Kalifornië verklaar noodtoestand oor koronavirus

Pendelaars dra Woensdag maskers in New York. (Foto: Mark Lennihan, AP)

Die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het ’n noodtoestand verklaar nadat die staat sy eerste sterfte weens die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 aangemeld het. Altesaam 11 mense het nou in Amerika aan die virus omgekom.

’n Bejaarde man (71) is Woensdag in ’n hospitaal naby Sacramento dood. Die man het met sy gesondheid gesukkel en was sowat twee weke gelede op ’n passasierskip wat in Februarie van San Francisco na Mexiko gevaar het.

Die passasierskip Grand Princess het pas teruggekom van nóg ʼn ekskursie na Hawaii en is nou aan die Kaliforniese kus vasgemeer sodat passasiers vir die virus getoets kan word. Die skip het 2 500 passasiers. Sommige van hulle was saam met die bejaarde man op die eerste vaart na Mexiko.

Elf passasiers en tien bemanningslede toon in die stadium simptome van die gevreesde virus.

Gavin Newsom, goewerneur van Kalifornië, sê plaaslike gesondheidsowerhede probeer nou diegene opspoor wat kontak met die oorledene gehad het.

Die noodtoestand volg kort nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, Woensdagaand aan die Amerikaanse kommentator Sean Hannity gesê het hy glo dat die virus se huidige sterftekoers van 3,4% baie laer moet wees as wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Dinsdag aanvoer het.

Pres. Donald Trump. (Foto: Evan Vucci, AP)

“Ek dink persoonlik die [sterftekoers] is onder 1%,” het Trump gesê.

Dit, sê Trump, is omdat baie mense die virus in so ʼn ligte graad opdoen dat hulle nie eens dokter toe gaan nie en daar dus baie gevalle is waarvan die WGO nie weet nie.

“Dit is ’n baie lae syfer [van mense wat met die virus gediagnoseer is] in hierdie land en ons sal probeer om dit so te hou,” het Trump gesê.

Minstens 3 283 mense is reeds weens die virus dood, met meer as 95 000 bevestigde gevalle. Minstens 76 lande het reeds gevalle aangemeld.

De Beers steier

Die Anglo American-filiaal De Beers het intussen bevestig dat verkope van ruwe diamante in die tweede siklus van 2020 tot $355 miljoen gedaal het, vergeleke met $ 551 miljoen in die eerste siklus – dit weens die gevreesde Covid-19.

“Nadat die vraag na ruwe diamante gedurende die eerste verkoopsiklus van 2020 toegeneem het, het ons die impak van Covid-19 gesien op klante wat daarop toegespits is om aan die Chinese mark te verskaf,” het Bruce Cleaver, uitvoerende hoof van De Beers, vandeesweek in ’n verklaring gesê.

Bronne: BBC, CNN, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erik ·

Eerste geval in Suid-Afrika sopas ook aangemeld. Man wat na Italië gereis het.

Michael ·

Wag tot wanneer dit die PRSA tref dan gaan President Trump sy somme moet oordoen
Nb Piesang republiek van suid afrika.

marius ·

Kalifornia is nes die nuwe suid afrika. Skep ‘n hool en hou dan die res verantwoordelik waar orde is .

summie ·

Ek sien net 2 pendelaars wat maskers dra. Wat vd ander ? Julle weet dat die dra van maskers bloot net daar is om te keer dat jy aan jou mond of neus vat om sodoende jouself te beskerm. Dit hou nie die Virus uit nie. Die masker moet baie goed geseël wees alvorens dit die Corona virus kan uithou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.