Kaboem! Kruit, hoogverraad en Kit Harington in nuwe historiese drama

Kit Harington in “Gunpowder”, nou op Showmax te sien

Gunpowder (nou hier beskikbaar op Showmax) het net drie episodes en dis dus ideaal vir vraatkykers wat op soek is na ʼn kort, aksiebelaaide drama.

Dit is die storie van Robert Catesby (vertolk deur Kit Harington, Game of Thrones se Jon Snow) en sy rol in die komplot van die Katolieke teen die Protestante om die parlementshuis op te blaas en koning James gedurende die vroeë 1600’s te vermoor. Dié geleentheid word vandag nog jaarliks op 5 November gevier as Guy Fawkes-dag.

Wat van die geskiedkundige akkuraatheid?

Plek en tyd

Stelontwerper Grant Montgomery moes die strate van 17de eeuse Londen herskep. “Die probleem met baie van die Elizabethaanse of Jakobeaanse eiendomme is dat mens dit nie kan herskep nie, daar is nie meer baie strate oor nie. Dit bestaan nie regtig nie. Ons het na The Shambles in York (ʼn straat uit die periode) gekyk, maar om dié straat te sluit en dit fisies oor te neem, sou onmoontlik gewees het met die begroting tot ons beskikking,” het Grant verduidelik. “Ons moes dus ʼn stel by Dalton Mill bou. Ons het die Tower of London-stel ook binne-in gebou, ʼn grot waar hulle kon saamsweer, huise en ʼn deel van die Westminster-paleis, wat hulle wou verwoes. Dit is alles daar gebou.”

Met hul eie stel kon die span ook outentieke dekor in die huise verseker. “Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer het ek besef daar is baie paneelwerk wat gedoen moet word. As jy ryk was, het jy jou panele geverf. Ons het dus ook binnenshuise verfwerk gedoen en dit bied ʼn baie bepaalde styl en die gehoor weet dus ook te enige tyd waar dit afspeel. Dis baie belangrik, want dit is nogal ʼn ingewikkelde storielyn,” het Grant onthul.

Teks

Ronan Bennett, medevervaardiger en draaiboekskrywer, het nou saam met Grant werk. Ronan se tesis vir sy doktoraat was “Enforcing The Law In Revolutionary England 1640-1660”. “Ek het nog altyd baie belang gestel in die 17de eeuse Engelse geskiedenis. Radikalisme, die Levellers en die Roundheads en daardie tipe idees,” het hy verduidelik.

Kit voeg by: “Ronan het besluit om die taal van die tyd te gebruik, en dit word baie akkuraat gedoen. Hy het ʼn PhD in Engelse 17de eeuse geskiedenis, so hy is baie kundig met ʼn goeie idee van waaroor dit gaan. Hy was baie opgewonde.”

Al die feite

Alhoewel daar gewoel is met die geskiedenis vir ʼn dramatiese inslag (insluitend onwaarskynlike romantiese substories), is van Gunpowder se mees aangrypende besonderhede gesetel in die werklikheid.

Kit Harington, een van die program se uitvoerende vervaardigers, speel sy werklike voorvader. Kit se doopnaam is Christopher Catesby Harington en sy ma se nooiensvan was Catesby.

Lady Dorothy Dibdale, wat in die eerste episode tot die dood gemartel word, is nie ʼn werklike persoon nie, maar haar saak en die metode van haar teregstelling is gebaseer op die marteling en afsterwe van Margaret Clitherow, wat nou as ʼn Katolieke martelaar beskou word. Sy is in 1586 tereggestel. Volgens geskiedkundige rekords is sy kaal uitgetrek, gedwing om op ʼn skerp rots te lê en ʼn deur is bo-op haar geplaas met swaar klippe daar bo-op totdat haar rug gebreek het. Dit het ongeveer 15 minute lank geduur voor sy gesterf het.

Die dodelike waarskuwingsbrief wat die hele verhaal onthul is nie ʼn foefie deur die skrywer nie – dit bestaan werklik en is aanlyn gepubliseer deur Brittanje se Nasionale Argiewe.

Die besonderhede oor hoe die koning se toiletstoel gewerk het, is ook geskiedkundig akkuraat. Die magtigste man in die land het in daardie stadium ʼn emmer gebruik en ʼn ongelukkige siel (“The Groom of the Stool”) moes dit wegdra. Koning James I se Groom of the Stool was Sir Thomas Erskine. “Mens siens selfs ʼn toneel waar die koning by sy toilet is, en dan besef jy dit was maar ʼn vuil wêreld. Geen wonder hulle het nie lank geleef nie!” het Grant gesê.

Gunpowder-regisseur J Blakeson voeg by: “Ons het ʼn baie nostalgiese idee van die geskiedenis – dat dit ʼn lieflike plek was, maar een van die wonderlike dinge van Ronan se draaiboek is dat dit glad nie só beskryf word nie. Daar is nie binnenshuise loodgieterwerk nie, daar is geen rioolstelsel nie. Mense het in die straat gesterf – die dood was oral. Dit was ʼn verskriklike plek.”

Prettige feit

Terwyl daar op werklike plekke verfilm is, het die span gereeld ernstige beligtingsbeperkings teëgekom, weens die brandgevaar in geskiedkundige geboue. Hulle kon (byvoorbeeld) slegs 25 kerse aansteek in ʼn toneel wat waarskynlik sowat 150 kerse benodig het.

Kyk Gunpowder nou op Showmax.

Oor Showmax

Showmax is ’n aanlyn televisiediens. Teen ’n enkele maandelikse fooi kry jy onbeperkte toegang tot ’n reuse-aanlyn-katalogus van TV-reekse, flieks, kinderprogramme en dokumentêre. Begin en eindig jou intekenaarskap soos dit jou pas. Geen advertensies. Jy kan enige tyd kanselleer – daar’s geen kontrak nie.

Kyk Showmax deur van apps vir slim TV’s, slimfone, tablette, rekenaars, media-spelers en speletjie-konsoles gebruik te maak. Showmax werk ook met Chromecast en AirPlay. Bestuur data-verbruik deur die bandwydte-beperkingsfunksie te gebruik. Geen internet? Geen probleem nie. Jy kan tot 25 programme op slimfone en tablette aflaai om later te kyk wanneer jy nie aanlyn is nie.

Hierdie reeks is beskikbaar op Showmax vir kykers in Suid-Afrika en die buiteland. Kry al die vermaak op jou gunstelingtoestel by Showmax: teken nou in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou ook gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

Is jy ‘n DStv Compact-kliënt?

Goeie nuus! Jy betaal nou slegs R49 per maand as jy ‘n DStv Compact Plus of DStv Compact-kliënt is – dis afslag van R50! Klik hier om meer te lees en klik hier om te sien hoe jy te werk moet gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.