Kalmte gevra ná brand by parlement  

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die parlement se voorsittende beamptes sal vandag met belanghebbendes, onder wie Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, vergader oor die brand by die parlement om die omvang daarvan te bespreek en die skade te ontleed.

Die parlement het Suid-Afrikaners probeer gerusstel dat alle pogings aangewend sal word om ontwrigting aan die sake van die parlement te beperk ná die brand wat Sondagoggend uitgebreek het.

Brandbestryders het deur die loop van die dag die brand bestry en het die brand in die kantore van die Nasionale Raad van Provinsies heeltemal onder beheer gebring. Groot skade is aan die Volksraadgebou, die Nasionale Vergadering-gebou en verskeie kantore aangerig.

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Volgens die parlement het die brand op ʼn kritieke tydstip uitgebreek terwyl daar voorbereidings getref word vir die staat- en begrotingsrede. Die voorsittende beamptes het egter die versekering gegee dat dié programme nie geraak sal word nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het die Kaapse brand- en reddingsdienste geloof vir hul vinnige reaksie.

“Die skade kon baie erger gewees het indien dit nie vir hul flink optrede was nie. Hulle was binne ses minute op die toneel nadat hulle oor die brand ingelig en ontbied is.”

Pres. Cyril Ramaphosa, De Lille, Mondli Gungubele, minister in die presidensie, en Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, het gister die parlementêre kompleks besoek om die omvang van die skade te ondersoek.

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

De Lille het gesê die watersproeiers van die parlementgebou het nie dadelik aangegaan toe die brand uitgebreek het nie. Dit is vermoedelik omdat ’n toevoerklep toegedraai was.

Maroela Media het vroeër berig vrae oor die parlement se veiligheidstelsel het vroeg reeds ontstaan aangesien dit geruime tyd geneem het voordat alarm gemaak is.

’n Man is intussen in verband met die brand in hegtenis geneem en sal Dinsdag in die hof verskyn. Die voorsittende beamptes het die inhegtenisneming verwelkom en ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om geen steen onaangeroer te laat in hul ondersoek om die oorsaak van die voorval vas te stel nie.

Die voorsittende beamptes het ook ʼn beroep op kalmte gedoen en gewaarsku teen enige spekulasie oor die voorval. Daar is ʼn beroep gedoen om wetstoepassingsagentskappe die nodige ruimte te gee om hul ondersoek te voltooi en daarna inligting te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Steyn ·

So brand die land, en dit nog nie eers 2 dae in nuwejaar nie! Watse ander vuurwerke le nog die jaar voor?

Samuel ·

Dit is tragies dat die parlementsgebou gebrand het en die brand vermoedelik gestig is. Hoeveel geld gaan dit kos om die skade te herstel en vir welke kaders gaan dit nie weer ‘n gulde geleentheid wees om te skep en hulself te verryk nie?

Di ·

Dis van kalmte dat ons sit waar ons sit! Al die terroriste wat hierdie dade pleeg kom weg met als. Selfde met die Julie sage waar duisende besighede verwoes is. WAAR is die verdagtes wat in hegtenis geneem is nou???? MISSING IN ACTION

Hendrik ·

Besonderse gebeurtenis hier voeg in die jaar. Net n voorteken dat die regering moet gaan. Hoop hulle kry nerens op aarde weer die geleentheid om te vergader nie.

Jacobus ·

Kalmte wanneer die kultuur van die land saam met infrastruktuur verwoes word. Wat is so belangrik dat hulle brand moet stig om sake te vertraag?

marius ·

Hulle is in ‘n toestand want nou moet hulle op plastiek stoele sit …..en slaap.

JL ·

Voeg nou maar ‘n “grensdraad” by die Staat- en begrotingsrede; dit is mos die Dept. van Openbare werke en Infrastruktuur se oplossing.

Windhond ·

Was die Parlement in Pretoria of JHB gesetel, het hy tot op die fondasie afgebrand, 6 minute reaksie tyd vir die brandweer is uitstekend, my besigheid het afgebrand nadat die brandweer vir 15 minute rondgeskarrel het en toe maar hande op die heupe gestaan het tot ek op die toneel aangekom het en my vrou hulle gevloek het, toe maak hulle eers die brand slange oop, Lank lewe die ANC

wessel ·

die “speaker” loof die DA munisipaliteit vir hulle flinke optrede……iets strook nie…

Esme ·

KALMTE!!! Wie is so onnosel om die woord te spreek? Jy ken nie die woord se betekenis nie. Swyg eerder want hoe kalmeer jy ‘n nasie wie se Geskiedenis so vernietig word! Nee, noem dit eerder wat dit is, BRANDSTIGTING!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.