Kabinet verslap visumregulasies

Argieffoto (Sure Travel)

Argieffoto (Sure Travel)

Die kabinet het Woensdag ingestem om streng visumregulasies te verslap wat vroeër vanjaar in werking getree het.

Jeff Radebe, minister in die presidensie, het Vrydag gesê die toegewings waarop die interdepartementele komitee besluit het, sal werk maak van die “onbedoelde gevolge” van die nuwe strenger visumregulasies. Die toegewings is in drie kategorieë verdeel, het Radebe gesê. Dié wat binne drie maande geïmplementeer sal word, dié wat tussen drie maande en ʼn jaar sal neem om te implementeer en dié wat eers oor ʼn jaar van toepassing sal wees.

Besoekers en mediese reisigers in lande waar daar geen Suid-Afrikaanse konsulate of ambassades is nie, sal binne die volgende drie maande hul visumaansoeke deur die pos kan indien. “Daarna sal hul inligting met biometriese stelsels by aankomspunte in die land ingesamel word,” het Radebe gesê.

Besoekers van Rusland, China en Indië sal vir hul visums kan aansoek doen deur geakkrediteerde reisagentskappe “met moontlike uitbreiding na ander lande wat ʼn visum vereis”. Binne die volgende jaar sal die departement van binnelandse sake meer visum-fasiliteringsentrums in China, Indië, die Verenigde Koningryk, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola, Ghana, Kenia en Uganda instel.

Langtermyntoegewings sluit die finalisering van die outomatisering van die visum- en toelatingstelsel in. Die kabinet het ook toegewings gemaak met betrekking tot die visumregulasies vir kinders. Binne die volgende jaar sal die besonderhede van Suid-Afrikaanse ouers in die paspoort gedruk word, sodat die ouers nie ʼn volledige geboortesertifikaat hoef te toon wanneer hulle met hul kinders reis nie.

Oorsese reisigers sal egter steeds ʼn oorspronklike geboortesertifikaat of gesertifiseerde afskrifte daarvan moet saambring wanneer hulle aansoek doen vir ʼn Suid-Afrikaanse visum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

F ·

Ja, hulle is voor die tyd reeds attent gemaak op die “onbedoelde” gevolge, maar hoekom sal hulle nou luister? Waar gaan die geld vandaan kom om al die oorsese missies op te rig? Die studente het dan nou alles opgeslurp. Wys net weer. Jy kan niks glo wat deur die huidige regering aan ons opgedis word nie.

Johann ·

Ondeurdagte veranderings aan ‘n stelsel wat werk, kan net gedoen word deur individue wat NIE kan dink nie. Nou het hulle enorme skade aan die toerisme bedryf veroorsaak…wat jare gaan neem om te herstel. Komitee op komitee sit nou vir ure om tafels en nonsens praat en op die belastingbetaler se koste vreet………terwyl ons grense tussen Suid Afrika en die lande noord van ons soos ‘n sifdraad lyk. Ons land is oorspoel deur onwettig immigrante wat steel, moor, roof, onwettig myn, smokkel, dwelms vervaardig, ons waterbronne besoedel, elektrisiteit steel in elke squatterkamp…….maar daarmee is daar vrede. Kom ons maak dit liewer ontmoontlik vir die “wettige” toeris, wat geld hier kom spandeer, om hiernatoe te kom. Ek is Afrika versadig….

Johan 2 ·

Hul is pateties. Hoe vorder Orania en Kleinfontein se onafhanklikheids planne dat ek kan “imegreer”.

Francie ·

Weer ‘n pragtige voorbeeld hoe maklik ons Parlement graag na almal se pype wil dans. Wanneer dit hulle pas bygesê. Vir een keer het ek saamgestem met hulle reëings om kinders te beskerm teen uitbuiting en ontvoering. Ek dink enige ouer was dankbaar toe hierdie wette ingestel is, en sal nie omgee vir die ekstra moeite nie. Verder dink ek ook nie dat daar soveel ontevrede mense met kinders is dat dit die toeristersyfers dramaties kan beinvloed nie. ‘n Jammer dag vir ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.