Kabinet se taakspan oor Eskom het opdraande pad voor

Argieffoto: GCIS

Die regering se poging om die kragvoorsiener Eskom reg te ruk, het hierdie week onder leiding van adjunkpresident David Mabuza begin.

Mabuza en ‘n taakspan bestaande uit verskeie senior ministers het as ‘n groep afsonderlike vergaderings met vakbonde, die steenkoolmyne en die georganiseerde ingenieursberoep gehou om ‘n toekomspad en reddingsplan vir Eskom te probeer uitkap.

Die terugvoer aan vandeesweek se kabinetsvergadering is, luidens ‘n verklaring wat deur die kabinet uitgereik is, dat vele menings bestaan oor hoe om dit te bereik.

Geen daadwerklike besluite – behalwe om verder te konsulteer – is deur die kabinet gerapporteer nie.

Voorts het die kabinet sy volle ondersteuning uitgespreek vir die planne van die departement van energie om groter klem op die produksie van hernieubare energie te plaas, sodat die land minder afhanklik van steenkool en olie sal wees.

Die kabinet het ook die begroting, soos verlede week gelewer deur die minister van finansies, Tito Mboweni, verwelkom. Die kabinet het hom by alle tersaaklike beleidsriglyne neergelê.

Tydens die kabinetsvergadering is terugvoer verskaf oor die groot internasionale belangstelling in die industriële ontwikkelingsone aan Saldanhabaai in Wes-Kaapland, wat voortvloei uit ‘n ontwikkelingsplan van die departement van handel en nywerheid.

Die totale nuwe beleggings wat langs hierdie weg vir Saldanhabaai bevestig is, bedra meer as R5 miljard.

Verder het die kabinet die land se aandag gevestig op die vordering met infrastruktuur vir watervoorsiening aan die Umzimvubu-gebied in die noordelike Transkei.

Oor veiligheid by skole het die kabinet op geen daadwerklike optrede besluit nie, maar eerder leerders, ouers, beheerliggame en die polisie gevra om saam te werk ter bekamping van die probleem.

Die SAPD is wel geluk gewens met hul spoedige optrede tydens ‘n onlangse gewapende rooftog by ‘n skool in Edenvale aan die Oos-Rand, waarby onderwysers en leerlinge nie betrokke geraak het nie.

Die kabinet het Suid-Afrikaners gewaarsku teen kwaksalwers wat onder die mantel van godsdiens die goedgelowiges om die bos lei deur hulle onder meer met insekdoder te spuit.

Suid-Afrikaners is deur die kabinet aangemoedig om op 8 Mei in die nasionale verkiesing te stem.

Die kabinet het ook hul steun uitgespreek vir die atleet Caster Semenya om ongehinderd aan vroue-atletiek te kan bly deelneem, en het hul kommer uitgespreek oor die verslegtende maatskaplike situasie gegewe die beleerde regering van Venezuela in Suid-Amerika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dafer ·

Vir almal van ons wat nie voorstaanders van die anc is nie, was dit nog altyd duidelik dat hulle nie die land kan regeer nie.
Hulle kan nie eers ‘n besigheid bestuur nie!

Ella1 ·

Ja Jan-Jan mens sou kon lag oor jou beriggewing hieroor as dit nie so hartseer was.
Die “kabinet” (wat eintlik n groot kas is) maak groot gewag van onbelangrike dinge maar het geen oplossing of raad oor die gemors by Eskom wat n staatsbeheerde entiteit is en beslis baie beheer benodig.
Lyk my iemand, nie die “kabinet” nie, moet hul hand heeldag vashou en reel dat noodsaaklike voorraad betyds bestel en afgelewer word dan sal ons nie tydig en ontydig gedreig word met “loadshedding”
Doe komitee onder leiding van mnr Mabusa gaan nie veel bereik want “too many cooks spoil the broth”

Skroef ·

Net een oplossing vir eskom se probleem. VERKOOP SELF KRAG AAN DIE PUBLIEK. EEN KW, EEN PRYS. Dan sal minder mense van die grid af verdwyn en daar sal geen middelman wees om die geld in sy sak te steek nie.

Siener ·

Dit het twintig jaar geneem om ESKOM te verwoes, dit gaan baie langer neem om dit weer op te bou! Eskom is bankrot en wankel op sy laaste bietjie asem. Dit is net n kwessie van tyd voor die hele netwerk in duie stort

jean ·

Pie in the sky!……en as Mabuza eers begin sê dat Eskom se probleme in orde is want dit dui op ekonomiese vooruitgang,,,dan weet ons klaar dat die ligte alreeds in die komitee af is…..

ne ·

Koop maar solank altenatiewe toerusting, SA is binnekort “donker Afrika” Goeie anc bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.