Kaizer Chiefs-speler in kaping doodgeskiet

Luke Fleurs (Foto: X /Minister of Sport, Arts & Culture)

Die gewilde 24-jarige verdediger van Kaizer Chiefs, Luke Fleurs, is Woensdagaand tydens ʼn kaping aan die Wes-Rand doodgeskiet.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 20:30 plaasgevind.

“Daar word berig dat die slagoffer, wat ʼn rooi Volkswagen Golf 8 GTI bestuur het, by ʼn vulstasie naby die hoek van 14de Laan en Hendrik Potgieterweg in Roodepoort vir ʼn petroljoggie gewag het, toe twee gewapende mans hom oorval het.

“Die verdagtes het in ʼn wit BMW 1-reeks gery. Hulle het Fleurs met ʼn vuurwapen gedreig en hom uit sy voertuig gedwing. Hulle het hom daarna een keer in die bolyf geskiet.”

Masondo sê een van die verdagtes het daarna in Fleurs se voertuig gespring en daarmee weggejaag. Sy makker het met die BMW agterna gejaag.

“Hulp is onmiddellik ontbied en Fleurs is na die naaste hospitaal gehaas. Hy is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.”

Masondo sê die polisie ondersoek klagte van moord en kaping. Niemand is egter al in hegtenis geneem nie.

“Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help om die naaste polisiestasie te bel of die teenmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.”

Anroux Marais, minister van kultuursake en sport in die Wes-Kaap, was een van diegene wat diepe medelye met Fleurs se geliefdes betuig het.

“Dit is uiters tragies dat hierdie talentvolle jong man nóg ʼn slagoffer van misdaad in die land geword het.”

Fleurs het in Mitchells Plain en Vishoek grootgeword en van kindsbeen in sport uitgeblink.

“Hy het meestal as senter op die sokkerveld uitgedraf en reeds op 13-jarige ouderdom vir die Ubuntu Kaapstad Akademie gespeel. Op die jong ouderdom van 17 het hy sy eerste wedstryd in die premierliga gespeel.

Marais sê Fleurs het in 2018 by Super Sport United aangesluit en verlede jaar vir die eerste keer vir die Kaizer Chiefs uitgedraf.

“Fleurs het ook vir die Suid-Afrikaanse o. 20-span gespeel en is by die Bafana Bafana-span ingesluit, hoewel hy nog nie ʼn wedstryd vir die nasionale span gespeel het nie.

“Ons innige meegevoel en gebede gaan aan Fleurs se familie, vriende en geliefdes.

“Hy is te gou weggeneem, maar sy nalatenskap sal nie vergeet word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine ·

Arme kind! So jonk, en weggeruk uit sy geliefdes se lewens vir ‘n verdomde kar! RIV.

Skappie ·

Dit is so tragies om die goed te lees wat in ons land gebeur. Sterkte aan sy gesin en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

Ian ·

Genoeg is genoeg. Ons onbekwaame leiers is meer oor hul eie veiligheid bekommerd en vergeet van Jan publiek. Jul tyd is verby. Stem reg mense en red ons stukkende land.

Lettie ·

Ag tog so tragies. Ons neem elke dag van sulke treurige gevalle bewus. Innige meegevoel aan al die betrokkenes. My hart treur saam met julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.