Kabinetskommeling: Zuma wil appelleer

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Jacob Zuma het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Pretoria se beslissing dat hy redes moet verskaf vir sy onlangse kabinetskommeling.

Regter Bashier Vally het op 4 Mei beslis Zuma moet binne vyf dae dokumente verskaf rakende sy besluit om Pravin Gordhan as minister van finansies en Mcebisi Jonas as sy adjunk te pos tydens die onlangse kabinetskommeling. Zuma moes teen vandag (Donderdag) die redes aan die DA se regsverteenwoordigers verskaf en moet ook die koste van die aansoek betaal.

Die presidensie het egter Woensdagaand ʼn verklaring uitgereik waarin Zuma 12 gronde aanvoer waarom hy teen die beslissing wil appelleer. Zuma voer onder meer aan die hof moes bevind het dat die DA nie geregtig is tot toegang tot die rekords nie weens die aard van die uitvoerende besluit.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het gesê Zuma het ook versoek dat die DA die sogenaamde “intelligensieverslag”, wat glo aanleiding gegee het tot Gordhan en Jonas se afdanking, aan hom moet oorhandig.

Selfe het gesê die president se eis is “bisar”. “Ons lei hieruit af dat Zuma dit wil gebruik as nog ʼn uitsteltegniek om sodoende nie verantwoording te doen vir sy ramspoedige kabinetskommeling nie.” Die ANC het Zuma vroeër versoek om te appelleer teen Valley se uitspraak.

Die DA wil hê die besluit om Gordhan en Jonas af te dank moet ter syde gestel word. Om dit te doen moet hulle eers Zuma se redes vir die afdanking kry.

Die Helen Suzman-stigting en die organisasie My Vote Counts het hulle intussen Woensdag tot die konstitusionele hof gewend om Gordhan en Jonas se afdanking ongeldig te laat verklaar. Die organisasies het verder gevra die hof moet bepaal dat Zuma en die Nasionale Vergadering (NV) nie hul wetlike verpligtinge nagekom het nie.

Hulle wil ook hê Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, moet ʼn ondersoek na die president se optrede instel en kragtens artikel 89 van die Grondwet beslis of hy uit sy amp verwyder moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

humor ·

Die gepeupel is weereens benoud en gooi weer jakkalsdraaie. Hoeveel maal het dit al gebeur en hoeveel nog.? Die tragedie is dat hul nooit loskom vanwee geregtigheid nie, maar vanwee skelmmagtigheid en geweteloosheid.

Loeis ·

Zuma se eis dat die DA die intelligensieverslag aan hom moet oorhandig is regstegnies glad nie ‘bisar’ nie: mens is geregtig om dokumente te sien wat iemand in ‘n hof teen jou gebruik. Dit sal wel interessant wees om te sien of die DA in besit van hierdie verslag is. Zuma weet natuurlik wat daarin staan, so hy hou die DA vir die gek. Indien dit waar is dat so ‘n verslag lui dat Gordhan in die buiteland saamgesweer het om Zuma te verwyder, was dit glad nie “irrasioneel” van Zuma om Gordhan af te dank nie. Dan moet ons ook nog sien wat eventueel die hoogste hof se uitspraak gaan wees oor Zuma se magte om ministers af te dank en aan te stel. Zuma se regspan argumenteer ook dat die regsprekende gesag nie kan inmeng met die uitvoerende gesag se besluite nie, ‘n sterk argument wat in hierdie geval in die hoogste hof getoets moet word.

Maak nie saak wat ons van Zuma dink, of wat ons wil he nie, hierdie saak kan nog enige kant toe gaan.

Pietie ·

Ek was self verbaas oor die hofbeslissing. Loeis is reg, dit lyk of hier ‘n botsing tussen die regsprekende en uitvoerende gesag is. Die president het normaalweg die prerogatief om te hire en fire soos hy wil. As dit egter tot nadeel vir die land lei, kan sy beslissing aangevat word (soos hier gebeur). Ek reken egter daar sal ‘n mate van kwaadwilligheid bewys moet word.

lw ·

Met wie se geld? Dis as gevolg van JOU wat daar ñ hofsaak is!!!!

Anika ·

Nog meer geld mors!! Vader Jacob, Vader Jacob, slaap jy nog …. da, da, da …….

Johann ·

Whahahaha! Dink nie Zuma en sy Zumaikies kan onthou hoekom hulle wat doen nie? Behalwe hul.mags vergrype en staatskaste leegdra. Sotlikheid wat mag toegeien is…gevaaaarrrrlik

AL ·

Hulle slaan nou so vure dood alle kante, hul sal moet ñ koordineerder kry om herinner te word waar om nóg ñ vuur te blus!

jaco ·

ek het n baie makliker oplossing vir Zuma: dank die regter af. dank sommer alle regters af wat uitsprake maak wat nie strook met regeringsbeleid en -optrede nie. Dit gaan my verstand te bowe dat ‘n regter wie se salaris deur die staat (ANC-regering) betaal word, uitsprake kan maak wat hy weet hom sy werk kan kos.

Willem ·

Gaan kry ‘n afskrif van die Grondwet, dan sal jy ook weet hoekom Zuma nie regters kan afdank nie.

Rynhardt ·

Die feit dat Zuma wil appelleer, wys hy speel vir tyd.Vanaand op nuus is Cyril Ramaphosa dkielik uit die bloute bekommerd oor die ekonomie en afgraderings, terwyl Zuma en Anc alles opsetlik vernietig het.Ramaphosa het gese:”Moeilike tye le voor, wees voorbereid vir die ergste!”Hulle weet wat kom.Die probleem is dat die Anc bewonderaars verstaan nie hoe hul leiers hul speel nie!

Daleen ·

Rynhardt,

News24 het nou net berig dat Zuma die afsny tyd gemis vanmiddag 4uur en weereens soos hy dit altyd doen en regkry.. maak soos hy wil en ignoreer n regter se versoek. Jy weet was dit nou Jan alleman is daar môre oggend summier n lasbrief uitgereik. DIT MAAK MENS NAAR !!!!

Scalla ·

Wil zuma maar nie erken hy was na n paar whiskyes in die middernag verplig om te skommel nie aangesien gigaba reeds die kontrak vir die kernkrag geteken het nie en hy vergeet het om hom vroeer aan te stel voor die vervaldatum vir die ooreenkoms, Gordan het verseker geweier en aangesien sy seun miljarde gaan verloor wat deur die guptas afgedwing is. Daar is wel tydsverskil tussen lande en hy her die horlosie en almanak nie mooi gelees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.