Kabinetskommeling: 4 ministers kry dalk trekpas

malusi-gigaba

Minister Malusi Gigaba. Foto: DoC

Terwyl die Jacob Zuma-kaartehuis verstommend vinnig inmekaarstort, die Zuma-kornuit Ajay Gupta nou amptelik voortvlugtend is en die staatsrede die fokus van gesprekke is, lyk dit of baie Zuma-ministers binnekort op soek kan wees na ander werk.

Die samestelling van die kabinet hang volkome van die president af, en dit laat ministers wat baie naar oor pres. Cyril Ramaphosa was, of oor wie se betrokkenheid by staatskaping daar onheilspellende bewerings is, potensieel in tamatiestraat.

Ramaphosa het gister in sy repliek op die insette van opposisieleiers omtrent sy inhuldiging geen twyfel gelaat nie dat ʼn kabinetskommeling op hande is.

Bathabile Dlamini. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die enigste vrae is wanneer hy dit gaan doen en wat die omvang daarvan gaan wees.

Oor die wanneer is daar tans twee teorieë. Die eerste is dat hy dit Sondag gaan doen, en die tweede is dat hy sal wag tot ná die begroting, wat Woensdag gelewer gaan word.

Die rede vir die twyfel is dat, as ʼn mens ʼn lysie moet opstel van die vier ministers wat die mees waarskynlike slagoffers van kabinetskommeling-koeëls gaan wees, die naam van Malusi Gigaba as minister van finansies baie hoog figureer.

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Gigaba se begrotingsrede is teen hierdie tyd min of meer volledig geskryf, en dit gaan waarskynlik geen goeie nuus bevat nie. Om iemand anders nou daarmee op te saal gaan ingrypend wees.

Maar Gigaba is die man wat op bedenklike wyse as minister van openbare ondernemings die Gupta-dampkring losgelaat het op ons land se openbare ondernemings, waar hulle hul kloue met soveel nare gevolge vir die land ingeslaan het.

Gigaba was die man wat as minister van binnelandse sake seker gemaak het die Guptas kry op bedenklike wyse Suid-Afrikaanse burgerskap. Gigaba is die man wat kennelik totaal uit sy diepte is wanneer fiskale beleid aan die bod kom, en gewoon die gravitas kort om minister van finansies te wees. Vra jy ʼn voorbeeld? Hier is een uit gister se parlementsitting: Hy het gesit en Candy Crush speel op sy rekenaartjie terwyl die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, die regerende party se redes om Ramaphosa as president te steun, verduidelik het.

David Mahlobo. Foto: GCIS

No. 2 op ʼn politieke kabinetsuitwissingslys is Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling en moeder van sowel die Sassa-skandaal met welsynsuitbetalings as die stelling dat almal in die ANC mos maar hul geraamtetjies (“smallanyana skeletons”) het, en die implikasie dat dit dood natuurlik en eintlik aanvaarbaar is.

No. 3 is Faith Muthambi wat kabinetsgeheime laat uitlek het aan die Guptas en die SAUK tot op die rand van die afgrond gebring het; en no. 4 is David Mahlobo, minister van energie, wat die Russiese kernkragooreenkoms probeer deurstoot het en onder wie se leiding as minister van intelligensie hoogs bedenklike dinge in die staatsekerheidsagentskap gebeur het.

Die lang messe is geslyp. Die kabinetslagting wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Emsie Van De Vel ·

Pez. CR moet tog nie van Des Van Rooyen vergeet nie, hy word onder die selfe kam as die ander 4 geskeer!

Sarie ·

Ek stem saam daar is nog baie wat kan gaan, wat net mooi niks doen nie net daar sit vir die groot salaris. Eerstens bring vir Pravin Gordhan terug! Dit is noodsaaklik. Gigaba dra te veel bagasie saam met hom en sy kennis van finansies is pateties. Hy is net eenvoudig nie ‘n minister van finansies nie. Dan is daar nog Lynn Brown en ‘n hele paar ander. Doen tog asseblief ‘n deeglike kabinetskommeling!!

Nettie ·

Raak van die hele boksendaais ontslae, met uitsondering van Pravin Gordhan (ex Finansies Minister), Naledi Pandor (ex Minister van Onderwys, ek-weet-nie-watter-portfolio-nou-nie) en Derek Hanekom (ex-minister van Toerisme), Bowenal, SA het ‘n té groot Parlement, met Ministers, Adjunk-ministers, Skadu-ministers, Adjunk-Skadu-Ministers, en Adjunk-Adjunk-Skadu-Skadu-Ministers.

Don ·

Ek dink daar is so 10 wat sal gaan. Voeg by Zwane, Mbalula, Mokonyane, Van Rooyen onder andere. Verwag Mkhize en Mchunu om in te kom vir die KZN dilemma.

TTh ·

Nou gaan die moeilikheid oplaai vir SA se minderhede, nuwe president is nie wat mense dink nie… maak maar gereed vir groot frustrasies…

Paul ·

CR was ongeopponeerd en is toe outomaties as president ingehuldig vir die res van Zuma se termyn, so daar gaan nie oor 30 dae weer gekies word nie.

christa ·

Hopenlik het CR darem net een vrou waarvoor SA moet onderhou. Alles klink belowind, sal maar sien. Solank eerlikheid die wagwoord is, glo ek sal dinge hulself uit sorter ten goede,

Opgewonde ·

Ek stem saam, maar kan nie wag om te sien die kabinet kleiner gemaak gaan word met net die bestes en eerlikstes aan die stuur nie.

CG ·

Jacques. Jy reken CR neem waar vir 30 dae. Wat dink jy het gebeur toe hy en die Hoofregter gister ” gesels” het en CR sy hand so opgelig het? Het hy tata gewuif?

C ·

Oe ê ê. Hierdie Sepie raak nou so warm en intresant. Kan nie wag vir die volgende episode nie. Wag ek moet gaan, my popcorn en coke is klaar!!!!

Lize ·

Moet ook nie vergeet van die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti nie. Ondersoeke sou geloots word na sy betrokkenheid by die oordrag van die plaas Bekendvlei in Limpopo maar geen haan het verder daaroor gekraai nie. Die Departement het die eiendom aangekoop vir 97 miljoen en oorgedra aan ‘n vriend van Mnr Nkwinti wie werksaam was in Luthuli Huis. Mnr Nkwinti het blykbaar ook 2 miljoen as kommissie ontvang.

ne ·

CR wys ons hoe ‘n staatshoof moet lyk – moet asseblief net nie dans nie! Of he-he-he lag nie! Jammer jy kry so ‘n vrot spul – maak skoon asseblief????????

Alida ·

Waar was jy gister? Ramaphosa is onbestrede deur die Parlement verkies tot met die algemene verkiesing 2019.

PJC ·

As CR wil hê dinge moet vlot verloop is daar ten minste ń dosyn ministers en ook ń hele paar adjunkte waarvan hy ontslae sal moet raak. Met al die uitdagings wat op hom wag kan hy nie bekostig om enige onbevoegdes en rugstekers rondom hom te hê nie.

Jacques Venter ·

Ek is so bly dat my aanname van tydelike president verkeerd was. Dankie aan die wat die fout uitgewys het.

Na die Sona is ek so opgewonde en hoopvol vir SA. Kyk Ramaphosa gaan nie strooi van kabouters vat nie. Hulle gesigte in die parlement het my tot in my tone laat lekker kry

RHG ·

Een ding wat nie lekker in my binneste sit nie is dat grond sonder vergoeding onteien word. Een groep word seergemaak om vir ander te gee. Ek het ook nie gehou van die luide applous daarvoor nie.
Ek kry ‘n beklemming om my hart oor die NHI. Die middelklas ly om vir ander te betaal. In die VSA was mense omgelukkig daaroor. Klink alte veel na kommunisme.

HESTER ·

RHG – Jy slaan die spyker op die kop, dit is kommunisme. Mense in hierdie land is net te bang om dit so te noem.

msp ·

Sjoeee, lyk of die son weer vir Suid Afrika opgkom het. Ek sien sit as antwoord op al die gebede wat opgegaan het.

PJC ·

Ja Paul ek dink jy is dalk in die kol. Ons sal maar moet wag en sien.

Christa ·

Julle moet versigtig hier oor die klippetjies, ek sit gisteraand en luoster na cr se staatsrede, hy is en klink vir my na n darkhorse, want dit was weer net swart dit en swart dat, niks van die blankes nie. So nou is ons terug in ’94, dit klink vir my so.

Elize ·

Lynn brown moet gaan , ons kan doen met Gordon in haar plek om di SOCs te probeer omkeer

Proeflees ·

Uitstekende beriggewing — net een proeflees oorsig: In die derde laaste reëltjie `staatsekerheidsagentskap’ en nie `staasekerheidsagentskap’ nie.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Proeflees
Dankie vir jou valkoog! Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Eddie ·

Dit tot sover nog net die eerste show van die sirkus !
Kom ons kyk wat regtig gaan gebeur !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.