Kameras was afgeskakel tydens Fochville-moord

Natasha Wheeler Barnard. (Foto: Verskaf)

Die kringtelevisiekamera in The Boule Vard-restaurant op Fochville is die aand van Natasha Wheeler Barnard (33) se dood vir 11 minute afgeskakel. Toe dit weer aangeskakel is, het Barnard leweloos op die grond in die parkeerarea gelê.

Barnard is na bewering op 3 Maart in dié restaurant aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma se huis afgelaai, waar paramedici haar dood verklaar het. Sy het beserings gehad wat daarop gedui het dat sy aangerand is.

Ao. Kitty Fourie het Maandag in die landdroshof op Fochville getuig tydens Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Cecilia Storbeck (23), Twane Wienand (31) en Rudolf Pretorius (23) se borgtogaansoek.

Fourie het beswaar aangeteken teen die beskuldigdes se borgtogaansoek. Sy het onder meer daarop gedui dat die paniekknoppie in die restaurant die aand nooit gedruk is nie, hoewel protokol dit vereis indien daar ’n misdryf in die restaurant plaasvind.

Sy het ook genoem dat die eienaar van die restaurant en kroeg ook nie omtrent die voorval ingelig is nie en eers daarvan bewus geword het toe Barnard se pa oor die voorval navraag gedoen het.

Tydens Fourie se getuienis het dit ook in die hof uitgekom dat Barnard al die beskuldigdes ken en dat sy oor en weer met Doyle se ekskêrel gekuier het sedert sy in Februarie na Fochville verhuis het. Pretorius is die bestuurder van die kroeg.

Doyle, Pretorius en Wienand word voorlopig aangekla van moord. Al vyf word ook aangekla van dwarsboming van die gereg en dat hulle voordeel uit die moord getrek het. Al vyf beskuldiges ontken egter skuld.

Fourie het in die hof oor die ondersoek getuig na aanleiding van die beskuldigdes se verklarings en die beskikbare videomateriaal.

Fourie het in die hof aangedui dat van die stellings in die beskuldigdes se verklarings nie met die videomateriaal ooreenstem nie. Sy het egter nie op die feite uitgebrei nie en net daarop klem gelê dat dit lyk of die beskuldigdes feite van haar weerhou het.

Volgens Fourie is die polisie ook steeds op die spoor van twee verdagtes wat ook met Barnard se moord verbind kan word.

Só verloop die gebeure

Die beskuldigdes Maandag by die landdroshof in Fochville. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Barnard se suster, Chantell Wheeler, het vroeër aan Maroela Media vertel Barnard het die aand van 3 Maart saam met vriende, haar broer en dié se vrou na The Boule Vard gegaan. Sy het alleen soontoe gery en het die ander daar ontmoet. Barnard se broer en sy vrou is net ná 23:00 huis toe.

Fourie sê volgens die videomateriaal is dit duidelik dat daar ’n konfrontasie tussen Pretorius (die kroegbestuurder) en Barnard ontstaan het. “In die video kan gesien word hoe Pretorius en Barnard mekaar met water, glase en ander voorwerpe gooi,” het Fourie getuig.

“Dit is ook duidelik dat Barnard toe die kroeg wou verlaat. Sy het na die deur gestap, waarna Pretorius haar van agter met ’n stoel en kussing gegooi het. Sy het teruggedraai om weer in te gaan, maar Doyle en Wienand het na die deur beweeg en Barnard gekeer. Hulle het haar na buite gestamp.”

Volgens Fourie is Pretorius na die kantoor waar hy toe die videokameras afgeskakel het. Hy is daarna terug na die area waar die stampery met Barnard aan die gang was. “Hy het aan Doyle gesê ‘jy kan maar voortgaan met die aanranding, want die videokameras is afgeskakel’.”

Fourie het getuig die kameras is na ongeveer 11 minute weer aangeskakel. Barnard het toe op die grond in die parkeerarea gelê.

Doyle en Scheepers het Barnard se broer geruime tyd later gebel en gesê Barnard is dronk en is nie by haar bewussyn nie. Hulle het Barnard toe na haar ma se huis – waar Barnard ook gewoon het – geneem.

Volgens Fourie moes die beweerde aanranding tussen 23:00 en 00:02 plaasgevind het. Die beskuldigdes het die perseel omstreeks 00:02 verlaat en omtrent 00:20 by Barnard se ma se huis stilgehou. Doyle, Wienand en Storbeck was glo saam met Barnard in haar (Barnard se) motor en Scheepers en Pretorius was in ʼn ander motor.

Fourie sê volgens een van die verklarings wat die verdagtes by die polisie ingedien het, het Storbeck in die motor vir Doyle gesê dat Barnard nie meer asem haal nie. Doyle het toe glo geantwoord dat hulle daaroor moet stilbly.

Barnard se ma het toe haar verskyning gemaak en Barnard is uit die motor gegooi.

Die borgtogverrigtinge gaan Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frikkels

Hierdie is koelbloedige moord! Die doodstraf moet heringestel wird.

Renier

Klink vir my die selle gaan n paar nuwe inwoners kry.

Annelie

Sluit hulle toe en gooi die sleutels weg.

sopbeen

Geweld teenoor vroue is onaanvaarbaar en dat daar selfs ander (3) vroue by betrokke was is kommerwekkend.

Denise

dus baie baie hartseer dat mense hulle hande so lig vir dames in n kroeg.. ek hoop hulle almal sit baie lank.. want as jou hande te lig is moet jy voel