Kameras sal koekeloer teen plaasaanvalle

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Agri Securitas se trustfonds, wat geldelike steun aan deurlopende landelike pro-aktiewe beveiligingsprojekte teen plaasmisdaad verleen, het op sy jongste vergadering bevestig dat kamerastelsels vir die Van Stadensrus-gebied in die Vrystaat asook in die Tuinplaas-omgewing in die Limpopo-provinsie goedgekeur is.

Die kamerastelsels sal aangewend word om toegangspaaie te monitor en weens die afskrikwaarde daarvan by te dra tot die beveiliging van landbouers en plaaswerkers. Die monitering van voertuigbeweging sal ook bydra om die stryd teen veediefstal te verskerp en misdadigers af te skrik om die gebied binne te kom.

Inligting oor verdagte voertuie en mense wat deur die stelsel verkry word, sal die gemeenskap in staat stel om binne bestaande landelike beveiligingsprosedures optrede te beplan, aldus Japie Grobler, voorsitter van die trustfonds.

Verder is hulp ook verleen aan Frankfort Landbou en die Edenville Distrikslandbou-unie vir die aankoop van veiligheidstoerusting. Onvoldoende kommunikasie veroorsaak tekortkominge in die voorkoming van misdaad en die koördinering van landelike beveiligingsoptrede. Die voorsiening van handradio’s sal die probleem oplos en lei tot doeltreffender noodkommunikasie en die bespoediging van beveilingsoptredes.

“Hoewel die misdaadprobleem verwikkeld en moeilik is om op te los, bly die trustfonds daartoe verbind om met opbouende optrede ’n veiliger landelike omgewing daar te stel wat landbouproduksie kan bevorder en werksgeleenthede sal skep. Ons vertrou dat die geldelike hulp wat aan dié gemeenskappe bewillig is, sal help om ’n veiliger omgewing te skep. Die trustfonds sal voortgaan om saam met sy borge sodanige hulp in verdienstelike gevalle te verleen,” het Grobler gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

boesmaninduitsland ·

ja maar hulle gaan nou vervalsde nr plate op hulle motors sit. Hoe dan???

Gina ·

Weet jy Oom Agri n Kamera keur nie vuilgoed nie… Dit skrik hul nie eers af oor OOM Paul standbeulde nie. Maar ja, dis ma so

HEVW ·

Laat ons noe maar sinies en negatief wees nie. Ons is dankbaar vir n begin, en ek glo dit sal in baie gevalle help. Onthou alles verkeer in n beginfase. Met die tyd sal alles ontwikkel. Aanpassings sal na gelang van omstandighede gemaak word wat lei tot groter doeltreffenheid. Onthou beveiliging sal ook nooit 100% wees nie. Paraatheid steun nie alleen op sekere stelsels nie, maar ook hoe mense binne bepaalde omstandighede reageer. Daar sal inoefening moet wees na gelang eiesoortige omstandighede.

HEVW ·

Laat ek tog ook maar byse. Ek hoop nie die kamarastelsel is gebaseer op n passiewe stesel nie, bv. waar daar eers die volgende dag vasgestel word wat gebeure was nie. Hier is werksgeleendheid. n Permanente sentrale kantoor waar 24 uur diens gedoen moet word, vir onmiddellike reaksie.

Nets Turvey ·

Ek is die voorsitter van Agri Tuinplaas boerevereniging. ‘n Groot gebied langs ons het die kamera stelsel al vir twee jaar in werking, groot sukses stories is al behaal met behulp van die stelsel. Plaasaanvallers is al in hegtenis geneem met videomateriaal waarop hulle betrap is. Ons het self op ons plaas kameras opgesit en diefstal het nie net minder geword nie, dit het so te sê gestop! Natuurlik kan jy die klein goedjies nie stop nie, maar die groter belangrikke misdade het gestop! As ons as gemeenskap paaie wat die gebied binnekom kan monitor, kan ons en gaan ons reuse sukses hê met die stelsel, soos dit reeds bewys is! Ek nooi elkeen wat negatief is hieroor om my te kontak en te kom kyk as die stelsel in werking is! Mens kan die kriminele nooit stop nie, maar ons kan defnitief die lewe vir hulle baie moeilik maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.