Kamma-polisie oorval egpaar op plaas

Die groep het hulle as polisiebeamptes voorgedoen wat vroeër ‘n verdagte aangekeer het. (Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Boer van Addo in die Oos-Kaap en sy vrou is die naweek in hul plaashuis vasgebind en die huis geplunder nadat ʼn groep mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, die egpaar oorrompel het.

Die 68-jarige man en sy 65-jarige vrou was Sondag omstreeks 16:30 tuis toe die vier verdagtes op die plaas aangekom en die deurklokkie gelui het, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Die man is na buite waar twee van die verdagtes in polisie-uniforms geklee was. ʼn Derde persoon het ʼn polisiehemp en ʼn paar jeans gedra, terwyl ʼn vierde man in burgerlike drag geklee was. “Nadat die boer na buite is, is hy ingelig dat die persoon in burgerlike drag ʼn verdagte is wat kabels op die plaas gesteel het.

“Die boer is gevra om saam met hulle na ʼn kanaal op die plaas te gaan sodat hulle dit kan inspekteer.”

Naidu sê een van die verdagtes het bly draal terwyl die ander drie saam met die boer weg is.

“Die verdagte is die huis in, het die vrou met ʼn vuurwapen gedreig en geld en vuurwapens geëis. Die ander verdagtes het saam met die boer teruggekeer nadat hy glo in die boorde aangerand is.”

Volgens die polisie is die egpaar vasgebind en in ʼn kamer toegesluit terwyl die groep verdagtes die huis geplunder het. Hulle het in die slagoffers se Toyota Fortuner gevlug nadat twee jaggewere, ʼn pistool en ʼn rewolwer, ammunisie, ʼn selfoon, ʼn skootrekenaar en ʼn verkyker gebuit is.

Die polisie het die Fortuner sowat 20 km van die plaas verlate aangetref.

“Die polisie raai gemeenskappe aan om waaksaam te wees vir misdadigers wat hulle as polisiebeamptes voordoen. Elke polisiebeampte het ʼn identifikasiekaart en ʼn naamplaatjie. As ʼn lid van die publiek is jy geregtig daarop om vir identifikasie te vra voordat jy enigiemand op jou perseel toelaat,” sê Naidu.

Die aanvallers is steeds op vrye voet en ʼn saak van huisroof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

George ·

Sal my nie verbaas as die “regte” polisie was nie. Ek sit reg in aanhalings, want daar bestaan nie so iets in die land nie.

Impact ·

Mens weet nie meer wie om te vertrou nie, die nuwe lede is net so skelm soos die skelms. Vertroue in die polisiediens is daar nie, die polisiemag was ‘n ander storie.

Vonkprop ·

Ag asseblief. Hulle is op die oomblik aggressief as jy vir enige identifikasie vra, of hulle nou regte polisie of boewe is. Hierdie raad van die woordvoerders help niks. Jou lewe is in gevaar maak nie saak wat nie.

George ·

yip, ekt al die fout gemaak en gevra, en as daar nie mense om my was nie, sou hulle my beslis gepeper het en in die wae gegooi het

Marcello ·

Jy is 100% reg oor die aggresiewe- tyd, ek het op ‘n staduim ‘n verkeersbeampte wat my voorgekeer het, gevra: Om homself te identifiseer, hy het sy kaartjie vir my gegooi, en aangegaan met wat hy besig was.

ES ·

Dis maklik om te se mens moet versigtig wees vir mense wat hul as polisie voordoen maar hulle het al die regte uitrusting, toerusting en voertuie – HOE moet mens hul uitken??

En wanneer jy vir ‘n “regte” beampte vra vir identifikasie, dan boelie en viktimiseer hulle jou omdat jy hul enigiets durf vra.

Johan ·

Ja, jy gaan bars want sodra jy vra vir identifikasie word jy beskou as rassisties.

Kobus ·

Boere, boere , boere. Hou op om so goedhartig te wees en almal te glo wie met julle praat. Hoe gebeur dit dat julle so goedsmoeds val vir die tipe van gebeure? Is daar nie meer boere vergaderings waar hierdie dinge bespreek word nie? Parraatheid is tog elkeen se eie verantwoordelikheid.

Vonkprop ·

Nie so maklik nie. As jy ‘n uniform sien is jy klaar in paniek, want jy weet nie wat is die rede hoekom hulle daar is nie. So jy gee maar jou samewerking met die hoop dat dit vreedsaam sal verloop. Ongelukkig is dit meeste van die tyd kriminele.

Marcello ·

Hoe op dees aarde moes hy weet dit is “fake” Polisie ?????

marius ·

Hoe naby moet jy wees om ‘ n naam plaatjie en ID kaart te lees . Dan moet jy die polisie bel om dit te bevestig en hulle antwoord nie hul fone nie . Belaglik !

Harley Davidson ·

Hoe sal n persoon weet ek sien suid afrika polisie as kriminele in uniforms en kriminele is nie bang vir polisie nie so wat staan n wetsgehoorsame burger te doen.

Renier ·

Meeste van die land se polisie,insluitend van Cele,doen hulle net voor as polisie,maar is eintlik kriminele.

Onnie ·

Nog n beter oplossing, is om glad nie polisie op jou privaat grond toe te laat nie. Fake of nie – hulle kan nie vertrou word nie.

Harley Davidson ·

Hulle kom net op my grond met ‘n lasbrief maar my plaas is omhein met geëlektrifiseerde heining en so ook my huis en store so as hulle by my voordeur staan dan het ons ‘n probleem.

OW ·

Lyk nie of daar enige sekuriteit rondom hierdie plaashuis was nie.Glo my dit is lankal opgemerk en detail beplanning is gedoen vir die misdaad.

Danie ·

Die area ook n probleem gebied wees waaksaam en moet niemand vertrou nie.As jy wil oorleef begin paraad optree dag en nag.

Piet parys ·

Sluit jou hekke laat hy jou nie verras nie en bel die polisie stasie om te bevestig of iemand gestuur is.
LIGGELOWIGHEID VAN BOERE MOET EINDIG ANDERS KOM JY 2DE.

Lillian ·

Na wat ek vandag gehoor het van ‘n fluitjie blaser oor korrupsie in die polisie, vertrou mens maar liefs geen polisielede nie, buiten dié wat jy persoonlik ken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.