Kalahari-tragedie: Oorskot in puin dalk dié van vermiste sewejarige

Stefan en Madelein Bauer saam met hul dogtertjies, Inge en Elré. (Foto: Facebook)

Die polisie in die Noord-Kaap het die oorskot van nóg ʼn slagoffer gevind ná die afgelope naweek se tragedie by die Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari.

Dit bring die dodetal op nege te staan nadat ʼn brand Sondag in die vroeë oggendure by die lodge uitgebreek het.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag gesê lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid, die honde-eenheid en die plaaslike polisiestasie het die beendere in die puin gevind.

Ramatseba het nie bevestig dat dit die oorskot van die sewejarige Inge Bauer is nie. Inge word sedert die brand uitgebreek het, vermis.

“Daar word gewag op forensiese brandondersoekers en forensiese patoloë om die toneel te ondersoek. Uitkenning sal bevestig word sodra die kenners hul ondersoek afgehandel het,” het Ramatseba gesê.

Nege lede van die drie gesinne is in die brand dood. Hendri Carstens (37) het Sondagaand in die waakeenheid van die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk. Hy was die laaste oorlewende van sy gesin nadat sy vrou, Dané (32), en hul twee seuntjies, Pierre (5) en Magiel (3), ook in die brand omgekom het.

Die Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari. (Foto: Blinkwater Desertplace Manor)

Inge se ma, Madelein (36), het die brand oorleef, maar die dogtertjie se pa, Stefan (39), en haar sussie Elré (4) het in die brand gesterf.

Frans Davin (36) ontvang tans mediese behandeling in die Melomed-hospitaal in Bellville. Sy vrou, Wilmien, en die egpaar se eenjarige babaseuntjie, Ben, is ongedeerd ná die voorval. Hul ander twee kinders, Frans (5) en Eliza (3), is ook in die brand dood.

Brian Scott, bestuurder van die oord, het vroeër gesê die lodge het aan die brand geraak terwyl die gaste geslaap het. Die gesinne het in ʼn houthuis met ʼn grasdak tuisgegaan.

Dit is in hierdie stadium steeds onduidelik wat die brand veroorsaak het.

Tientalle boodskappe van medelye is intussen op die gesinne se Facebook-bladsye geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dit dwing mens tot stilte.
Sterkte en meelewing aan familie en vriende

Petrus ·

Watter pragtige Gesin was dit nie, ai tog dis só hartseer en tragies!

Mariaan ·

Dis ondenkbaar…wat n tragedie…my hart pyn vir hierdie mense…woorde is min…ai..die lewe is darem wraggies n harde pad!

Nozi ·

Hierdie is so tragies wat hier gebeur het. My hart gaan uit aan die familie en vriende in hierdie tyd met hul groot verlies. Miskien het ek iets erens mis gelees, maar het daar dalk al enige minister hul meegevoel uitgespreek teenoor familie. Gewoonlik spreek hul hul meegevoel al uit nog voordat die tragedie die nuus gehaal het. Maar ja, dit laat mens wonder ne?

Maritha ·

Maroela, is daar enige nuus oor die pappa wat indie hospitaal is?

LANA is ELANè ·

Die ergste nagmerrie ooit, ek as buitestaander is diep bedroef oor hierdie tragedie ek kan net bid dat dit wat oor is van hierdie gesinne, wel sal kan aangaan as als om hulle kalmeer. Dit is verskriklik hartseer, mag ons Liewe Vader troos bring, want menslik kan niemand hierdie mense vertroos nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.