Kabinet keur mynbouhandves goed

Gwede Mantashe. Foto: Verskaf

Die kabinet het die langverwagte mynbouhandves goedgekeur.

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, het Donderdag dié nuus bevestig.

Mokonyane het in Kaapstad ná afloop van ʼn kabinetsvergadering gesê pres. Cyril Ramaphosa sal Vrydag meer besonderhede oor die handves bekendmaak wanneer hy die media oor die staat se ekonomiese stimulusmaatreëls toespreek.

Die handves is ontwerp om transformasie- en eienaarskapteikens vir die mynbousektor te stel, maar ʼn weergawe wat voorgestaan is deur Mosebenzi Zwane, voormalige minister van mynbou, is ten sterkste deur die bedryf teengestaan.

ʼn Weergawe wat voorgestel is deur sy opvolger, Gwede Mantashe, is gesien as ʼn verbetering, maar steeds problematies, veral ten opsigte van die voorsiening vir ʼn 10% vrydraende belang om tussen gemeenskappe en arbeid verdeel te word en ʼn bykomende dividend van 1% uit die bedryfswinslyn te herlei.

Die tweede gedeelte is vermoedelik gewysig in die finale weergawe wat Mantashe aan Ramaphosa voorgelê het.

Mokonyane wou nie uitbrei oor bewerings dat Mantashe die kabinet se goedkeuring gekry het om die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne terug te trek om moontlik gedeeltes oor olie en gas uit te haal en dit in aparte wetgewing te vervat nie.

“Hy het nie die kabinet se goedkeuring nodig nie,” het sy gesê.

Dit is bekend dat Mantashe gesê het hy sal die uitvoerende mag se gesamentlike goedkeuring kry nadat berigte aan die lig gekom het dat daar spanning is tussen hom en Jeff Radebe, minister van energie, wat die wetsontwerp wil laat versnel om deur te druk met gaseksplorasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

schalk ·

Ek kan net dink dat dit die ANC en sy kaders verder gaan bevoordeel. Jammer maar die feite is dat mynbou meer winsgewend bedryf en sodoende meer poste kan skep as die belaglike regulasies verslap word. Behalwe dit die grond onteining wat beleggers onseker maak.
Die mense om die myn word uitgebuit en getroos met beloftes maar die werklike wenners sit agter die skerm.

Manna ·

Asof ons nie genoeg belasting betaal moet soos ek verstaan 11 % van winste na regering gaan voordat dividente aan aandeel houers betaal word. Geen wonder daar is geen behoorlike groei op ons swaarverdiende geld. Hardewekende en spaarsamige burgers word elke dag armer as gevolg van allerande belastings wat aan gewend word om elite te verryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.