Kameelmelkery gedy in die Kalahari

Hans Knoesen se kamele is baie mak en kan maklik gemelk word. (Foto: Du Preez de Villiers)

In hierdie eerste uitgawe van twee artikels word daar by Hans Knoesen gekuier om meer van sy kameelboerdery uit te vind.

Die snikhete en droë klimaat van die Kalahari, tussen Upington en die Kgalagadi-oorgrenspark, is uitstekende kameelwêreld en in die eerste helfte van die vorige eeu is kamele gebruik om die landsgrense te patrolleer, maar met die koms van die motor het hierdie diere uitgedien geraak.

Oom Jannie Knoesen, van die plaas Koppieskraal, en sy buurman, wat 250 km noordwes van Upington geboer het, het elk ʼn klomp van daardie kamele gekoop. Dié diere het nie veel tot die boerderye bygedra en was nie veel meer as ʼn besienswaardigheid op die skaapplase nie. Hulle kon darem die harde bossies wat op die Koppieskraalpan, wat oor Knoesen se plaas strek, benut, wat ook nie juis ekonomiese waarde gehad het nie.

Hans Knoesen, sy kleinseun, het in Desember 2015 vanuit die Kaap op Koppieskraal gaan vakansie hou. Dit was ʼn baie droë en moeilike jaar en hy het begin om ʼn mark vir kameelvleis te ondersoek, maar dit was ʼn vrugtelose poging.

“Terwyl ek die kameelvleis probeer verkoop het, het ek toe op die gesondheidsaspekte van kameelmelk afgekom en besef dit is moontlik om die koeie te melk,” het hy vir Maroela Media tydens ʼn plaasbesoek gesê.

Hy het hierdie bedryf, heel onbekend en eerste in Suid-Afrika, ondersoek en die bul by die horings gepak.

“In die eerste jaar het my pa, Willie, net een koei gemelk voor ek plaas toe gekom het. Hy het die kamele in ʼn drukgang gejaag en al staande, met ʼn plastiekbeker in die een hand en ʼn speen in die ander, die proses probeer vervolmaak, maar dit was moeilik en onprakties en die melk het gemors. Hierdie metode het net twee maande gehou. Die melk is toe elke dag in ʼn roomysbak bygegooi en gevries.

“My pa het toe ʼn klomp voorraad opgeberg en moes toe ʼn geleentheid daarvoor na my in Somerset-Wes soek. Ek het dan die agt houers ontdooi, wat ek moes bottel en gaan smous.”

 

Kamele aard baie goed in die Kalahari. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

In sy soeke het Hans uitgevind Somaliërs hou van kameelmelk, maar hulle was baie skepties en om hulle te oorreed dat hy ʼn kameelmelkkenner is en tot hulle deur te dring, was nie maklik nie.

“Daar was ʼn klomp van hulle in Bellville, maar om vir ʼn Somaliër te oortuig om kameelmelk in Suid-Afrika van ʼn wit man te koop, was so goed soos vir ʼn Moslem om biltong in Londen aan ʼn Suid-Afrikaner te probeer verkoop.”

Daar is ook ʼn klomp Somaliërs in Mayfair in Johannesburg, wat ook die bynaam Little Mogadishu verwerf het.

“Uiteindelik het een van hulle my genader en gevra of hulle van die melk kan kry, maar dit was een groot verneukspul en ek het toe besluit om plaas toe te kom,” sê hy.

“Weldra het ek die gesondheidsmark betree en die Somaliërs as ʼn laaste uitweg bedien, want alles wat hy nie kon verkoop nie, sou hulle vat.”

Toe Knoesen in Julie 2016 plaas toe is, het hy die kameelboerdery meer vaartbelyn gemaak, sodat die boerdery kan groei om meer koeie te kan melk om sy ontluikende mark te bedien.

Troef die onbekende

Vir Knoesen was dié onderneming splinternuut; hy het ook geensins ʼn melkagtergrond nie en het toe by die bakermat van kameelboerdery gaan kers opsteek.

“Snaaks genoeg is daar nie kameelmelkerye in Saoedi-Arabië of Katar nie. Albei lande se kultuur fokus op die teel van resieskamele, soveel so dat Katar kameelmelk moet invoer.”

Die groot melkprodusente is in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en het geweldige groot plase wat derduisende kamele per dag melk.

Hy het toe by ʼn produksiebestuurder by Al Ain-boerdery in die VAE gaan aanklop om die basiese inligting oor kameelmelk te kry.

Kamele is nie aggressiewe diere nie en die koeie is melkmak met twee wat selfs hondmak is.

ʼn Kameel se spene lyk nie soos ʼn bees s’n nie en is ook nie so uniform soos ʼn bees s’n wat almal ondertoe hang nie. Hulle kan sommer in enige rigting wys.

 

Kamele se spene het ‘n eiesoortige vorm. (Du Preez de Villiers)

 

“Dit het baie navorsing geverg om ʼn uitweg te vind, maar einde ten laaste het ons die regte grootte kloustukke gevind en dit eenvoudig net gekoppel en begin melk.”

Hulle gebruik ʼn standaard- mobiele melkmasjien, maar moes die pulsspoed en suigkrag aanpas.

ʼn Kameel kan ook nie soos ʼn melkbees in ʼn stal gejaag en gemelk word nie. “Sodra ons haar in die melkhok het, moet ons haar kalf laat inkom om te suip, sodat haar melk kan sak. Dan vat ons die kalf weg en begin melk. Ná ʼn ruk hou die melk net op en dan kan jy vergeet om nog iets uit te kry. Sodra die koei uitgejaag word en sy by haar kalf kom, laat sak sy weer haar melk sodat die kalf verder kan suip.”

Iets waaroor ʼn beesmelkboer net kan droom, is dat kameelkoeie wat in laktasie is in die veld gelos kan word terwyl die kalfies hulle leegdrink. ʼn Kameelboer kan dus vir twee weke weggaan en ontspan en as hy terugkom, kan hy net aangaan.

Knoesen se kamele gee ʼn gemiddeld van 4,5 ℓ melk per dag oor twee melksessies. Dit word egter oor die hele trop, van oud tot jonk, en oor diere in verskillende laktasie-siklusse gemeet. Hy sê die internasionale gemiddeld onder kamele wat spesiaal vir melk geteel is, is 6 ℓ per dag.

“Ek het een keer tydens ʼn droogtetydperk vir hulle ekstra voer gegee, wat die gemiddeld tot 5 ℓ opgestoot het, maar dit is ʼn duur oefening en ek is tevrede met my melkopbrengs teenoor my voerinset.”

 

Tydens melktyd moet ‘n kameelkalf eers aan sy ma begin drink sodat haar melk kan sak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die lekkerte van kameelboer

Knoesen se kamele wei die hele dag in die veld en in die aand gee hy vir elkeen so 3 tot 4 kg lusern.

Upington is rosyntjiewêreld en daar is dit in oormaat beskikbaar. Hy gee elke oggend vir hulle ʼn hand vol daarvan vir ekstra energie en hy reken die swawel daarop help met melkproduksie.

Knoesen hou steeds kontak met die Somaliërs. “Hulle sê ek hoef vir die kamele net elke derde dag water te gee, maar my kampe is vir skape ingerig met ʼn suiping in elke kamp, so hulle het deurlopend toegang tot water.”

Hulle het hom ook aanbeveel om vir die kamele sout te gee, iets wat hy nooit voorheen gedoen het nie.

“Die kamele is baie lief vir sout en ons meng ʼn klein bietjie daarvan in hul voer in. Die sout beïnvloed wel die smaak van die melk en ons moet dit baie mooi beheer. Ons gee dus net genoeg om die behoefte aan te vul en my teorie is dat dit ook help vir parasietbeheer.”

In die Midde-Ooste word daar intensief met kamele geboer wat baie uitdagings vir veeartse bied, maar in die Kalahari sukkel Knoesen glad nie met siektes nie. “Ons klimaat maak dat siektes min is en ek behandel net vir bosluise en niks ekstra vir inwendige parasiete nie.”

ʼn Kameel is ook ʼn lekker dier om mee te boer as dit by natuurlike weiding kom. “Ons moes wel ons eie norm vir ons plaas se drakrag vir kamele ontwikkel omdat dit nie op die Meissner-tabelle aangedui word nie. Ons werk ook nie op hektare per grootvee-eenheid nie, want beeste aard nie regtig hier nie. Ons werk dit per skaap uit en vir Knoppieskraal is dit 5 tot 6 ha per skaap.

 

Hans melk sy kamele met ‘n mobiele melkmasjien. (Foto: Du Preez de Villiers)

“My norm is om net drie skape af te haal as ek een kameel wil byvoeg, want ʼn kameel vreet op ander hoogtes en meestal ander kos as ʼn skaap. Hoewel hulle ook op die grond vreet, is hulle mal oor die harde Kalahari-doringbossies en sal 90% van die tyd eerder bossies vreet as wat hulle aan die gras sal raak.”

ʼn Kameel eet ook baie hoër as ʼn skaap, tot vier meter hoog. Hulle ding dus feitlik glad nie met die skape mee vir weiding nie en sal ook die koppe, wat uit harde veld bestaan, bewei.

“Ons het omtrent 40 kampe op die plaas en 10 kampe om die huis wat ons vir die kamele kan benut en ek ry gereeld deur die veld om die gehalte van die weiding te bepaal. As die kos min is, kom hulle self huis toe vir melktyd; andersins, as die veld ruig is, moet jy hulle gaan haal om te melk.

“Ek is wel baie konserwatief met my veldbesetting, weens die sporadiese droogtes. Tans het ek 70 koeie en melk 28 van hulle”

Balanseer melktyd met kalftyd

Knoesen se boerdery moet groei, maar dit neem vier jaar vir ʼn vers voor sy beset kan raak. “Gelukkig het ons deur die jare ʼn paar kalwers teruggehou om die kudde te bou. Dit bly egter ʼn uitdaging en as ek nou 200 kamele kan koop, sal ek dit doen.”

Daarbenewens groei die aanvraag na sy melk sterk en hy kan nie nou bekostig om sonder melk te sit nie, dus moet hy sy dekseisoene mooi uitwerk.

“Ons het verlede jaar in Augustus die helfte van die trop gedek, want as jy almal dek, mag die melk dalk in Maart opdroog.”

Volgens die boeke is kamele vir 13 maande dragtig, maar Knoesen sê sy diere kalf nog al die jare in Augustus en September, met hier en daar ʼn “laatlammetjie”.

Hy melk sy verse vir ʼn jaar voor hulle vir teling gebruik word. Een geluk is dat die koeie een maand ná kalwing weer bul kan vat. Die eerste maand los hy die kalfie by die ma om die biesmelk te drink.

 

Tydens die eers maand word die kalf by sy ma gelos om die biesmelk te drink. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“My bulle werk op ʼn verhouding van 1 tot 10 verse, maar ek het al een bul op 15 tot 20 koeie gebruik.

“Om inteling te verhoed het ons al bulle aangekoop wat langer as 40 jaar van ons diere geskei is. Jy kan ʼn bul vir amper 20 jaar gebruik voor jy begin probleme optel as hulle op hul eie verse kom. Dan moet jy nuwe bulle kry.”

Hy sê hy sal graag geteelde melkbulle of semen invoer, maar dié kundigheid is nog nie in Suid-Afrika nie. Daar word wel kunsmatige inseminasie in die VAE en Pakistan gedoen.

In die volgende uitgawe word daar gekyk na die wonderlike produkte wat van kameelmelk gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LANA is ELANè ·

Ek het nou amper verby die artikel geblaai en toe besluit om eerder dit te lees, watter insiggewende artikel, ek kan nie wag vir die vlg insetsel nie. Baie interessant.

Sê maar net ·

Baie interessant. Dankie. Sien uit na die volgende artikel. En ek sal graag wil proe hoe smaak kameelmelk:)

Aggie ·

Wat ‘n heerlike artikel om te lees instede van al die ander daaglikse morbiede nuus!

Prikkie ·

In hierdie dae van omtrent net slegte nuus, is hierdie ‘n uitstekende artikel. Baie dankie daarvoor.

Sien uit na die volgende aflewering.

Renier ·

Melk en vleis baie lekker. In die UAE gebruik ons dit al jare lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.