Kamer van mynwese vergader met ANC oor Mynbou-handves

Argieffoto

Die Kamer van Mynwese het Dinsdag gesê ʼn groep van sy ampsdraers het met ʼn afvaardiging van die ANC, onder leiding van sekretaris-generaal Gwede Mantashe, vergader om die hersiene Mynbou-handves te bespreek.

Die Kamer het verlede week die 2017 Mynbou-handves heftig verwerp nadat Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, dit gepubliseer het, en gesê die departement het nie ʼn betekenisvolle gesprek met die Kamer gehad voor sommige van die items ingestel is nie. Die Kamer van Mynwese het gesê hy sal die hof nader om ʼn interdik te bekom om die departement te verhoed om die handves te implementeer.

Die teikens sluit nuwe mynregte en ’n 30%-belang van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in. Eienaars wat vroeër voldoen het aan die vorige teiken van 26% moet binne 12 maande die 30%-teiken bereik.

Diegene wat aansoek doen om vir minerale te prospekteer moet “ʼn minimum van 50% plus een swart persoon” in sy aandeelhouding hê. Die aandeelhouers moet ook stemreg geniet.

Die Kamer het gesê sy ampsdraers het aan die ANC-afvaardiging hul perspektief oorgedra oor die uitdaging wat die nuwe, hersiene handves aan die bedryf bied, gegewe die gebrekkige proses en inhoud. Die ampsdraers het ook meer inligting gegee oor die hofstappe wat geneem word.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Kamer van Mynwese, het in ʼn verklaring gesê daar is benadruk dat regstappe van hierdie aard teen die regering slegs as ʼn laaste uitweg gebruik word, en dat dit slegs gebring word nadat alle ander pogings onsuksesvol was.

“Die bedryf bly toegewyd tot transformasie as ʼn nasionale imperatief. Ons moet volhou met die bedryf se transformasie-reis wat in erns voortduur sedert die oorspronklike handves meer as 13 jaar gelede geïmplementeer is,” het Baxter gesê. “Maar dit moet gebaseer wees op werkbare doelwitte en riglyne wat ʼn doeltreffende transformasieproses verseker in ʼn mededingende en groeiende bedryf. Soos ons vroeër aangedui het, misluk die handves in hierdie opsig.”

Die ANC het ook versoek om met Zwane te vergader sodat hy van die items in die handves kan verklaar en verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerseun ·

Lankal tyd dat die globalist elite se houvas op mynbou gebreuk word. Hier is ek saam die ANC. Moet sommer die sandton elite se banke ook gaan raid, daai geld bly in elk geval nie in SA nie

al ·

Dis hartseer dat die regering van die dag hierdie land in die grond in wil bestuur – dat SA net nog ñ arm verwoestende land in Afrika sal raak, as hulle nie daadwerklik ingryp om die ekonomie te stabiliseer en te laat groei nie.
Ek glo nie daar is genoeg kundigheid in die ANC om ekonomiese sake heeltemal te begryp nie.

Schalk ·

Dit is werklik swak oordeel om so politieke wil ten koste van mense en armoede op te offer. Die ANC en ander partye wat openlik uitvaar teen alles wat blank is of uit die vorige regering voorspruit moet besef dat hulle omgekeerde rassisme uitvoer en boonop hulle eie mense ook benadeel,
Die probleem is die politici is so vol eiewaan en onbevoeg om die land te bestuur dat hulle dit nie eers besef nie.
Die direkteure van myne kan so maklik die myne onbepaald sluit en dan is daar nog meer armoede in die land. Zuma kan nie sy valse beloftes nakom nie en nou word hy orals ontbloot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.