Kalahari-tragedie: Nóg ʼn pa sterf

Frans Davin (Foto: Facebook)

Die verwoestende brand wat Sondag in die vroeë oggendure by die Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari uitgebreek het, het nóg ʼn slagoffer geëis.

Frans Davin (36) het vroeër vanoggend in die Melomed-hospitaal in Bellville aan sy beserings beswyk. Frans word oorleef deur sy vrou, Wilmien (37), en die egpaar se eenjarige babaseuntjie, Ben. Hul ander twee kinders, Frans (5) en Eliza (3), het ook in die brand omgekom.

Ds. Jan Grobbelaar van die NG kerk in Prince Alfred Hamlet naby Ceres het die hartseer nuus aan Maroela Media bevestig.

Wilmien en Frans Davin saam met hul kinders Frans en Eliza. Eliza was ten tyde van dié foto nog ‘n baba. (Foto: Facebook)

Die Carstens-gesin en die Davin-gesin wat saam met die Bauer-gesin in die brand betrokke was, was gemeentelede van dié kerk. “Hierdie gemeente is stukkend,” het Grobbelaar vanoggend gesê.

Frans se afsterwe volg kort nadat Hendri Carstens (37) Sondagaand in die waakeenheid van die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad gesterf het.

Hendri was die laaste oorlewende van sy gesin nadat sy vrou, Dané (32), en hul twee seuntjies, Pierre (5) en Magiel (3), in die brand gesterf het.

Madelein Bauer (36) het die brand oorleef hoewel haar man, Stefan (39), en die egpaar se dogtertjie Elré (4) gesterf het.

Dané en Hendri Carstens (Foto: Facebook)

Die egpaar se oudste dogtertjie, Inge (7), het vermoedelik ook in die brand gesterf. Inge word sedert die voorval vermis hoewel oorskot Maandag op die toneel gevind is.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het vanoggend gesê forensiese brandondersoekers en forensiese antropoloë sal na verwagting binnekort die toneel ontleed.

“Die ondersoek sal help om die oorskot wat gister op die toneel ontdek is, te identifiseer en die oorsaak van die brand te bepaal.”

Stefan en Madelein Bauer saam met hul dogtertjies, Inge en Elré. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig die gesinne het in ʼn houthuis met ʼn grasdak gebly ten tyde van die voorval.

Twee van die vroue, vermoedelik Madelein en Wilmien, het glo met die baba uit die venster gespring toe hulle van die brand bewus geraak het. Daar word vermoed die pa’s het hul kinders probeer red.

Grobbelaar het gesê hy is in verbinding met die oorlewendes. “Hulle kry baie swaar, maar hulle word ondersteun deur familie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johanncb ·

Hierdie is ‘n verskriklike tragedie! Ons wat reeds met die dood kennis gemaak het, weet watter hartseer dit meebring! Sterkte aan die families. Julle is in ons gebede. Die Here hou elkeen se hand vas! Sterkte.

Belinda ·

Dit is ongelooflik hartseer, sterkte aan elke vriend en familie lid. Ongelooflik hartseer …..

SwartBees ·

Dis waar wat jy sê, maar gaan daai seer ooit weg. Dié is baie tragies.

Harry ·

Dis asof n hele stukkie geskiedennis daarmee heen is. Hoe bou familes hulle fondamente en toekoms weer op? Bitter hartseer. Ons gebede is met julle.

Maritha ·

So baie baie seer. Ek is so jammer vir daardie vroue. Ons kan net bid en bid en nooit weer ophou nie

Jaun ·

Dit is verskriklik tragies. Mag die Here die oorlewendes en hul families in Sy arms toevou en hulle op wonderbaarlike wyse vertroos om hierdeur te kom.

Hannes ·

Tragies, tragies en nogmaals tragies. Dit is verskriklik !

JO ·

Jammer om in al die tragedie iets uit te wys. Het Blinkwater se webblad nagegaan – hier was ‘n tragedie wat gewag het om te gebeur. Daar is ‘n boma waar ‘n groot vuur gemaak kan word reg onder die dek – sodat die dek die hitte kan voel – en met ‘n grasdak. Kom ek voorspel hier kom ernstige ondersoeke en dalk eise!!!!

popsa ·

Ons huil saam, liefste moedertjies. Kyk op…kyk gedurig op.

Llady ·

Sjoe, dis hartverskeurend! Innige simpatie aan al die oorlewendes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.