Die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, het aangekondig dat die inligtingsessies en mediakonferensies wat elke twee weke na afloop van kabinetsvergaderings gehou word, afgeskaf is.
Dit volg nadat die Persgalery‑vereniging ’n formele navraag aan Ndabeni-Abrahams gerig het oor die slap verskonings wat die afgelope paar maande elke twee weke opgedis word oor hoekom die mediakonferensies nie plaasvind nie.
Die mediakonferensies is sowat tien jaar gelede ingestel om die voortdurende gerugte en nuuslekkasies uit die kabinet te keer, en ’n formele geleentheid te bied aan die land se voorste joernaliste om openlik deur vrae vas te stel wat in die kabinet gebeur het.
Oor die jare het dit die voorste inligtingsgeleentheid geword waar vrae oor die regering gevra kon word, veral wanneer bekwame amptenare soos Themba Maseko of Phumla Williams, of bekwame ministers soos Jeff Radebe aan die hoof van sake gestaan het.
In onlangse tye, met die oorname van Nomvula Mokonyane as kabinetswoordvoerder, het joernaliste egter gaandeweg begin kla oor vaagheid en later leuenagtigheid in die terugvoer uit kabinetsvergaderings.
Die rede wat Ndabeni-Abrahams aanvoer vir die kansellasie van die inligtingsessies is dat die blote uitreik van ’n verklaring sonder enige verduideliking of geleentheid vir verdere ondervraging groter gelykheid van toegang tot inligting verseker, en heeltemal genoeg inligting bevat.
Joernaliste het gemor dat dit slegs gelyke gebrek aan inligting verseker.
Die voorsitter van die Persgalery‑vereniging, Andisiwe Makinana, het gesê die kwessie sal nie daar gelaat word nie, maar in belang van deursigtigheid en verantwoordbaarheid voortgesit word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Bo blink, onder stink…
Benoude katte maak benoude spronge, hulle is bang, baaaiieee bang, hulle sal nie hou van wat hulle gaan hoor nie
Dalk maar beter so want niks gebeur nie !
Tog logies. Hul wil nie dat hul korruptheid, klaaglike onbevoegtheid en onderduimse politiekery aan die lig kom nie.
Ek dink nie “inligtingsessies” is meer nodig om mense in te lig hoe korrup en onbevoeg die spul is nie. Die resultate van hulle patetiese wanbestuur,korrupsie en nepotisme is daar vir die hele land en wereld om te sien.