Kalahari-tragedie: Gesin uitgewis ná pa ook sterf

Dané en Hendri Carstens (Foto: Facebook)

Nog ’n persoon is dood ná die brand wat Sondag in die vroeë oggendure by die Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari uitgebreek het.

Agt lede van drie gesinne is in die brand dood. Hendri Carstens (37) het Sondagaand in die waakeenheid van die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk.

Hendri was die laaste oorlewende van sy gesin nadat sy vrou, Dané (32), en hul twee seuntjies, Pierre (5) en Magiel (3), in die brand gesterf het.

Wilmien en Frans Davin saam met hul kinders Frans en Eliza. Eliza was ten tyde van dié foto nog ‘n baba. (Foto: Facebook)

Inge Bauer (7) word steeds vermis. Haar ma, Madelein Bauer (36), het die brand oorleef, maar haar pa, Stefan (39), en suster Elré (4) het in voorval omgekom. Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat polisielede vanoggend op die toneel is om na Inge te soek.

Frans Davin (36) ontvang tans mediese behandeling in die Melomed-hospitaal in Bellville. Sy vrou, Wilmien, en die egpaar se eenjarige babaseuntjie, Ben, is ongedeerd ná die voorval. Hul ander twee kinders, Frans (5) en Eliza (3), het in die brand omgekom.

Volgens Ramatseba sal ’n deskundige ook later vandag die toneel besoek om die oorsaak van die brand te bepaal.

“Al wat ons in dié stadium weet is dat die lodge aan die brand geraak het terwyl die gaste geslaap het,” het Brian Scott, bestuurder van die Kgalagadi Lodge, vanoggend gesê.

Stefan en Madelein Bauer saam met hul dogtertjies, Inge en Elré. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig die gesinne het in ʼn houthuis met ʼn grasdak gebly ten tyde van die voorval.

Twee van die vroue, vermoedelik Madelein en Wilmien, het glo met die baba uit die venster gespring toe hulle van die brand bewus geraak het. Daar word vermoed die pa’s het hul kinders probeer red.

Die Carstens-gesin en die Davin-gesin is gemeentelede van die NG Kerk in Prince Alfred Hamlet naby Ceres en die Bauer-gesin is van die Op-die-Berg-gemeente in die Koue Bokkeveld.

“Hulle was pragtige gesinne,” het ds. Jan Grobbelaar van die NG Kerk in Prince Alfred Hamlet vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

katerinadiekat ·

Is daar enige “nedersettings” naby die gastehuis?

Miskruier ·

Sommige sal dink dis n snaakse antwoord, ek het 2 weke gelede gesien hoe n rondawel met n grasdak brand, in my dorp, die dak is naby die heining aan die pad se kant. Die jong paartjie kon darem betyds hul huisraad uitdra.

lollapot ·

Glad nie snaaks nie Miskruier! Ek het ‘n video gesien van ‘n vriend se lapa wat af gebrand het in Sinoville Pretoria. . . ook heel toevallig reg teen die betonmuur aan die straat se kant.

Sandra ·

‘n Vreeslike tragedie. My innige simpatie aan almal hier betrokke. Mag God se troos julle toevou in hierdie slegte tyd.

Maritha ·

Dit is soooo verskrik verskriklik baie erg. Ek huil saam met julle

Francois Le Cochon ·

Baie baie tragies. Wilmien het deel geneem aan ” Boer Soek n Vrou” in 2010.

Niklaas ·

Absoluut tragies. Mens wonder tog hoe daardie brand kon ontstaan het , kortsluiting dalk ? Hoe het hul dit reggekry om oor provinsiale grense van die Wes kaap te reis na Noord Kaap in hierdie tye ?

Prikkie ·

Wat ‘n absolute tragedie. Mag die LIewe Vader die oorlewendes vertroos.

Claudette ·

Baie tragies gebeure, my innige simpatie aan die gesinne en families. My gebede is by julle.

Louis ·

Verskriklik!!! Nog 8 van ons mense weg, mens hou jou hart vas, 3 weke terug was dit 3 wat vermoor is. Wat gaan van ons oorbly?

Fae Fubar ·

Ek is stom van verdriet. Mag God al die families vertroos. Kalahari-nagte is bitter koud hierdie tyd van die jaar – dalk was die kaggel aangesteek om die kinders warm te hou.

johanf ·

So onwetklik en tragies….
My innige simpatie met beide families…

Plaaskind ·

Daar kan dalk ‘n moontlikheid van brandstigting ook wees met die doel om te moor. Baie hartseer, ongeag hoe die brand ontstaan het. Sterkte aan alle naasbestaandes.

madels ·

Ek wil skree! Nee! Hoe verskriklik! Hoe verskriklik tragies :-(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.