Kabinet heroorweeg samestelling van petrolprys

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Activ-Michoko, Pixabay)

Die kabinet het insette van die petroleumbedryf gevra oor hoe die petrolprys in bedwang gebring kan word.

Die minister van energie, Jeff Radebe, het die aankondiging vanoggend in Kaapstad ná afloop van die tweeweeklikse kabinetsvergadering gedoen.

Volgens Radebe is die petroleumbedryf vir ʼn “kennersmening” gevra oor hoe die petrolprys in bedwang gebring kan word. Dit is ʼn verdere aanduiding dat die regering ietwat radeloos en sonder idees is oor die stygende petrolprys.

Radebe het aangevoer dat eksterne kwessies soos die olieprys en die rand/dollar-wisselkoers die petrolprys bepaal, maar het nie verwys na die uitwerking van regeringsgedrag op die wisselkoers nie.

Hy het hom later ietwat weerspreek in sy opgewondenheid oor wêreldmarkte se huidige en aanvanklik positiewe reaksie op die aanstelling van die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni.

Die gevolglike verbetering in die waarde van die rand kan ʼn positiewe invloed op die petrolprys hê, het Radebe gesê.

Die petroleumbedryf het tot volgende Donderdag om voorleggings oor die petrolprys aan die kabinet te doen. Een van die kwessies waaroor hul mening gevra word, is of daar ʼn plafon op die petrolprys geplaas kan word.

Die kabinet het glad nie die skandaal oor VBS Bank, waaruit verskeie mense met hegte bande met die EFF en die ANC hulle ten koste van arm Suid-Afrikaners verryk het, bespreek nie.

ʼn Splinternuwe potensiële skandaal wat eintlik al jare lank prut en waarby miljarde rande betrokke is, is egter op die punt om los te bars.

Dit handel oor digitale migrasie van televisiestelle, en die beskikbaarstelling van die dekodeerders wat nodig is om televisiestelle tegnologies daarvoor toe te rus.

Soos alle tegniese kwessies is dit vol potensieel verwarrende terme, maar op die keper beskou, het die regering oor ʼn tydperk van byna 20 jaar miljarde rande uitgegee op hierdie projek, net om dit nou skielik, onverrigter sake, aan die private sektor oor te laat.

Toe die minister van kommunikasie, Nomvula Mokonyane, gevra is wat van al die geld geword het en wat in ruil daarvoor gelewer is, het sy geen verhelderende antwoorde gegee nie, wat ervare politieke joernaliste soos een mens laat steun het in die vermoede dat die volgende staasbestuurde vermorsing op die punt is om – stuksgewys, skoorvoetend, met ontkenning van verantwoordelikheid en sonder gevolge vir die skuldiges – op die lappe te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Annelize ·

Ek het ‘n baie goeie idee om die prys in bedwang te kry. Hou julle vingers uit die Staatskis uit, dan het julle nie nodig om Jan Publiek helder oordag te beroof onder die vaandel van Petrolprys stygings nie.

Anoniem ·

Bietjie van ‘n dom vraag, of daar plafon op petrolprys geplaas kan word. As die wisselkoers versleg en die olieprys styg, sal SA moet betaal. As die verbruikers nie meer betaal nie, gaan nie regering instaan vir die tekort? Met watter geld?

Pleks die honourables hulle eerder toespits op dit waaroor hulle beheer en, en doen wat hulle kan om die wisselkoers positief te beinvloed.

honurable member ·

Kyk maar na die verkiesing dan daal die petrol weer al te lekker. Die regering maak geld uit hierdie petrol om vir die verkiesing te betaal.

Reta ·

Hoekom verskaf SA petrol aand Botswana en dit vir goedkoper as wat ons self daarvoor betaal?

Alta ·

Dit word aan Botswana verkoop sonder die brandstofheffing wat vir Suid_Afrikaanse verbruikers bygesit word. Botswana sit waarskynlik ook ‘n brandstofheffing by, maar dis baie laer as SA s’n.

Cherokee ·

As my inligting reg is, is die brandstofheffing in Botswana gelyk aan sowat 40c.

Henk ·

Die kabinet wat die anc is se belaglike belastings om die korrupstes onder korruptes se leefwyses te finansier en die anc se partytjies,karre en verkiesingsveldtog te finansier – dit is wat die petrolprys so belaglik hoog maak. Keer op keer tydens vekiesings en net daarna word daai n boehaai gemaak oor multi miljoene wat uit petrosa se kaste weg is en nooit word daaraan iets gedoen nie!?

Derf ·

Het die regering nie so ruk gelede die olie reserve vir ‘n appel en’ n verkoop nie? Elk geval, so is ons toekoms uit verkoop aan die narre vir ‘ek is nie’ n rasis’ en internasionale sport (kyk nou deesdae) se 20 silver muntstukke.

Andre Stander ·

Ook maar net nou voor die verkiesing. Sou die anc in bewind bly het hulle dan nog 4x jaar om te plunder, en dan gee niemand vir vier jaar om wat die petrol prys (en alles anders) maak nie.
Mooi praaitjies so voor die verkiesing om aan bewind te bly. Niks verander vir die beter nie.

Johann cb ·

Mens kan net hoop dat daar baie streng vervolging sal wees vir almal betrokke by die sogenaamde TV-skandaal!

John ·

Is dit nie dalk waar Sasol sy stille bydrae maak ooreenkomstig die destydse reeling dat indien daar ‘n krisis ontstaan Sasol inskop nie. Die sanksies en sulke omstandighede soos nou is glo aangevoer om bystand van die staat en belastingsbetalers te kry vir die vestiging van die onderneming. Lig ons asb in, of hoop Sasol ons geheue is kort.

Sarel ·

Glo nie ny Petroleumbedryf nie maar al die Regering se “Levies” wat die probleem is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.