Kabinetskommeling dalk op pad

Dr Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: GCIS)

Gerugte dat pres. Jacob Zuma beplan om Blade Nzimande, minister van hoëronderwys en opleiding, te pos en Nkosazana Dlamini-Zuma in sy plek aan te stel, is nie te onwaarskynlik nie.

“Dit beteken dat Suid-Afrika binnekort die tweede kabinetskommeling in die jaar kan verwag. Dit is ʼn president se prerogatief om sy kabinet aan te stel en ons het al gesien Zuma sal nie skroom om sy kabinet van opponente te suiwer nie,” het prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

Duvenhage meen Zuma sal ook allermins huiwer om sy kabinet en instellings te gebruik om Dlamini-Zuma suksesvol as presidentskandidaat te posisioneer.

Die gerugte volg nadat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Vrydag bevestig het Dlamini-Zuma sal hierdie week as ʼn LP ingesweer word. Mantashe het ook gesê dit was nog altyd die ANC se plan om haar weer in die parlement te gebruik nadat sy haar werksaamhede by die Afrika-Unie afgehandel het. Hy wou egter nie verder uitbrei oor planne om haar in die kabinet op te neem nie.

Duvenhage meen, in aansluiting by verskeie ander politieke ontleders, dat Dlamini-Zuma nie lid van die parlement word om bloot net nog ʼn agterbanker te wees nie.

“Die plan was nog altyd om Dlamini-Zuma so vinnig moontlik in die nasionale vergadering te kry. Pule Mabe se bedanking as ANC-LP verlede maand het dit nou moontlik gemaak. Daarna sal sy onmiddellik in die kabinet opgeneem word en ek voorsien dat sy uiteindelik as adjunkpresident aangestel sal word.”

Dit beteken dat Cyril Ramaphosa as adjunkpresident verwyder sal word. Bheki Cele, ʼn lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het Sondag gesê daar is ʼn komplot om Ramaphosa as adjunkpresident te laat verwyder en die land in chaos te dompel om te verhoed dat die ANC se nasionale konferensie in Desember voortgaan.

“Daar bestaan by my geen twyfel nie dat daar ʼn plan is om van Ramaphosa ontslae te raak. Ek is ook seker daarvan dat indien Zuma nie daarin sou slaag om Dlamini-Zuma, of homself, as ʼn presidentskandidaat te vestig nie, dat hy alles in sy vermoë sal doen om die party se nasionale konferensie te ontspoor.”

Zuma het al by tye genoem dat hy homself sal beskikbaar sal stel vir ʼn derde ampstermyn. “Maar hy praat met rede baie deurmekaar hieroor om vir homself speelruimte te skep. Ek dink tog as hy daarin kan slaag om Dlamini-Zuma suksesvol as presidentskandidaat te plaas, sal hy heel gewillig uit die politieke kollig tree, maar dit tog nie heeltemal verlaat nie – hy gaan op die agtergrond steeds die toutjies trek.

“Zuma gaan gewis die politieke spel tot sy uiterste speel. Hy is besig met ʼn magstryd ter wille van oorlewing en hierdie stryd is nog nie gewen of verloor nie.”

Duvenhage meen nog ʼn kabinetskommeling nou sal verreikende negatiewe gevolge vir die politiek en die ekonomie inhou. “Dit gaan vertroue in die land net verder in die skadu stel. Dit sal dit net duideliker maak dat besluite geneem word om ʼn sekere faksie te bevoordeel, en nie in die beste belang van die land nie. Ons sal weer eens ʼn swaar ekonomiese prys vir nog ʼn kabinetskommeling betaal.

“Zuma se besluit om Dlamini-Zuma as minister van hoëronderwys aan te stel sal seker nie ʼn onmiddellike slegte besluit wees nie. Ek weet baie van my kollegas in die universiteitswese sal verheug wees om Nzimande te sien gaan.”

Dlamini-Zuma is ʼn ervare kabinetsminister wat reeds die posisie as minister van gesondheid, buitelandse betrekkinge en binnelandse sake beklee het  voordat sy tot einde Januarie vanjaar voorsitter van die Afrika-Unie was. Indien sy ook die aankondiging sou kon maak dat die regering gratis hoëronderwys gaan befonds, sal dit net nog ʼn welkome hupstoot vir haar veldtog as die presidentskandidaat wees.

Politieke ontleders het egter ook gewaarsku dat die pos as dié minister beslis nie ʼn maklike een sal wees nie en haar veldtog ook in die wiele kan ry indien die regering nie daarin sou slaag om gratis hoëronderwys te finansier nie.

“Ironies genoeg is daar vir my ʼn parallel tussen Zuma se planne om Dlamini-Zuma as presidentskandidaat te vestig en oudpres. Thabo Mbeki se soortgelyke pogings destyds met die aanstelling van Phumzile Mlambo-Ngcuka as sy adjunk. Dit lyk vir my so baie na dieselfde storie, met net die name van die spelers wat nou verander het. Mbeki se planne het destyds nie geslaag nie, maar ek weet nie of dit te vroeg is om nou al dieselfde van Zuma te sê nie,” het Duvenhage gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swart Piet ·

Dit sal n goeie ding wees, want dan sal die SAKP hulle vervies vir die ANC en dan hopelik die drie party venootskap verbreek. Sodoende val die ANC dan uit die bus met die volgende verkiesing.

zoom zoom ·

Gaan dit ook na middernag gebeur as hy terug ry vanaf Saxomworld?

Vermeende ·

Dlamini is die volgende president van SA, hierdie hou niks goeds in vir ons land nie.
Daai klomp Zumas het Afrika demokrasie behoorlik onder die knie, net jammer die blankes kan nie die verskil raaksien nie.

Bullseye ·

Haal asb solank die Rand se valskerm uit dat hy nie te pletter val nie

Toppie ·

Dlamini gaan aangestel word as deel van Zuma se plan om uit die tronk te bly. Die man is ‘n meester met die politieke kul kuns

Vonkie ·

As Dlamini Zuma Minister van hoeronderwys word, dink ek nie Angie Motshekga, wat Minister van basiese onderwys is, gaan baie tevrede wees nie. Ek het n idee dat hulle nie goed klaarkom, soos wat sy en Blade klaargekom het nie!! Ek het ook n idee dat Angie vir Cyril as President steun…?

Vonkie ·

Ek wonder of Prof. Duvenage met my saamstem, maar ek dink Angie Motshekga gaan ook uit haar pos ontslaan word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.