Talle kampeerders moes vir rookinaseming behandel word ná ʼn veldbrand naby ʼn kampeerterrein in Parys in die Vrystaat uitgebreek het.
“Paramedici van ER24 en die provinsiale brandweer het reageer op die noodroep,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Die kampeerterrein is ongeveer 10 km buite Parys geleë.”
ʼn Groot brand het in die veld langs die kampeergrond uitgebreek.
“Paramedici het dadelik die kampeerders ontruim terwyl brandbestryders die vlamme probeer blus het,” het Meiring bygevoeg.
Die persone is vir geringe rookinaseming behandel. “Gelukkig het niemand enige ernstige beserings opgedoen nie.”
Die brand is ná ʼn paar uur geblus.
“Die oorsaak van die brand is nog nie duidelik nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in,” het hy gesê.