Kabinet veroordeel grondbesettings

Nomvula Mokonyane. Foto: Elmond jiyane, GCIS

Die kabinet het vanoggend grondbesettings veroordeel en grondeienaars versoek om spoedeisend op te tree om sulke optrede aan te meld, asook enige polisielid te verkla wat nie dadelik ingryp om grondbesettings in die kiem te smoor nie.

Die minister van kommunikasie, Nomvula Mokonyane, wat ook as kabinetswoordvoerder optree, het gesê grondhervorming in Suid-Afrika sal ordelik verloop, en is nie teen enige rasgroep gemik nie.

“Ons gee om vir ons landbougemeenskap en ons boere – of die boer nou ’n Van der Merwe of ’n Modiswe is maak nie vir ons saak nie,” het Mokonyane aangevoer.

Sy het grondeienaars versoek om onverwyld met hul naaste polisiekantoor in verbinding te tree in geval van grondbesettings, sodat die polisie kan optree, want die grondeienaar se posisie verswak met tyd. Die minister het grondbesetters gewaarsku dat die polisie baie streng teen hulle gaan optree, en dat hulle geen genade moet verwag nie.

Die kabinet het hul meegevoel betuig met die slagoffers van die brand wat steeds woed in ’n wolkekrabber in die Johannesburgse middestad, die slagoffers van die treinongeluk in die Johannesburgse buurt Selby en met die slagoffers van Maandag se ontploffing by Somerset-Wes.

Mokonyane het Suid-Afrikaners verder gevra om te verenig agter regeringsinisiatiewe om die ekonomiese resessie hok te slaan. Mynbou, konstruksie en finansiering het in die afgelope kwartaal gegroei, maar ander sektore, veral landbou, het agteruit geboer. Uitvoere het toegeneem, maar huishoudelike besteding het afgeneem. Private maatskappye belê wel nou meer in die land.

Die regering het ook onderneem om die visumstelsel in die land te wysig sodat veral mense met skaars vaardighede en beleggingskapitaal die land makliker kan binnekom en sodat dit makliker vir hulle is om hul kinders saam te bring.

Die regering meen voorts dat die beplande beraad oor die ekonomie en werkgeleenthede, wat sal uitloop op ’n stimuluspakket, die ekonomie sal bevoordeel. Besonderhede sal in die mediumtermyn-begroting, wat aanstaande maand ingedien word, uitgestippel word. Mokonyane het beklemtoon dat die staat se ingryping in die vlakke van die petrolprys eenmalig is.

Sy het ook aangekondig dat die nuwe Cornelisrivierdam by Warden in die Vrystaat voltooi is.

Die regering het verder die verklaring verwelkom dat die listeriose-uitbraak wat die land sedert die begin van die jaar teister, op ’n einde is. Die regering het maatreëls ingestel om ’n herhaling te voorkom.

Mokonyane het nogmaals ’n beroep gedoen op almal wat maatskaplike toelaes van die staat ontvang om hul nuwe SASSA-kaarte te kry, en op behoeftige voornemende studente om vir NSFAS-finansiering aansoek te doen.

Voorts is ’n nasionale plan vir die uitbreiding van nasionale beskermde gebiede goedgekeur om balans te probeer skep tussen ontwikkeling en bewaring.

Wetgewing wat vandeesweek deur die kabinet goedgekeur is sluit in ’n wetsontwerp op werkverwante beserings, wat huishulpe by bestaande wetgewing sal insluit, en ’n wysigingswetsontwerp op kinderregte, wat die ouderdom van kriminele aanspreeklikheid sal opstoot van 10 jaar na twaalf jaar.

’n Nuwe wysigingswetsontwerp op burgerlugvaart, wat Suid-Afrikaanse wetgewing in pas met wêreldregulasies sal bring, is ook goedgekeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Paul ·

Ek hoor graag die minister van polisie se reaksie en of hy sodanige opdrag aan die kommisaris deurgegee het, want hulle doen niks, staan net as toeskouers rond.

marco polo ·

Wat van al die blankes met skaars vaardighede wat nie werk kan kry nie, omdat hulle blank is. Verander eers daardie wette.

Anoniem ·

Ek wonder waar kom die skielike sagte benadering teen grondeienaars vandaan ? Resessie, beleggings wat kwyn of ‘n swak ekonomie of net PAAI

Sjuut, moenie dat Mnr Malema dit hoor nie

Marius ·

Die anc se verwarde en swak beleid is 80 ℅ + verantwoordelik vir die ekonomie se swak prestasie. Anc kry julle huis in orde en maak julle swak beleid en dubbel pratery reg.

koos1 ·

Mmmmm….. wat van die boer (swart man) wat vir hoe lank spook om die plakkers te verwyder van hulle grond, Noord van Pretoria?
SAPS het hulle nie gehelp nie, en hulle moet AGRIFORUM (volgens die ANC ‘n rassistiese element met die doel om die ANC omver te werp, en agent vir die VSA, en moontlik nog ‘n spul goed aan hulle toegedig) vra om hulp.
Nou is die minister van komunikasie se werk weer gedoen vir ‘n maand of so, nou kan sy haar weer beywer vir haar polititieke party!
Nee wat regering, julle voel niks vir niemand nie, nie swart nie, ook nie wit nie. Lui Marie Anttionette van Frankryk dalk ‘n klokkie. Ons weet almal hoe sy aan haar einde gekom het!

Helene Heyns ·

Watter regdenkende mens met beleggingskapitaal sal met sy gesin in hierdie land, waar n lewe niks werd is nie, wil kom bly en belê. So hul kan maar die visumstelsel netso los soos dit op die oomblik is.

Spike ·

Nee Marius. anc is 100% verantwoordelik. Die land is ñ bouval.

AgAsseblief ·

Jammer ANC ek glo julle nie. Julle afgelope 24 jaar van absolute patetiese regering, en rassisme teenoor die blanke, oortuig my glad nie.

Rynhardt ·

Anc jul is gou om grondbesettings te veroordeel,maar wat jul se en doen is twee verskillende dinge!Agter die skerms word n ander deuntjie gespeel teen boere.Ons mense word onderdruk en uitgemoor!Verder word boere se produkte geneutraliseer deur ingevoerde produkte!!Dit is die skaakspel wat gehandhaaf word met agterbaksheid!!

Jerry ·

Eienaars en die forum moet kennis neem en dit hulle lewensideale maak om SAPD lede wat nie teen grondgrypers optree nie, aan te kla. Kaderontplooiing se geselekteerde wetstoepassing is een van die hoofredes vir, “it pays to do crime in SA, especially against the colonialists”!

Judge Dredd ·

Sy lieg darem lekker ne’?
En nee, nou is nie die tyd om die regering se inisiatiewe te steun – laat hulle hard val – hulle dink mos hulle kan doen net wat hulle wil.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Grondbesetting is verkeerd en word veroordeel, wat van plaasmoorde? Julle is skynheilig.

Ag asb tog ·

VEROORDEEL Maar julle doen niks daaraan nie AFRIFORUM moet altyd kom help.

marous ·

Vertel eerder wat het julle met die half afgebreekte Tzaneen dam wal se geld gedoen medame . Dit was onder jou beheer ……

honourable member ·

Rerig? Julle oggend en aand praatjies is nooit dieselfde nie…

Stuiwer ·

Nou wil hulle ons verenig! Dit nadat hulle die oorsaak is van verdeling met hierdie belaglike grondonteiening inisiatief! Jy kan hulle nie vertrou nie, die een dag wil hulle boere se grond vat en die vlg. dag gee hulle kwansuis so baie vir die boere om. O, en moet tog net nie vergeet dat almal omarm word nie, of jy nou ‘n van der Merwe is of nie. Blah, blah, blah…..

Johan H. ·

Verkleurmannetjies en verkleurvroutjies die lot van hulle. Is dit die beste wat hulle kon oplewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.