Kameelperd trap ma en seun: Pad na herstel is nog lank

Dr Katy Williams en haar seun Finn (Foto verskaf)

Dr. Sam Williams (36) het bevestig dit gaan goed met sy vrou en seun onder omstandighede nadat dr. Katy Williams (35) en Finn Maandag deur ʼn kameelperd aangeval is.

Die driejarige Finn se toestand is onveranderd. Hy bly in ʼn kritieke toestand. “In hierdie stadium is die gevolg van die traumatiese breinbesering nog nie bekend nie. Hy word onder verdowing gehou,” het die gesin in ʼn verklaring gesê.

Berigte dat hulle in kennis gestel is van enige breinskade is onwaar. Die gesin het besluit om positief te bly totdat die volle omvang van Finn se beserings bekend is.

Dokters wat Woensdagaand op Katy geopereer het, is tevrede met haar toestand. Sy bly ook onder verdowing. “Die operasie was ʼn sukses. Sy moet nou tyd gegun word om te genees.”

Katy is in Baltimore in die VSA gebore en het as kind in Egipte, die VSA en België gewoon. Sam is oorspronklik van Bradford, West Yorkshire in die Verenigde Koninkryk. Albei deel ʼn liefde vir die natuur en hulle het mekaar in 2003 ontmoet terwyl hulle navorsing in Indonesië gedoen het.

Albei het hul PhD in Biologiese Antropologie behaal by Durham University in die Verenigde Koninkryk. Hulle spesialiseer in karnivoorbewaring.

Sedert hulle mekaar ontmoet het, het hulle al in Engeland gewoon en navorsing in Indonesië, Honduras, Zimbabwe en Suid-Afrika gedoen. Finn is in Engeland gebore, maar het sy hele lewe lank nog in Suid-Afrika gebly. Hy word in ʼn omgewing grootgemaak waar sy avontuurlustige ouers hom leer hoe om die natuur te respekteer, geniet en te waardeer.

Sam het gesê hy en sy vrou het meer as ʼn dekade se ondervinding in die bestudering van wilde diere. “Ons is baie bewus van hoe wilde diere optree en hoe ons tussen hulle moet optree.” Hulle het albei al verskeie joernaalartikels in die verband gepubliseer en Katy het al ʼn klein boekie vir kinders hieroor gepubliseer.

“Ons besef dat, met al die kennis wat iemand het, bly wilde diere onvoorspelbaar, soos dié tragiese voorval gewys het. Ek is dankbaar dat die kameelperd saam met haar kalf geskuif sal word en dat sy nie van kant gemaak word ná die voorval nie. Ek weet dit is wat Katy ook sou wou hê,” het Sam bygevoeg.

Sam probeer om positief te bly in dié moeilike tyd. “Ek besef dat, selfs as dinge goed gaan, gaan dit nog ʼn lang pad na herstel vir ons wees. Ek hoop ons kan een dag saam teruggaan en klippe in die rivier gaan gooi en saans as ʼn gesin saam knus in die bed lê.”

Katy en Finn is deur ʼn kameelperdkoei aangeval in die Blyde Wildlife Estate sowat 15 km buite Hoedspruit. Sam het gaan draf en toe hy omstreeks 18:00 terugkeer, het hy op die toneel, sowat 150 m van die gesin se huis, afgekom waar die kameelperd steeds besig was om sy vrou en seuntjie aan te val. Finn wag gewoonlik op dié plek vir sy pa om terug te keer wanneer hy gaan draf. Sam kon die kameelperd verjaag.

Katy en Finn is op die toneel behandel en daarna na ʼn nabygeleë vliegveld gehaas waar die mediese span onverpoosd gewerk het om ma en seun te stabiliseer. Finn is eerste met ʼn ER24-helikopter na die Busamed Modderfontein-hospitaal geneem, gevolg deur sy ma in ʼn tweede helikopter.

Riaan Celliers, bestuurder van die Blyde Wildlife Estate, het die voorval bevestig en gesê die kameelperdkoei het ʼn twee maande oue kalf en dat dit waarskynlik haar gedrag beïnvloed het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Katerina ·

Arme vrou en kind ai toggie.Ek hoop hulle herstel volkome al neem dit lank. Wat n ding om te gebeur..

Ellisras ·

Dit is onnodig om die kameelperd te skuif. Dit stel net die kameelperd se lewe in gevaar. Dit is soos ‘n hond wat jou wil byt by die pasgebore babas. Gee ‘n paar dae/ weke en dit sal nie weer gebeur nie.

Mariaan ·

Vat liewers nie kanse nie…skuif kameelperd….wat sou jy doen as dit jou seun en vrou was?

Pieta ·

@Mariaan asof die kameelperd gaan terugkom om wraak te neem, GHMPF!!!! ek het op ‘n oplaas groot geword, en natuurlik sal ‘n mamma haar kleintjie wil beskerm teen ENIGE iets wat lyk of dit ‘n gevaar kan inhou en enige iets wat vir ‘n dier nie soos hulle eie soort lyk nie hou tegnies ‘n gevaar vir hulle in.

Ant ·

Jammer vir die ma & seun, hoop hulle genees ten volle.
Kameelperde kan gevaarlik wees, bly tog ‘n wilde dier – veral as haar kalf naby was.
Mens en dier se paadjies moes nie hier gekruis het nie. Bly weg vanaf wilde diere. Neem die verantwoordelike besluit en bewonder hulle vanaf ‘n veilige afstand.
Dis traumaties en gevaarlik om die diere nou te moet skuif. Dit bly hul tuiste. Dis soos om deur ‘n haai aangeval te word in die see, dit is hul area.

Pieta ·

Hoekom die Kameelperd skuif oor die insident… dit is nie asof die kameelperd gaan terugkom om wraak te neem nie, en van kant maak “SERIOUSLY!!!!” was dit enigsins oorweeg…. die mens betree die wildernis, en wil alles maak om hulle te pas. indien ‘n dier iets instinktief doen wil julle drastiese stappe neem, julle redinasie is belaglik!

Dalk sou ‘n heining om die huis al die “wilde diere” uithou siende hulle op ‘n “wildlife estate” wil bly en weet dat daar diere vrylik rondloop.
Kan nie regtig se nie want is nie presies seker hoe die huis lyk nie, maar dit is my opinie.

Lindtjies ·

Hulle was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Wilde diere bly maar onvoorspelbaar. Weet van ‘n paar gevalle waar kameelperde mense seergemaak het en selfs al mense dood. Is dankbaar hulle gaan nie die kameelperd van kant maak nie. Sy het bedreig gevoel en haar kalfie probeer beskerm. Spoedige herstel aan Dr Katy en haar seuntjie. Een van die dae gaan julle vir die kameelperd en haar kalfie kyk agter ‘n veilige heining.

leser ·

sterkte aan williams familie, ek bid ook vir spoedige herstel, die Here is met julle
al is dit my vrou en kind en aangesien ons / hulle die gevare van wilde diere weet, sal hulle die skuif van kameelperd en kalf nie wil hê nie, vra vir williams familie liewers self
kameelperd en kalf is gewoond aan hul omgewing, en dit gaan maak dat hul gedrag iewers anders meer onnatuurlik sal wees
skuif van wilde diere is baie traumaties vir hulle al dink meeste mense nie so nie
dit is maar ‘n ongelukkige geval van verkeerde mens op verkeerde plek en verkeerde dier op verkeerde plek wat daartoe aanleiding gegee het

Avra ·

Het die Dr nie geweet wat wilde diere aan mens kan doen nie? Veral n ma wat haar kind wil beskerm.
Hoef nie die dier te skuif nie, moet net nie moeilikheid soek nie…. Met geen wilde dier

Illa ·

Ten minste word die diere nie vankant gemaak nie. Dit was nie regtig iemand se skuld nie. Diere is sonder onderskeid beinvloedbaar deur hulle natuurlike instinkte en ek glo dit was ‘n kwessie van die verkeerde tyd of die verkeerde plek. ‘n Ongelukkige sameval van omstandighede. Ek hoop die ma en kind herstel spoedig en volkome.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.