Kameelperd wat ma, seun trap het onlangs gekalf

Dr. Sam en Katy Williams saam met hul seun Finn. Foto: Verskaf

Die ma en seun wat Maandag naby Hoedspruit in Limpopo deur ʼn kameelperd vertrap is, is albei steeds in ʼn kritieke maar stabiele toestand.

Dr. Katy Williams (35) en haar driejarige seun Finn is deur ʼn kameelperdkoei aangeval in die Blyde Wildlife Estate sowat 15 km buite Hoedspruit.

Marina Botha, die gesin se prokureur, het gesê dr. Sam Williams (36) het gaan draf en omstreeks 18:00 by sy terugkeer op die toneel sowat 150 m van die gesin se huis afgekom waar die kameelperd steeds besig was om sy vrou en seuntjie aan te val.

Finn wag gewoonlik op dié plek vir sy pa om terug te keer wanneer hy gaan draf. Williams kon daarin slaag om die kameelperd te verjaag en Katy en Finn is op die toneel deur Hoedspruit Medical Rescue en dr. Victor Loftie-Eaton, ʼn mediese dokter van Hoedspruit, behandel.

Dr. Sam en Katy Williams saam met hul seun Finn. Foto: Verskaf

Katy en Finn is hierna na ʼn nabygeleë vliegveld gehaas waar die mediese span onverpoosd gewerk het om ma en seun te stabiliseer. Finn is eerste met ʼn ER24-helikopter na die Busamed Modderfontein-hospitaal geneem gevolg deur sy ma in ʼn tweede helikopter.

Finn is Dinsdag in die vroeë oggendure geopereer om die drukking op sy brein te verlig weens die beserings wat hy opgedoen het. “Ma en seun is stabiel maar steeds in ʼn kritieke toestand. Dr. Williams het sy dankbaarheid uitgespreek tenoor al die mediese personeel, ER24, medici by Busamed, die bestuur en inwoners van die Blyde Wildlife Estate sowel as die gemeenskap van Hoedspruit vir hul bystand en ondersteuning in die moeilike tyd vir hom en sy familie,” het Botha gesê.

Dr. Sam en Katy Williams saam met hul seun Finn. Foto: Verskaf

Riaan Celliers, bestuurder van die Blyde Wildlife Estate, het die voorval bevestig en gesê die kameelperdkoei het onlangs ʼn kalf gehad.

“Ons is almal geskok oor hierdie baie hartseer voorval en ons verseker die gesin dat hulle in ons gebede is.”

Celliers het bevestig die kameelperdkoei het ʼn twee maande oue kalf en dat dit waarskynlik haar gedrag beïnvloed het.

Williams en sy vrou is albei wetenskaplikes en het doktorsgrade in natuurwetenskappe. Williams is ʼn Britse burger en sy vrou ʼn Amerikaanse burger.

Volgens Williams verstaan hulle die natuur en beskou hy die voorval met die inligting wat hy tans het as bloot ʼn ongelukkige voorval van Moeder Natuur wat die kameelperdkoei laat dink het sy vrou en seun hou ʼn bedreiging vir haar kalf in.

Die gesin het die publiek en media gevra om hul privaatheid in dié moeilike tyd te respekteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jane ·

Nou lawyer hulle weer op. Jy KANNIE ‘n wilde dier se gedrag bepaal nie. En ek het al self gesien hoe mense TE NABY Aan wilde diere kom om fotos te neem .. nie een keer nie maar tientalle kere. Ek voel BAIE JAMMER Vir die vrou en kind wat seergekry het maar dit is die NATUUR, dit is ‘n kameelperdma se natuurlike instink om haar kalfie te beskerm .. HOOP julle herstel ten volle, en ek hoop hulle spaar die diere.

GM ·

Ek hoop ook die diere word gespaar.
En natuurlik ook dat die ma en seuntjie vinnig sal herstel.
Ons mensdom moet ophou om so naïef te wees.

CHRISTA ·

So jammer om te hoor van die ongeluk. Die arme seun is so onskuldig en moes so baie pyn verduur omrede grootmense nie verder kan dink nie. Daar is mos wilde diere in die park, hoe kan jy nou daar gaan loop. Hoop nie die dier moet weer daaronder ly nie.

Leser ·

Ek is seker hierdie ma en seun het nie hiervoor gevra nie, en ek hoop regtig hulle altwee herstel vinning en hou niks oor van hierdie voorval nie. Ek is ook seker dat daardie kameelperdkoei ook maar net binne haar eie raamwerk opgetree het, en ek hoop dat daardie kameelperdkoei nie van kant gemaak word nie. Dit is voorwaar ‘n baie tragiese toeloop van omstandighede.

Gemaskerde Sopbeen ·

Het al soveel keer gesien dat mense wilde diere wat grasieus is of stadig stap of groot is beskou as “skadeloos”………en hoeveel mense het nou al stelle afgetrap met kameelperde, olifante en seekoeie? Ek hoop almal herstel vinnig en onthou hierdie les….

Piet Snot ·

Sopbeen, jy’s reg. “Maar hulle lyk dan so vredig”, sal ons sê. Intussen is daai steeds ‘n wilde dier wat soos ‘n wilde ding optree.

Nita ·

Het die kameelperd oor die werfomheining geklim en die mense in hul erf aangeval?

Geelheksi ·

The mother of the calf had to have been feeling threatened. She will not just attack…
I honestly hope they do not put the animal down…as the humans are the intruders in the wild animals domain.
Tourists come to this country and think its their right to try and get into the space of wild life…then they are attacked…and its the animal that pays the price.

Peens ·

Mense dis wilde dierie en is altyd gevaarlik , en as hulle kleintjies het is hulle op die gevaarlikste . Daai riere aanvaar jy bedreig haar kalfie . Asb verstaan dit mense .

Wild lief ·

Sterkte vir gesin en wens volkome herstel vir 2.
Nita wil ook dit gevra het….OMHEINING?
Indien NIÉ sal dit dalk werk om kampdraad om
Verplyf area op te rig vir mense wat WÉÉT MAAR VERGÉÉT?

Heinrich van Zyl ·

Dit smaak my dis deesdae die inding om ‘n “gesinswoordvoerder” te hê. Blykbaar kan mense nie meer vir hulself praat nie. Ek gaan sommer opslag vir my ook enetjie kry. ‘n Man kan mos nie agter raak nie.

Septimus ·

@Heinrich, gewoonlik kry mense “gesinswoordvoerder” as hul beplan om te dagvaar, wat ek dink die ou gaan doen. Alhoewel mense die wild meer met respek moet behandel.

Skoondogter ·

Hi,

Maak asb Mnr Celliers se van reg, dis Celliers en nie Cilliers nie.

Dankie

Tania Heyns ·

Dagsê Skoondogter

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, die fout is reeds reggestel.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.