Kalahari-tragedie: Troosdiens vir gesin beplan

Dané en Hendri Carstens saam met hul seuns, Magiel en Pierre. (Foto: Facebook)

’n Troosdiens word Saterdag in Ceres in die Wes-Kaap gehou vir die Carstens-gesin wat in die brand by die Blinkwater Lodge naby die Kgalagadi-oorgrenspark in die Kalahari omgekom het.

Die oorsaak van dié verwoestende brand, wat minstens nege slagoffers geëis het, is steeds nie bekend nie.

Ds. Jan Grobbelaar van die NG Kerk in Prince Alfred Hamlet in Ceres het Maandagmiddag aan Maroela Media gesê die troosdiens vir die Carstens-gesin sal Saterdag omstreeks 11:00 vanuit dié kerk gehou word.

Hendri Carstens (37) het verlede Sondagaand in die waakeenheid van die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk nadat sy vrou, Dané (32), en hul twee seuntjies, Pierre (5) en Magiel (3), vroeër dié dag in die brand gesterf het.

Wilmien en Frans Davin saam met hul kinders Frans en Eliza. Eliza was ten tyde van dié foto nog ‘n baba. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig die Carstens-gesin was saam met twee ander gesinne op vakansie toe ’n brand in die vroeë oggendure by die houthuis waarin hulle gebly het, uitgebreek het.

Die enigste oorlewendes van die brand is Madelein Bauer (36), Wilmien Davin (37) en dié se eenjarige babaseuntjie, Ben.

Grobbelaar het bevestig dat albei vroue en Ben tans weer tuis in Ceres is. “Hulle word wonderlik ondersteun deur familie.”

Madelein se man, Stefan (39), en die egpaar se dogtertjie Elré (4) het albei in die brand gesterf. Die egpaar se oudste dogtertjie, Inge (7), het vermoedelik ook in die brand gesterf. Sy word sedert die voorval vermis en polisie moet nog bevestig of die oorskot wat op die toneel gevind is, hare is.

Stefan en Madelein Bauer saam met hul dogtertjies, Inge en Elré. (Foto: Facebook)

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het vanmiddag gesê die oorskot is egter steeds nie geïdentifiseer nie.

Wilmien se man, Frans, (36), het intussen in die Melomed-hospitaal in Bellville aan sy beserings beswyk. Die egpaar se ander twee kinders, Frans (5) en Eliza (3), het ook in die brand omgekom.

Volgens Ramatseba is die oorsaak van die brand in dié stadium steeds onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harry

‘n Stukkie geskiedennis uitgewis. ‘n Toekoms geskep met hartseer. Mag ons Liewe Vader julle styf vashou. Mag sy liefde julle vertroos.

Helen

Dis die ergste van die ergste. Dit lyk almal na sulke liefdevolle mense met die mooiste ou kindertjies. Dis verskriklik hartseer.

Niklaas

Groot tragedie wat soveel naasbestaandes getref het. Daai vuur moes ontsettend vinnig versprei het want feitlik almal was oorrompel