’n Man wat hom as ’n advokaat voorgedoen het, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 23 jaar tronkstraf gevonnis.
Die 50-jarige Dale Ronald Harmse is Woensdag gevonnis nadat hy vroeër skuldig bevind is op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortreding van die Wet op Regspraktyke deur voor te gee dat hy ’n praktiserende en geregistreerde advokaat is.
Harmse is op die aanklag van bedrog tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, vyf jaar op die aanklag van geldwassery en drie jaar tronkstraf op die oorblywende aanklagte.
Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê ’n klag is April 2020 teen die beskuldigde aanhangig gemaak nadat die klaer na Harmse verwys is en daar aangevoer is dat hy ’n “baie goeie advokaat” is wat hom in regsaangeleenthede kan bystaan.
Hulle het in Oudtshoorn bymekaargekom en Harmse het die klaer oortuig om ’n bedrag van R500 000 uit sy sakerekening na ’n sogenaamde trustrekening oor te plaas. Daar is later bevind die trustrekening was Harmse se eie rekening.
Die klaer kon in Maart 2020 nie sy werknemers se salarisse betaal nie en daar is toe ontdek dat die beskuldigde met die klaer se geld verdwyn het. Die polisie se ondersoek het vasgestel dat Harmse nie ’n geregistreerde regspraktisyn is nie.
Harmse is op 14 Desember 2020 in Krugersdorp in hegtenis geneem en na die Wes-Kaap geneem waar sy verhoor plaasgevind het.
Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom.