Kabinet verwelkom gesprek met AgriSA oor grondkwessie

Nomvula-mokonyane

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie en kabinetswoordvoerder. Foto: ANA.

Die kabinet verwelkom die landbou-organisasie AgriSA se bereidwilligheid en insette om met die regering gesprek te voer oor grondhervorming en regeringsbesluite oor grondonteiening.

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie en kabinetswoordvoerder, het Donderdagoggend tydens ʼn inligtingsessie oor hierdie week se kabinetsvergadering aan die parlementêre perskorps gesê die Suid-Afrikaanse landbousektor is gereed vir investering, en dat alle Suid-Afrikaners aan die gesprek oor grond moet deelneem.

Sy het redelik kleigetrap oor of die Grondwet verander moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Aanvanklik het Mokonyane gesê die kabinet aanvaar dat die Grondwet verander sal moet word. Toe sy later daarmee gekonfronteer is dat pres. Cyril Ramaphosa gister tydens presidensiële vraetyd gesê het daar is nog nie besluit oor of die Grondwet verander moet word nie, het sy teruggekrabbel.

Die regering besef dat voorgestelde nuwe drankwetgewing uiters ernstige gevolge kan hê as alle drankadvertensies verbied word. Verdere onderhandelings hieroor sal plaasvind, het die minister onderneem.

Oor die uitbreek van listeriose, waaraan meer as 180 Suid-Afrikaners reeds dood is, het Mokonyane die regering se meelewing met die families van slagoffers uitgespreek, en gesê die staat se ontdekking van die bron van die siekte het baie bygedra tot die behandeling daarvan.

Die minister het gesê die kabinet het die uitbetaling van Sassa-welsynstoelae bespreek en is daaroor deur Sassa ingelig. Sy het belowe dat alle welsynstoelaes betyds en sonder probleme oorbetaal sal word, in navolging van die hooggeregshof se bevel, en wel deur die poskantoor.

Huidige Sassa-kaarte sal tot 1 Desember geldig wees. Mokonyane het alle ontvangers van maatskaplike toelaes wat nog nie oor ʼn bankrekening beskik nie, gevra om een by die Posspaarbank te open.

Sy het aangekondig dat 2,8 miljoen Suid-Afrikaners verlede naweek hul stempunte besoek het om as kiesers te registreer of hul adresse op te dateer.

Hiervan het 500 000 nuut geregistreer as kiesers en 800 000 het hul adresse verander. Die meeste nuwe kiesers het in Gauteng geregistreer, gevolg deur KwaZulu-Natal en Limpopo.

Die totale hoeveelheid kiesers is nou 26,2 miljoen, wat 75% van alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners is. Daar is nog 2,5 miljoen presiese adresse uitstaande. Kiesers wat nog moet registreer, kan dit enige dag by hul plaaslike OVK-kantoor doen.

Mokonyane het aangekondig dat die kabinet ʼn wetsontwerp op haatspraak en haatmisdaad goedgekeur het.

Sy het koerantberigte ontken dat die kabinet die toekoms van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se topstruktuur, waaronder die hoof van die inkomstediens, Tom Moyane, bespreek het. Mokonyane het uitgewys dat die minister van finansies, Nhlanhla Nene, oorsee is en dat geen sulke besprekings in sy afwesigheid sal plaasvind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ella ·

Glo niks wat hulle se. Daar is geen plan hulle maak planne soos hulle aangaan.

marous ·

Gaan AgriSA die resep kry vir die gif wat vir die Afrikaner voorberei word ?

Vlug maat vlug ·

AG hoeveel gesprekke was al daar? Julle druk net VOORT met julle grondonteiening en dan se julle julle HET probeer onderhandel. Dit is alles BOLLIE, dit gaan tot niks kom nie, die regering gaan DEURDRUK met sy plan .. grondonteiening SONDER vergoeding en daar is absoluut NIKS wat Agri SA of enigeen kan doen daaraan nie. Dit word net gedoen vir die BEELD NA BUITE dat hulle wel ‘onderhandel’ het met die boere, maar dat die boere HARDKOPPIG Is .. dit is ‘n OEVERBLINDERY … VLUG AUSTRALIE TOE NOU !!!

Martin ·

Julle wat nou so gal braak. Wat het julle gedoen of gaan julle doen om dinge te verander of beter te maak? Die mense is mos bereid om te praat.
Om op die kantlyn te staan en skree gaan ook niks oplos nie.

Gestremde ·

Tydmors!!! Voer liewer ‘n gesprek die buiteland en lê die feite op die tafel dat hulle moet intree en die blankes moet help met dringende ondersteuning.

lizl ·

Jy kan se wat jy wil, praat net wat jy wil… as jy `n ANC lid is, is jou woord so goed soos `n emmer wat van sif gemaak gemaak is. EK GLO JOU NIE. Australie… pasop, hier mag dalk net `n oormag van Suid Afikaners jul aanbod aanneem. Ek skree van nou af vir die All Blacks, let wel die Australiese All Blacks

Koebaai ·

Hulle het nooit voorheen geluister nie en wil die Grondonteieningswetgewing in Augustus deurdruk so WIE wil nog met julle onderhandel? Die kabinet/regering is die grootste opstokers van grondonteiening sonder vergoeding en wil vir MALEMA terug in hulle geledere he so kry vir julle . die wit boere gaan soos vliee vlug, die paddas gaan spring voordat julle hulle gekook het .. cheers!

Johann ·

Dis nou dieswlfde onbevowgde ANC Zumakie wat SA se Departement van Waterwese en Sanitasie BANKROT en in absolute chaos gelos het! Voordat sy haar nuwe pos gekry het van LIEG SOOS EK EN JY EN JULLE EN ALMAL ANC LEGACY PROPAGANDA? En sy het die vermetelheid om te verwag ek en ander in en om SA moet haar liegwry glo!

Oom Kalahari ·

@Martin, hier is geen galbrakery nie, maar werklikhede. Kan jou dieselfde vraag vra met wat jy al gedoen of bygrdra het. As jy eers verlies het in familie lede sal jy dalk anders dink. Of jy kruip reeds in die buiteland weg en wil nie ander se lewens en werklike omstandighede raaksien nie. As jy so suksesvolle onderhandelaar is dan asb stel jouself beskikbaar en ons oe is op jou gerig vir uitkoms. Dit is tydmors en die ANC manifes is die uitslag.

humor ·

Hoop net AGRI SA sien plaasmoorde ook as n vorm van grondonteiening sonder vergoeding . Want hoeveel plase le vandag sonder volle produksie agv plaasmoorde?

liz ·

AgriSA moenie julle asem en tyd mors nie, praat met die buiteland en bewerk ‘n plan vir ons en ons kinders in lande waar ons waardeer gaan word en nie dag vir dag uitgemoor gaan word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.