Kamma-eiendomsagent gevonnis oor bedrog

Argieffoto (Foto: Photo Mix/Pixabay)

Priscilla Zingiwe Molosiwa (63) is in die Mmabatho-streekhof gevonnis op drie aanklagte van bedrog.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) sê die beskuldigde het in September 2011 haarself as ʼn eiendomsagent voorgedoen. “Sy het ʼn huiseienaar verteenwoordig wat haar huis in Montshiwa wou verkoop. Molosiwa het ʼn koper gevind en die persoon het R200 000 in haar bankrekening inbetaal omdat sy haarself as die fasiliteerder van die transaksie voorgedoen het. Sy het egter die geld vir haarself gehou en nie die oordrag gedoen nie.”

Molosiwa het in Desember 2013 weer ʼn niksvermoedende slagoffer op dieselfde manier bedrieg. Ná die voornemende koper ʼn bedrag van R294 000 in haar rekening inbetaal het vir ʼn eiendom in Montshiwa, het sy slegs R100 000 na die verkoper oorbetaal en die balans vir haarself gehou, sê Rikhotso.

Sy het in Mei 2014 weer in dieselfde informele nedersetting toegeslaan met dieselfde modus operandi. Sy het nóg ʼn koper bedrieg wat R350 000 oorbetaal het om ʼn huis te koop.

“Die drie aanklagte van bedrog is deur die Valke ondersoek en daar is bevind dat die beskuldigde nie by die Raad op Eiendomsagente geregistreer is nie. Sy het op 26 Februarie 2019 vir die eerste keer in die Mmabatho-streekhof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R2 000.

Sy is op 14 Februarie 2022 skuldig bevind op drie aanklagte van bedrog en haar borgtog is teruggetrek. Sy is Vrydag gevonnis.

Op aanklag 1 en 2 is sy drie jaar tronkstraf elk opgelê en vyf jaar tronkstraf vir aanklag 3. Die hof het bepaal dat die vonnisse vir aanklag 1 en 2 gelyktydig saam met aanklag 3 uitgedien sal word. Sy sal effektief vyf jaar tronkstraf uitdien, het Rikhotso verduidelik.

ʼn Beslagleggingsbevel is ook bekom en sy moet voor 28 Julie 2022 hierop reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.