Kabinetskommeling: Hof sê oor appèl

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die hooggeregshof in Johannesburg het aan pres. Jacob Zuma verlof toegestaan om appèl aan te teken teen ʼn vroeëre beslissing rakende sy omstrede kabinetskommeling in Maart vanjaar.

Regter Bashier Vally het op 4 Mei beslis Zuma moet binne vyf dae dokumente verskaf rakende sy besluit om Pravin Gordhan as minister van finansies en Mcebisi Jonas as sy adjunk af te dank tydens die betrokke kabinetskommeling. Dit volg nadat die DA ʼn aansoek ingedien het om die hof te versoek om Zuma te dwing om redes vir sy besluit te verskaf. Die DA meen Zuma se besluit was irrasioneel en daarom onwettig.

Zuma het ná hierdie uitspraak die hooggeregshof genader om om verlof tot appèl aansoek te doen. Hoewel Vally die aansoek Vrydag toegestaan het, was hy steeds skepties. Hy het gesê hy dink nie daar is enigsins redelike vooruitsigte dat ʼn ander hof tot ʼn ander besluit sal kom nie. Hy het egter toegegee daar kan oortuigende redes wees om teen die beslissing te appelleer.

“Die president se twis is nie sonder meriete nie. Die president voer aan die beslissing het ʼn fundamentele uitwerking op die manier waarop die kantoor van die presidensie bedryf word. Die DA was nie in staat om hierdie argument verkeerd te bewys nie. In hierdie omstandighede moet hierdie saak onder die aandag van ʼn hoër hof gebring word.”

Adv. Ishaemal Semenya, Zuma se regsverteenwoordiger, het vroeër aangevoer die hof het fouteer in sy besluit en dat reël 53 van die Eenvormige Hofreëls, wat gebruik is om tot die beslissing te kom, nie op Zuma van toepassing is nie. “Die hooggeregshof behoort niks in die bewoording van reël 53 te gevind het wat daarop dui dat uitvoerende besluite by sy toepassing ingesluit is nie.”

Semenya het gesê Vally se beslissing sal lei tot ʼn oortreding van die verdeling van magte soos in die Grondwet vervat.

Adv. Steven Budlender vir die DA het aangevoer daar is geen oortuigende redes hoekom verlof tot appèl toegestaan moet word nie. Hy het gesê die hof staan slegs verlof tot appèl toe indien daar werklik dwingende redes is om dit te doen en hy meen daar word geen sulke redes in Zuma se aansoek vervat nie.

Zuma kan nou die appèlhof nader om teen die uitspraak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dirk L ·

elke ekstra dag wat Zuma aanbly is ‘n dag waarop die ANC nog steun verloor

al ·

Waarom was die regter laat vandag? Hy moes al twee uur die uitspraak gelewer het wat sy besluit was.
Wie het hom opgehou? Vreemd.

Die ANDER worshond ·

Die betrokke Adv. Semenya praat absolute snert!

As die blykbare geleerde man so kwansuis uit die eenvormige hofreëls wil aanhaal, behoort hy sekerlik te weet dat enige administratiewe proses of besluit hersienbaar is deur die Hooggeregshof van Suid-Afrika, dus ook enige administratiewe handeling van die President van Suid-Afrika (soos die skommeling van sy kabinet). Die ou trias-politika leerstuk wat alle demokratiese beskawings vanaf die destydse Grieke oorgeneem het bepaal tog dat daar ‘n skeiding moet wees tussen die wetgewende- / uitvoerende (in hierdie geval “Zupta”)- en regsprekende gesag. (Die sg. “checks- and balances”) wat die Amerikaners so graag oor teem op CNN.

Die korrekte regsproses sal wees om die betrokke Regter se beslissing onder hersiening te vat en nie op appél nie.

Die geleerde Regter moet leer om voet by stuk te hou en Adv. Semenya moet vir ‘n kredietnota aansoek doen van waar ookal hy sy “graad” gekoop het…

Charlene ·

Al hierdie dinge moet gebeur sodat God se woord in vervulling kan kom. Ons het God gekies om ons te help, bly op jul knieë. Veg in die gees, veg met die woord. As elkeen lewe en woord hier spreek kom daar wonderwerke. Spreek lewe en veg met die woord! God is in beheer. Laat hulle, hul foute maak almal moet voor die regter se stoel staan eendag. Kies die lewe bo die negatiewe kommentaar en berigte. Kies God! Erken God en bedek julself, gesinne, kinders toe met die wapenrusting van God elke dag, verseël jul toe met Psalm 91…….. but God.
And God can!!!!!

All Glory to God ·

Al hierdie dinge moet gebeur sodat God se woord in vervulling kan kom. Ons het God gekies om ons te help, bly op jul knieë. Veg in die gees, veg met die woord. As elkeen lewe en woord hier spreek kom daar wonderwerke. Spreek lewe en veg met die woord! God is in beheer. Laat hulle, hul foute maak almal moet voor die regter se stoel staan eendag. Kies die lewe bo die negatiewe kommentaar en berigte. Kies God! Erken God en bedek julself, gesinne, kinders toe met die wapenrusting van God elke dag, verseël jul toe met Psalm 91…….. but God.
And God can!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.