krag dalk teen Vrydag herstel

Spanne werk al sedert verlede week om kragtoevoer te herstel. (Foto: Emfuleni Local Municipality/Facebook)

Die munisipaliteit het reeds begin om die nodige onderdele wat by die substasie vervang moet word, te bekom, maar Sangweni wou hom nie verbind tot ʼn spesifieke datum wanneer krag herstel sal word nie.

Luidens die munisipaliteit se jongste opdatering, wat Maandag uitgestuur is, is die meeste van die voorbereidingswerk om die krag te herstel reeds afgehandel.

Die munisipaliteit sal egter eers ʼn volledige opdatering kan gee sodra die toetsresultate van die transformator afgehandel is en bevestiging gekry word oor die aflewering van die onderdele.

Volgens Senekal sal een van die broodnodige onderdele binnekort afgelaai word. Die belofte wat gemaak is, is dat die krag dan teen Vrydag herstel sal word.

“Die slegste van alles is dat dele van Vanderbijlpark verlede jaar hierdie tyd ook sonder krag gesit het as gevolg van kabeldiefstal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Als te danke aan die kriminele wat die land oorgeneem het! Begin ondersoek by die onwettige immigrante in die land, hulle is die oorsaak vir hierdie kabel diefstalle en brandstigtings by substasies. Sal my nie verbaas as daar ‘n sekere politieke party aandeel het hieraan nie. Hulle wil die land onregeerbaar maak

Ansie

Wat is die punt van ongewapende wagte?

Manie

Grote genugtig, hoe moeilik kan dit dan nou wees om die handel in koper te reguleer? Reguleer skrootwerwe en wie mag in koper handel dryf, so eenvoudig soos dit. Die wat wel gemagtig word, moet streng boekhou van waar die afval kom en moet gereeld ge-oudit word. Geen aankope van koper deur skrootwerwe vanaf Jan Rap en sy Maat nie, slegs geregistreerde entiteite wat behoorlik kan verslag doen oor hoe hulle dit bekom het.

marius

Hoe kan wagte by sleutel punte nie gewapen en opgelei wees om te skiet om te dood nie ? Die land word verwoes en die gemors lag al die pad na die skelms toe wat die land se bates vir ‘n appel en ‘n ui koop en skatryk word daaruit .

Jacobus

Die terriristiese ANC kaders is mos in Rusland opgelei om te saboteur.