Kabinet opnuut verbind tot stryd teen geslagsgeweld

(Foto: Sandy Millar/Unsplash)

Die kabinet het hom opnuut verbind tot die stryd teen geslagsgeweld en sê wetgewing gaan versterk word. Sielkundige steun sal ook verskaf en bewusmakingsveldtogte in gemeenskappe bekend gestel word.

Gegrond op inligting van die polisie het die regering 30 sogenaamde geslagsgeweld-brandpunte in die land uitgelig. Die brandpunte is onder meer bepaal op grond van die aantal sake wat by polisiestasies in die voorafgaande boekjaar aangemeld is, asook op inligting wat van slagofferondersteuningsentrums of hospitale en klinieke verkry is.

Die stasies is: Delft, Mamelodi-Oos, Tembisa, Umlazi, Empangeni, Nyanga, Inanda, Temba, Khayelitsha, Kwazakhele, Alexandra, Moroka, Mthatha, Mfuleni, Plessislaer, Dobsonville, Bloemspruit, Diepsloot, Mitchells Plain, Ikageng, Osizweni, Kwa Mashu, Ntuzuma, Kopanong, Honeydew, Kraaifontein, Gugulethu, Orange Farm, Butterworth en Bellville.

“Die kabinet het die geraakte gemeenskappe verseker dat ingrypingsmaatreëls in samewerking met die polisie in werking gestel gaan word om die beskerming en veiligheid van vroue en kinders te verseker,” het die kabinet in ʼn verklaring gesê.

Die kabinet het ook ʼn skenking van R50 miljoen deur die Verenigde Koninkryk verwelkom wat pogings deur die regering se Solidarity Fund gaan versterk om die ekonomiese verwoesting wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, teen te werk. Die geld sal hoofsaaklik gebruik word vir projekte wat vroue ondersteun.

Die kabinet het ook sy kommer te kenne gegee oor berigte dat vroue en kinders in die kloue van bendes wat mensehandel bedryf, beland.

“Die kabinet doen ʼn beroep op mense om hierdie gru-misdade dadelik by die polisie aan te meld, eerder as om sosialemediaplatforms te gebruik. Dit maak dit moeilik vir wetstoepassingsowerhede om vinnig en voldoende te reageer.

“Die publiek word ook weereens gewaarsku teen die verspreiding van fopnuus wat onnodige paniek veroorsaak, emosies laat oorloop en geweld in die samelewing aanhits.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Ons sal na onsself kyk dankie! Daai R50 miljoen gaan WEER lekker geplunder word ek sien dit al kom

Andre ·

My hond het die week n maag operasie gehad. My hond se winde ruik nie eers so vrot soos die spul nie!

Dirk Mostert ·

Marteling en moord op vroue gedurende plaasaanvalle deur polities-gesteunde terroriste is natuurlik nie hierby ingesluit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.