‘Kamma-prokureur’ laat vaar borgtogaansoek

Brenda Wardle (Foto: Brenda Wardle, Twitter)

Brenda Wardle, die vrou wat haarself glo as ʼn prokureur voorgedoen en jare lank regsanalise aan die media verskaf het, het Woensdag haar jongste borgtogaansoek in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth laat vaar.

Wardle (56), wat haar eie regsverteenwoordiging behartig, het ook aan landdros. Lionel Lindoor gesê sy sal nie volgende week gereed wees om met die verhoor te begin nie. Sy het nie redes hiervoor gegee nie. Die landdros het gesê Wardle sal by haar volgende hofverskyning redes moet verskaf hoekom sy nog nie gereed is om met die verhoor voort te gaan nie.

Wardle het langer as ʼn jaar die gereg ontduik voordat sy in Junie in Oos-Londen in hegtenis geneem is. Haar aansoek om borgtog is geweier.

Wardle het verlede maand tydens haar hofverskyning ook gesê sy is nie gereed om met die verhoor voort te gaan nie. In Augustus het sy gekla sy sukkel met haar gesondheid terwyl sy in die gevangenis aangehou word. Sy het ook gekla oor die toestande in die gevangenis en gesê sy het nie toegang tot die nodige hulpbronne wanneer sy in aanhouding is nie.

Wardle het bekendheid verwerf toe sy tydens die opspraakwekkende moordverhoor van Oscar Pistorius regsanalises vir verskeie nuusorganisasies gedoen het. Die SAUK en die BBC het in hierdie tyd met haar onderhoude gevoer. Sy het glo ook ʼn boek gepubliseer, genaamd To Kill a Fragile Rose: The State’s Case Against Oscar Leonard Carl Pistorius.

Op Wardle se LinkedIn-profiel beweer sy sy het twee jaar lank regte by Unisa studeer.

Sy word van bedrog aangekla wat verband hou met regsdienste wat sy glo aan ʼn veroordeelde moordenaar gebied het. Die staat beweer Wardle is van April 2009 tot Augustus 2014 altesaam R538 766 betaal om Stephanus van Aardt, ʼn gevangene, by te staan met ʼn aansoek om vroeë vrylating op parool.

Die staat voer aan Wardle het haarself as ʼn prokureur voorgedoen, maar het nie Van Aardt se aansoek om vroeë vrylating ingedien nie.

Van Aardt, ʼn melkboer van Somerset-Oos, is in 2007 skuldig bevind op aanklag van moord, en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding en moord op die 15-jarige Eliot Magabane. Hy was as gevolg van Wardle se beweerde versuim om die aansoek in te dien nie geregtig op ʼn verkorting van sy tronkstrafvonnis nie.

Wardle sal op 10 Oktober weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werries ·

Dit kom as jy te veel suits kyk. Die vrou dink sy is Mike Ross
Hahahahahah

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.