Kameras werk nie waar taxi prokureur doodry

(Foto: SA Polisie)

Die Johannesburgse polisie het ʼn beroep op mense gedoen om na vore te kom met enige inligting oor die voorval waarin adjunkstaatsprokureur Tswaledi Sekwati (53) gesterf het.

ʼn Minibustaxi het Sekwati, wat swaksiende was, op 9 September om 06:40 op die hoek van Pritchard- en Kruisstraat doodgery. Sekwati, wat ʼn stok vir blindes gebruik het, is op die toneel voor die Johannesburgse hooggeregshof dood.

Supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het vroeër gesê ʼn saak van strafbare manslag is teen die taxibestuurder aanhangig gemaak. Die wit Toyota Siyaya-taxi is ook destyds geskut om ʼn padwaardigheidstoets te ondergaan.

Kapt. Xoli Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie rig nou ʼn pleidooi aan enigiemand wat die voorval sien gebeur het om die ondersoekbeampte in die saak te nader.

Geen straatkameras in die omgewing van die hooggeregshof, waar die voorval gebeur het, het ten tyde van die ongeluk gewerk nie, het Mbele gesê.

Maroela Media het vroeër berig Sekwati is beskryf as ʼn toegewyde staatsamptenaar en iemand met uitgebreide regskennis. Hy was vantevore onder meer ʼn spesiale raadgewer aan oudmin. Michael Masutha.

Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, het Sekwati ná sy dood as ʼn merkwaardige Suid-Afrikaner bestempel. Sy gesiggestremdheid was nooit ʼn hindernis nie en hy het bo dit alles uitgestyg om ʼn onberispelike staatsamptenaar te word, het Lamola toe gesê.

Die minister het gesê Sekwati se nederigheid en toewyding aan diens aan Suid-Afrikaners sal ʼn blywende herinnering aan hom wees.

Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om AO Leslie Lennox by 082 871 4876 of 011 497 7342 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ingozi ·

Wat anders as n taxi, moordwapen van wettelose bestuurders!

JohanR ·

Werk enigeiets in Suid Afrika!!?? Daar sal op die ou einde geen geregtigheid vir die man wees nie.

Maljan ·

Daar is nie een kamera buite werking op die paaie wat deur meestal blankes gery word nie.

Maljan ·

Daar is nie een kamera buite werking op die paaie wat deur meestal blankes gery word nie.

Heksie ·

Die taxi bestuurder moet aangekla word van moord, want daai voertuig is ‘n wapen in die verkeerde hande!

GL ·

Sterkte aan sy familie. N blinde persoon se wit stok beteken nie eers iets meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.