Kabinet aanvaar strenger reëls oor maatskappye in staatsbesit

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die tweeweeklikse kabinetsvergadering het verskeie belangwekkende besluite geneem oor huidige Suid-Afrikaanse beleidskwessies, van strenger reëls oor die aanstel van staatsbestuurde maatskappye se rade tot ‘n vermaning oor kiesersregistrasie.

Die kabinetsvergadering het op ‘n vrolike noot begin toe die ministers Suid-Afrika se ontkoming aan ‘n tegniese resessie verwelkom het. Die ekonomiese groeisyfer van 2,2% op kwartaal-tot-kwartaalbasis het groeisyfers van 6,5% in landbou, 2,3% in die finansiële sektor, 7,5% in vervaardiging en 3,2% in kleinhandel ingesluit.

Die kabinet het ook met waardering kennis geneem van die Toyota Wessels-instituut vir vervaardigingstudies aan die Universiteit van Pretoria as ‘n stap vooruit vir plaaslike kundigheid in motorvervaardiging.

Van groot belang is die aanvaarding van streng nuwe reëls om te vereis dat bekwame, vaardige en gekwalifiseerde mense voortaan op die rade van staatsbeheerde maatskappye aangestel word ten einde die huidige rampspoedige bestuur van diesulke maatskappye hok te slaan.

Kiesers is vermaan om seker te maak hulle is in besit van geldige identiteitsdokumente of identiteitskaarte sodat hulle tydens die laaste kiesersregistrasiegeleentheid die laaste naweek van Januarie as kiesers kan registreer.

Verdere goeie nuus uit die kabinetsvergadering is die daarstel van ‘n spesiale ekonomiese sone in Mpumalanga genaamd die Nkomazi SEZ, en gelukwensings van die minister aan die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi.

Die aanvalle op dokters en verpleegpersoneel by verskeie hospitale in Limpopo is veroordeel, met beter nuus uit Noordwes se hoofstad Mahikeng, waar hospitaaldienste terug is na normaal danksy die werk van die Noordwes-ingrypspan.

‘n Belangrike verwikkeling is die aankondiging van ‘n beleidsraamwerk vir die ontwikkeling van ander Afrikatale se aanbieding in die grondslagfase van skole (graad 1 tot 3) om op die peil van die aanbieding van Afrikaans en Engels te kom.

Laastens het die kabinet Suid-Afrika se vrouesokkerspan, Banyana Banyana, geluk gewens dat hulle vir die Wêreldbekertoernooi in Frankryk gekwalifiseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Als begin vir hulle altyd op ‘n vrolike noot, toy en dans … dis heerlike lente …. niks is vir hulle ernstig nie.

zoom zoom ·

As Jy verniet vlieg , ry, eet , en slaap. het Jy seker rede on vrolik te wees want met die pay wat hulle verdien vir no work , en ‘n good salary sal ek ook vrolik wees.

Why Work ·

Bekwaam , Vaardig en Gekwalifiseerd Hahaha Al wat jy nodig het is ANC lidmaatskap kaart dan voldoen jy aan al die vereistes.

Sarel ·

Ons mag hulle nie glo nie, hulle is net nie instaat tot eerlikheid nie . Moet nie weer gevang word nie .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.