Kabinet moet SAL-planne laat vaar – DA

(Argieffoto: ANA)

Die DA sê die proses om geld te probeer vind vir die sogenaamde ydelheidsprojek wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is, verloop nes hy verwag het.

Alf Lees, ʼn DA-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa die kant van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, bo dié van die minister van finansies, Tito Mboweni, en die tesourie gekies het.

“Die kabinet gaan oënskynlik vandeesweek formeel gevra word om in te stem tot begrotingsbesnoeiings benewens dié wat weens Covid-19 gemaak is, om R10,4 miljard beskikbaar te stel vir die volgende SAL-reddingsboei,” sê Lees.

Volgens hom is dit verstommend dat enige oorweging gegee word om die begroting te besnoei, omdat dit onvermydelik ʼn uitwerking gaan hê op dienste soos gesondheid, onderwys en polisiëring.

Dít terwyl Suid-Afrika hoed in die hand by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) moes gaan geld leen om die ekonomiese ineenstorting wat deur die “irrasionele Covid-19-inperking” veroorsaak is, te bowe te kom. Die IMF het die geld teen ʼn baie lae rentekoers aan Suid-Afrika geleen en Lees sê dit is allermins bedoel om gebruik te word om ʼn bankrot en wanbestuurde SAL uit sy geldelike verknorsing te red.

“Die aankondiging deur SAL se sakereddingspraktisyns dat die regering, ook die nasionale tesourie, nog ʼn brief van bevestiging gestuur het van sy voorneme om die R10,4 miljard wat die sakereddingsplan benodig beskikbaar te stel, is duidelik misleidend. Daar was oënskynlik geen voorneme deur die nasionale tesourie of die minister om begrotings te besnoei of te herprioritiseer – soos die departemente van openbare ondernemings gesê het – om die soveelste SAL-reddingsboei te finansier nie.”

Lees sê dit lyk of die rede waarom sakeredders Les Matuson en Siviwe Dongwana geweier het om die brief van die regering bekend te maak, is omdat dit nie stipuleer dat Mboweni en die tesourie ingestem het om geld vir die reddingsboei beskikbaar te stel nie.

Lees het ook sy oproep herhaal dat die brief bekend gemaak moet word.

“Die laaste kans om die waansin van nog ʼn reddingsboei deur die belastingsbetaler of IMF ten koste van belangrike dienste te stuit, is nou oënskynlik in die hande van die kabinet omdat pres. Ramaphosa weereens gewys het hy is te swak om die moeilike besluite te neem.

“Ons doen ʼn beroep op die parlement om te weier om verdere begrotingsbesnoeiings te aanvaar en om Gordhan te beveel om die regte ding te doen deur SAL te laat gaan as daar geen ernstige beleggers is wat gereed is om in te gryp en die R10,4 miljard te verskaf wat nodig is om die redery te red nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Mors nog geld! Bou die ekenomie en vergeet van die wit olifant! Maak gebruik van ander lugdiens hoe moeilik is dit om te verstaan duh?

Jakes ·

Weereens geld wat in n bodemlose put verdwyn. N mens wonder hoe is dit moontlik dat die regering nog steeds n entiteit probeer red wat lankal oor die afgrond is.

Suzette ·

ANC sal nie na julle luister nie – hulle luister nooit na goeie raad nie.

Mariana ·

Nog geld vermorsing waarvoor voos belastingbetalers moet pa staan, net die soveelste een van honderde ander. Ek het gedink Pravin Gordhan is ‘n slim, intelligente man. Verstaan nie hoe sy kop nou werk nie. En die president moet darem nou ‘n slag sy werk doen en die leisels vat en die land regruk. Hy word baie betaal sodat ander belangrike besluite namens hom neem. Verkeerde besluite………

Stefan ·

Hoe meer die DA sè los die saa, hoe meer is die anc vasbeslote om nog van ons geld daarin te pomp.
Dit sal beter wees om dit te laat lyk of die anc sèlf agtergekom het die plek is bankrot en nie meer redbaar nie, hulle sal dan natuurlik al die eer kry dat hulle soveel insig het maar tenmindste is ons dan verlos van 1 van die baie bodemlose belasting putte.

Jaco ·

Suid afrika sal moet aanvaar ons is te arm vir n lugdiens. Nog n laagte punt is bereik. Maar die laagste punt is nog oppad,as die IMF vir ons moet sê hoeveel geld ons mag spandeer en op wat.

Blikkies ·

Nee Hel, hiedie ouens gaan ons mooi land en vir ons kaalgat los. Ek hoop ek het dan al die hedige met die ewige verwissel…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.