Kameras merk vermiste atleet op in PE-hawe

David Bellet-Brissaud (Foto verskaf deur SAPD)

Die polisie in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat David Bellet-Brissaud, die 48-jarige ysterman-atleet van Gaboen, op kringtelevisiebeeldmateriaal in die stad se hawe opgemerk is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die “duidelike” kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Bellet-Brissaud kort ná 01:00 die hawe binnestap.

“Die beeldmateriaal wys hoe hy eers die hawe binnestap en later op ʼn tjokkaboot, wat vasgemeer is, spring. Hy spring dan heen en weer tussen drie tjokkabote wat langs mekaar vasgemeer is. Hy verdwyn uit die beeldmateriaal wanneer hy na die middelste tjokkaboot spring,” sê sy.

Volgens haar kon kringtelevisiekameras nié die beeld op die middelste tjokkaboot vasvang nie. Sy sê die beeldmateriaal wys egter ook nie hoe hy later van die tjokkaboot afklim en die hawe verlaat nie.

“Hy verdwyn bloot uit die kringtelevisiebeeldmateriaal. Die polisie het geen antwoord nie,” sê sy.

Ondersoekspanne waaronder die polisie se honde-eenheid, polisieduikers en helikopters het Dinsdag die omgewing van die hawe gefynkam, maar dié soektog het geen vrugte afgewerp nie.

Naidu sê die ondersoekspanne is Woensdagoggend weer na die hawe ontplooi om die soektog voort te sit. “Die duikers gaan veral ʼn deegliker onderwatersoektog doen,” sê sy.

Ondersoekspanne sal ook ʼn groot radius rondom die hawe fynkam op soek na leidrade.

Die atleet se vrou, wat intussen as Lydia Bellet-Brissaud geïdentifiseer is, sy broer, Gael, en sy suster, Vanessa, is volgens haar steeds in Suid-Afrika om die polisie by te staan in die ondersoek. Die familie het vroeër dié week ʼn beloning van R12 000 uitgeloof vir enigiemand wat inligting aan die polisie verskaf wat tot die atleet se opsporing kan lei.

Maroela Media het vroeër berig Bellet-Brissaud en sy vrou het Donderdag omstreeks 15:20 by die Paxton-hotel in Port Elizabeth ingeteken. Hy was in Port Elizabeth om aan die Ysterman Afrika-kampioenskap deel te neem. Die egpaar was saam met vriende uit, maar het omstreeks 21:00 na hul kamer teruggekeer. Sy vrou het Vrydag 01:00 wakker geword en Bellet-Brissaud was nie in die kamer nie.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys Bellet-Brissaud het die kamer verlaat, uit die hotel geloop en in die straat af gestap. Hy het sonder sy selfoon en beursie spoorloos verdwyn en is nog nie weer gewaar nie.

Enigiemand wat Bellet-Brissaud sien, word versoek om ao. Eric Mathews by 083 380 3714 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Marius ·

Klink my hy het dalk tussen die boot in gegly toe hy spring en dalk sy kop gestamp en in water beland en verdrink.

tas ·

wat ek ook aan dink hy kon sy balans verloor het en sy kop gestamp en verdrink het

Christine ·

Duidelik ek stem saam hy wil nie gekry word nie, hy het seker op een van daai tjokka bote geklim en is besig om tjokka te vang! Maar natuurlik dit is baie hartseer vir die familie , hoop hulle kry gou ‘n antwoord.

honourable member ·

Snaakse storie hierdie. Wat soek hy in die oggendure by die hawe.

christa ·

dit lyk of die man doelbewus verdwyn het. Ek hoop daar word teen hom op getree as dit die geval is. SA Polisie het meer as genoeg werk om hulle mee besig te hou

Ja wohl ·

Boet as jy weet wat in SUID AFRIKA aangaan sal jy nie hier wil bly of wegkruip nie . ek glo dit is veiliger in GABOEN.

Afrikaanse Knaap ·

As ‘n man so van boot tot boot spring en hy mis ‘n boot, ten vollge geklee, gaan hy baie moeilik swem. Ek dink nie hy wil nie gevind word nie ek dink iets het met hom gebeur.

Niclaas ·

Hy is ‘n ystermanatleet – as hy ingeval het sonder om seer te kry sou hy kon swem.

Winnie ·

Wonder wie betaal vir die soekspanne en polisie.
Seker SA belastingbetalers.

EkSakMyKop ·

Ai Winnie – wat maak dit saak wie hiervoor betaal, Ons belastings betalers se geld word op een of ander manier “gemors” hoekom nie vir iemand in regte nood nie? Die man het ‘n vrou en ‘n familie wat waarskynlik baie bekommerd is afgesien of hy “dalk” nie gevind wil word nie. Hul is mos nie van die land nie? Wat as een van jou familie-lede in ‘n ander land vermis sou raak – moet hul ook hul maar hul skouers optrek ek vra wie hiervoor gaan betaal – belanstingbetaler?

Sharonj ·

Kan my net indink hoe sy gesin en die res van die familie moet voel. Baie sterkte en krag van Bo vir hulle.

Hendrik van George ·

R12 000 – woopi. Moenie dat gesê word dat sy familie ‘n klomp geld aangebied om hom te vind nie. Peanuts om die minste te sê.

JEN ·

Ag Hendrik nou hoeveel sou jy aanbied? Gaan jy gou \’n lening by die bank maak om dit te doen. Ek twyfel sterk.

Cs ·

En ek bedoel regtig, mens moet eintlik nie eers nodig he om geld aan te bied vir enige inligting nie, dan kla jy nog oor die hoeveelheid

jean ·

Agge nee wat….as ‘n ou wil orig wees en daardie tyd van die oggend tussen bote wil rondspring…dan is daar ‘n skroefie iewers los….

Luister ·

Vreemd!
Terloops, die familie het glo die beloning verhoog na R150 000- vir
bewys dat hy nog leef. ;-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.